Terwyl alle oë by vanjaar se Wimbledon-tenniskampioenskap op die wêreld se voorste tennisspelers is, wapper ’n hand vol Suid-Afrikaners hul landsvlag ook in die vier hoofkategorieë, die mans- en vroue-enkelspel en die mans- en vrouedubbelspel.
Die toernooi begin Maandag 23 Junie.
Kevin Anderson is Suid-Afrika se enigste hoop in die mansenkelspel, en is 20ste gekeur. Hoewel hy vanjaar al die vierde ronde van die Australiese en Franse Ope gehaal het, kon hy nog nooit by Wimbledon verby die derde ronde vorder nie.
“Ek wil elke dag verbeter – en dit kos harde werk,” het Kevin (28) vir livetennis.com gesê.
“Ek dink definitief ek kan die top-10 haal, maar dis nie ’n doel waarvoor ek ’n sperdatum gegee het nie. As ek alles gee, sal dit vanself kom. Ek voel dis al amper binne my bereik.”
Hy kom Maandagmiddag om halfvier in die eerste ronde teen die ongekeurde Sloween Aljaž Bedene te staan. As hy sy peil van die afgelope jaar ewenaar, behoort Kevin spotmaklik verby sy eerste twee hekkies te vorder tot hy in die derde ronde moontlik teen die 16de gekeurde Italianer, Fabio Fognini, ordentlik sy spiere sal moet bult.
In die vroue-enkelspel ding SA se Chanelle Scheepers op haar eentjie mee teen die wêreld se bestes. Chanelle (30), wat in 2010 tot die vierde ronde van die Franse Ope gevorder het, het die afgelope vier jaar in die eerste ronde van Wimbledon se vroue-enkelspel vasgeval.
Sy kan die ongekeurde jongeling Christina McHale moontlik Dinsdagoggend om elfuur klop, maar selfs dan sal haar kopseer eers begin omdat sy in die tweede ronde moontlik teen die eerste gekeurde Amerikaner, Serena Williams, te staan sal kom.
Chanelle het ’n beter kans om oorwinning in die vrouedubbelspel. Verlede jaar het sy saam met haar dubbelspelmaat Shuko Aoyama tot die halfeinstryd van die toernooi gevorder – haar beste vertoning nog in ’n Grand Slam-toernooi. Dié jaar span Chanelle wel kragte met die Rus Vera Dushevina. Sy sal hopelik met haar nuwe dubbelspelmaat op haar sukses in verlede jaar se toernooi kan bou en moontlik ’n dubbelspeltitel kan verower. Hul eerste wedstryd is eers later vandeesweek teen die ongekeurde Annika Beck van Duitsland en Kurumi Nara van Japan.
In die mansdubbelspel is SA se Raven Klaasen honger vir sy eerste Grand Slam-titel. Hy en sy Amerikaanse dubbelspelmaat, Eric Butorac, was vanjaar die naaswenners in die Australiese Ope en is nou by Wimbledon 13de gekeur.
“Ons sien uit na Wimbledon,” het Raven (31) aan sport24.co.za gesê. “Ek en Eric hou baie van die grasbaan.”
Hul eerste wedstryd is ook later vandeesweek teen die ongekeurde Ryan Harrison en Kevin King, albei van Amerika.
Dit is nog onbekend of enige Suid-Afrikaners in die gemengde dubbelspel, junior mansenkelspel, junior vroue-enkelspel of die rolstoel-afdeling meeding. Dié besonderhede word eers oor ’n paar dae bekendgemaak.
- Christiaan Boonzaier
Ekstra bron: wimbledon.org