Koffieslawe sal dol wees oor hierdie maklike weergawe van die Italiaanse gunsteling. En mense wat nie koffie drink nie, sal waarskynlik van plan verander.
Genoeg vir 9 mense
Bereiding: 15 min.
Verkoel: oornag
375 ml (1½ k) sterk koffie, afgekoel
250 ml (1 k) Cape Velvet-likeur
300 g vingerkoekies
2 eiers, geskei
125 ml (½ k) strooisuiker
500 g mascarpone-kaas
10 ml (2 t) kakaopoeier
- Meng die koffie met 180 ml (¾ k) van die likeur in ’n vlak bak. Doop die koekies in die vloeistof tot alkante klam, maar nie pap nie. Voer ’n bakpan van 18 x 30 cm met ’n laag koekies uit.
- Klits die eiergele en strooisuiker tot vaal. Vou die oorblywende likeur en die mascarpone-kaas in om ’n mousseagtige konsistensie te vorm.
- Klits 1 eierwit tot sagtepiek-stadium. Vou by die mascarpone-mengsel in en smeer die helfte van die mengsel oor die koekies.
- Herhaal met nog ’n laag klam vingerkoekies en bedek met die oorblywende kaasmengsel.
- Bedek en verkoel oornag. Sif die kakaopoeier bo-oor net voor jy dit voorsit.