Volgens ’n onlangse nuusberig kan Eskom nie waarborg dat die krag dié winter deurentyd gaan aanbly nie omdat die kragnetwerk onder druk verkeer.
Dit is goed om voorbereid te wees en in die winter kragonderbrekings en beurtkrag te verwag.
Buiten dat jy jou kragverbruik (veral saans van vyf tot nege) moet verminder, kan jy ongebruikte toestelle ontkoppel, gas- pleks van elektriese verwarmers gebruik en warm bly met komberse. Hier is nog oorlewingswenke vir kragonderbrekings:
- Plak die voorgestelde beurtkragtye teen die koelkas sodat jy genoeg tyd sal hê om jou voor te berei.
- Alarmstelsels, motorhuisdeure en elektriese hekke werk gewoonlik met elektrisiteit; maak dus seker al dié items het goeie noodbatterye. Wees versigtig as jou alarm nie ’n noodbattery het nie. Oorweeg dit om ’n mobiele paniekknoppie te koop wat gekoppel is aan ’n betroubare noodreaksiemaatskappy.
- Hou jou selfoon byderhand as jy gewoonlik met ’n koordlose foon werk.
- Gebruik LED-gloeilampe met ’n herlaaibare battery. Tydens ’n kragonderbreking kan jy gou-gou die battery aan die gloeilamp koppel vir lig.
- Maak seker jou rekenaar, skootrekenaar, selfoon of iPad se battery is vol gelaai sodat jy dit steeds kan gebruik.
- Hou ’n olielamp, flitslig, battery-aangedrewe lig, lantern of draagbare lig byderhand. Maak seker dit is vooraf gelaai en hou dit op meer as een maklik toeganklike plekke in jou huis. Maak ook seker daar is genoeg batterye.
- Maak ’n termosfles vol kookwater vir ’n koppie koffie of tee tydens die onderbreking.
- Koop ’n draagbare kragopwekker as jy kan. Leer dit veilig gebruik en toets dit maandeliks. Maak seker jy het genoeg brandstof vir minstens ’n maand.
- Die inhoud van jou koelkas en vrieskas behoort oornag te hou as jy nie die deur aanhoudend oopmaak nie.
Bron: Dial Direct Insurance