Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Hartskos vir die winter

$
0
0

Mari-Louis en Callie Martiz logo kalm terwyl dit weergalm

’n Heerlike ryk skaapskenkelsop is maar een van die smullekker resepte wat ons kosskrywer Mari-Louis Guy tussen ’n paar lekkerlees-vertellings deur deel.

Rol af of klik hier om die resepte te sien

Trooskos met kaneel

Lamskenkelsop met ’n Marokkaanse geur

Partytjieworsies

Gebakte groente met ’n slap degie

Hoenderlewerpatee met groenpeperkorrels

Rol af of klik hier om Nina Timm se kookboek te wen

ONS DEKADE VAN DIK WEES

Dis tyd om te erken wat ek in ander se oë sien. Ek is, soos my broer Callie my gereeld herinner, al ’n volle 10 jaar lank dik. Darem seker nie so dik dat ek swaar loop en kreunend opstaan nie, maar ongesond rond. My spieël lag vir my.

My lewe is dalk te lekker, omring soos ek is deur joviale vriende, wynmakers en sjefs. As kosstilis werk ek elke dag met stapels van die beste en nuutste bestanddele en lekkergoed. Met elke happie oortuig ek my dat ek net seker maak die resep is soos hy behoort te wees. En immers is ek tog op soek na die lekkerste melktert, koeksister, tert, sop, broodjie, wyn, whisky – die lys is lank en die nuuskierigheid selfs groter. Navorsing kan ek dit lankal nie meer noem nie.

Dr. Hennie Roux, die destydse arts op ons grootworddorpie aan die Weskus, het tot die groot irritasie van ’n vriendin van my ma gesê: “Nee, jy het geen klierprobleme, kosallergieë of ’n lae metabolisme nie. Jy is maar net vet van te veel en te lekker eet. Elke pondjie gaan deur die mondjie.”

Die waarheid is maar wreed.

Ek vind troos in die feit dat ons ma, wat nou weer rietskraal is, ook in haar veertigs goed gestoel het. Voor ons oë het sy elke week net ronder geword, en dan ná ’n week van vas en vals diëte in die rondte getol en haarself geprys oor die verlies van 2 kg. Die altyd reguit Callie het dan opgemerk dat die wiskunde van 4 optel en 2 afval nooit uitwerk nie.

Callie is self natuurlik nou ook nie meer ’n alte lenige figuur nie. Die T-hemde span maar koddig oor ’n midrif wat van noord na oos, en van suid na wes geskuif het . . .

Die broer-en-susterspan Mari-Louis Guy en Callie Maritz. Foto: Martin de Kock

Ingeval jy nog gewonder het hoekom ek en Callie so uitsit . . .   Foto: Martin de Kock

Nee kyk, dik is dik en ons is dit nou!

My skoolreünie wag om die draai en ek wil darem herkenbaar lyk. Vandeesweek trek ek dus my my drafstapskoene aan en begin met joga (maar ek gaan heel agter in die klas wegkruip).

Ek kannie, willie, gaanie ooit koek opoffer nie ( in Callie se geval is dit bier), maar ons gaan probeer om dit net per geleentheid te geniet en nie meer as ’n basiese voedselgroep te beskou nie.

Ons hoop is dat as ons al die lesers as getuies gebruik, ons dalk net by ons voornemens gaan hou, al is dit net oor die skaamte om so in die openbaar te misluk.

Ons groet dus nou vir eers alle brood, suiker, alles wat wit is (behalwe jogurt en blomkool), asook daardie sewe soet koppies koffie per dag. Die huis se koskaste is reeds gestroop van al die bogenoemde. As die lewe so druk dat ons ’n gaatjie in die siel wil toe eet, gaan ons klein handjies vol gesonde happies soos seldery, biltong, bessies en neute daarin stort.

Jip, Sus en Daan is aan die verdwyn. Ons gaan rockstar-mooi word. Hou ons dop.

NS Moet ons net asseblief nie hiermee konfronteer as jy ons op ’n sosiale geleentheid raakloop nie. Matigheid kom nie vir ons van nature nie en ons vermoed dat ons op ’n partytjie die sluise maar goed gaan oopdraai.

Trooskos wat nie vet maak nie

Ons vind dat kaneel ’n groot deel uitmaak van ons winter-trooskos. Dink aan pannekoek, melkkos en pampoenkoekies.

Pleks daarvan maak ek nou saans vir my ’n glas melk warm met ’n kaneelstokkie in en het vreemd genoeg vinnig liewer daarvoor geword as vir koffie, tee of ander warm drankies.

Callie meng weer allerhande neute, sade en gedroogde kokosneut wat hy dan toegooi onder kaneel voor hy dit rooster. Agterna voeg hy so ’n hand vol goji-bessies en gedroogde appelliefies by. Dit word dan sommer net so aan gesnoep of oor jogurt voorgesit vir ontbyt.

Trooskos met kaneel jogurt melk

Foto: Matthys Van Lill (Mattphoto.com)

ONS HOU PARTYTJIE OP VRYDAG DIE 13DE

Vrydag 13 Junie was ons ma, Este, se verjaardag. Haar geboorte was ook op ’n Vrydag die 13de en dit klink toe vir ons na ’n gulde geleentheid vir ’n partytjie.

Gewoonlik is dit maar moeilik om vir haar ’n geskenk te koop en in die verlede het ons graag geskenkbewyse van al haar gunsteling-winkels gegee. Maar met dié het sy nooit iets vir haarself gekoop nie, net vir die kleinkinders. Sy het genoeg sepies en badkamergoed tot die einde van die eeu en geld het ons ongelukkig nie om vir haar ’n blink nuwe Benz te koop nie.

Maar ’n paar talente het ons darem en dié span ons toe in om kos te maak.

Callie het sy immer gewilde labneh (kaas van jogurt) gemaak en dit met by die 20 speserye, neute en bessies gegeur.

Daarby het ek ’n Engelse uiesop gemaak met gruyère-broodjies. Die lamskenkelsop met ’n Marokkaanse geur was egter die groot wenner van die partytjie.

En dan is daar natuurlik my gewilde partytjieworsies wat ek altyd prakseer vir watter partytjie ook al.

Este self het bygedra met die allerheerlikste springbok-fynvleisgereg.

Koek moes daar natuurlik ook wees: rooifluweel-en-rumkoek uit ons eerste boek, (Koeke ter Viering van Liefde en Lewe) en `Buckle` uit Markdag. Die drie koeke het ek sommer so in die bakplate voorgesit. Niks sê tog “tuisgemaak” beter as dit nie!

Este het dié slag besluit om net vriendinne te nooi en by hierdie 30-stuk vroue kan jy baie leer van samesyn en saamlag. Ek wil darem dink dat ons kos iets met die joligheid te doen gehad het . . ..

My ma is die een met die helderblou baadjie in die foto heel bo links. Foto’s:Freda Roetjens (www.fredaroetjensphotographer.com)

Lamskenkelsop met ’n Marokkaanse geur

Lamskenkelsop

Foto: Matthys Van Lill (Mattphoto.com)

500g lamskenkels
2 e olyfolie
sout en peper
2 uie, gekap
6 knoffelhuisies, grof gekap
1 t komynsaad
1 t paprika (soet, nie gerook)
1 lourierblaar
3-4 k biefaftreksel (ons gebruik vloeibare Nomu of Ina Paarman)
2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
3 e tamatiepuree
3 kaneelstokkies
2 e harissa-pasta
2 blikke (410 g elk) kekerertjies
1 blik (410 g) lensies
hand vol gerasperde suurlemoenskil en gekapte vars koljanderblare

Griekse jogurt, gemengde neute wat in botter gebraai  is en ekstra suurlemoenskil en koljanderblare vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 ºC.

1 Vryf die lamskenkels met die olie in en geur met sout en peper.

2 Bak in die voorverhitte oond tot lekker bruin.

3 Voeg die uie, knoffel, komynsaad en paprika by, roer goed deur en bak verder tot die uie ook sag is en gekaramelliseer het.

4 Giet alles – die pansappe ook – in ’n groot kastrol. Voeg die lourierblaar en 3 koppies aftreksel by. Bring tot kookpunt en laat 30 minute prut.

5 Voeg die tamaties en tamatiepuree by en laat verder prut tot die vleis heerlik sag is.

6 Roer die kaneelstokies, harissa-pasta, kekerertjies en lensies by. Laat nog ’n rukkie prut en proe vir geur. Voeg die laaste koppie beesvleisaftreksel by indien nodig.

7 Roer die suurlemoenskil en koljanderblare net voor opdiening by.

8 Sit voor saam met dik Griekse jogurt, gemengde neute wat in botter gebraai  is en ekstra suurlemoenskil en koljanderblare

Partytjieworsies
Dis ons weergawe van die Kaapstadse spysenier Karen Dudley se mosterdworsies. Jy het houstokkies hiervoor nodig.

Partytjieworsies

Foto: Matthys Van Lill (Mattphoto.com)

2 pakkies varkworsies
1 e olie
½ k gouestroop of heuning
¼ k soetrissiesous
¼ t brandrissievlokkies
pienk peperkorrels vir garnering

Voorverhit die oond tot 180 ºC.

1 Vryf die worsies met die olie in.

2 Pak op ’n bakplaat en bak sowat 10-15 minute tot goudbruin en opgepof. Haal uit die oond en laat effens afkoel.

3 Meng die gouestroop en soetrissiesous en brandrissievlokkies.

4 Bedruip die worsies met die helfte van die sous en bak dan verder tot deurwarm. Draai die worsies om en bedruip met die res van die sous.

5 Sny elke worsie in die helfte en smeer met van die sous wat in die pan agtergebly het.

6 Steek ’n stokkie deur elkeen en garneer met pienk peperkorrels.

ONS SMUL SAAM MET NINA TIMM

Ons het onlangs die eer gehad om saam met die blogger en koskenner Nina Timm aan ’n praatjie op RSG deel te neem. Voor die tyd gesels ons oor haar blog en sy sê van al haar resepte het haar slap degie die meeste trefslae ooit gekry.

Natuurlik moes ek dit dadelik uittoets. Slap degies is van kleins af een van my gunstelinge. Ek was nog nooit ’n groot vleiseter nie en my ouma het gou geleer ek smul wel saam as sy ’n slap degie daaroor sit. Hieronder het ek dit oor ’n murgpampoentjie-gebak gegooi./a>

Callie het Nina se hoenderlewerpatee met groenpeperkorrels gemaak. Twee keer. Die eerste keer was dit vir hom so lekker dat hy nooit by die patee maak uitgekom het nie, hy het daar en dan die lewertjies heel opgeëet.

Dié  resep verskyn in haar boek Maklike Maaltye uit Nina se Kombuis. Die gawe mense by Struik Lifestyle het ingestem om drie eksemplare van die boek weg te gee.

Gebakte groente met ’n slap degie

(my slap degie is ’n variasie van Nina Timm s’n)

Gebakte groente met 'n slap degie

Foto: Matthys Van Lill (Mattphoto.com)

500g murgpampoenjies en vlapampoentjies, in die lengte deurgesny
3 uie, in kwarte gesny
gekapte knoffel
olyfolie
sout en peper
1 eier
sout en peper
¼ – ½ k melk
1 k bruismeel
knypie suiker
¼ k gerasperde parmesaankaas

ekstra gerasperde parmesaankaas, geroosterde kersietamaties (opsioneel) en vars gekapte mentblare vir voorsit
 

Voorverhit die oond tot 180 ºC.

1 Vryf die murgpampoentjies, vlapampoentjies en knoffel goed met olyfolie in, strooi sout en peper oor en bak 10 minute in die voorverhitte oond.

2 Breek die eier in ’n maatkoppie. Voeg die ½ koppie olie by en vul die maatkoppie tot bo met die melk.

3 Meng die bruismeel, ’n knypie sout, suiker en gerasperde kaas in ’n mengbak.

4 Voeg die vloeistof by en meng tot dit ’n slap degie vorm. Die beslag moet loperig wees; voeg dus die oorblywende melk by indien nodig.

5 Giet die deeg oor die groente en bak nog  25-30 minute.

6 Sit voor saam met ekstra gerasperde parmesaankaas, geroosterde kersietamaties (opsioneel) en vars gekapte mentblare.

Hoenderlewerpatee met groenpeperkorrels

Dié patee is heerlik saam met warm geroosterde plaasbrood en piekels.

Hoenderlewerpatee

15 ml olyfolie
1 middelslag-ui, geskil en fyn gekap
2 huisies knoffel, geskil en fyn gekap
500 g hoenderlewers, skoongemaak en oornag in water in die yskas gelaat
15 ml brandewyn
15 ml Madeirawyn of port
10 ml gekapte vars tiemie of origanum
sout en peper na smaak
sap van 1 suurlemoen
100 ml vars room
100 ml gesmelte botter
100 ml heel groenpeperkorrels
100 ml gesmelte botter (smelt hierdie  botter eers nadat die patee gestol het)
kappertjiesade, granaatpitte, kersies en heel pienk peperkorrels vir garnering

1 Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die ui ’n paar minute tot dit begin verbruin.

2 Voeg die knoffel by. Wanneer die ui en knoffel sag is, voeg die hoenderlewers by en braai 8-10 minute tot die lewertjies bruin buiteom is maar steeds ’n bietjie pienk aan die binnekant.

3 Giet die brandwyn en Madeirawyn of port oor die hoenderlewers en steek aan die brand.

4 Wanneer die vlam uitgebrand het, voeg die tiemie of origanum, sout, peper en suurlemoensap by. Proe en pas die geure aan indien nodig.

5 Skep die mengsel in ’n voedselverwerker en pols tot glad.

6 Voeg die room, 100 ml gesmelte botter en groenpeperkorrels by en meng met die hand.

7 Voer ’n klein broodpannetjie met kleefplastiek uit en giet die patee daarin. Plaas oornag in die yskas tot gestol.

8 Giet die ander 100 ml gesmelte botter oor die gestolde patee. Laat die botter hard word voor die patee gesny word.

9 Sny in dun skyfies en sit voor gegarneer met kappertjiesade, granaatpitte, kersies en pienk peperkorrels.

WEN!

Maklike maaltye uit Nina se Kombuis

Drie lesers sal elk ’n eksemplaar wen van Maklike Maaltye uit Nina se Kombuis. SMS KOMBUIS, jou naam, adres en die antwoord op ons vraag na 34922 om vir die boek in aanmerking te kom. Die sluitingstyd is 17:00 op 13 Julie 2014. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. Vraag Wie is die skrywer van Maklike Maaltye uit Nina se Kombuis?

– Mari-Louis

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>