Michael Schumacher se herstelpad het blykbaar ’n nuwe rigting ingeslaan; hy is van die hoësorgeenheid na ’n rehabilitasiesaal verskuif, berig die gewilde Duitse weeklikse tydskrif Bunte.
Die Abendzeitung in München het ook anonieme mediese bronne aangehaal wat sê hy is binne die hospitaal verskuif.
As dit waar is, beteken dit die kans is skraler dat Michael (45) aan sy beserings kan beswyk, maar dit is steeds nie bekend in watter toestand hy nou is nie.
Dit is vier maande sedert dokters aangekondig het hulle gaan hom uit sy geïnduseerde koma begin ontwaak. Hy is ná sy ski-ongeluk op 19 Desember verlede jaar in die Franse Alpe in die koma geplaas.
Maar kenners meen as hy gaan wakker word, sou dit al gebeur het.
Mediese bronne het al gesê daar sou ’n tyd kom dat dokters Michael se vrou, Corinna, broer, Ralf, en pa, Rolf, moet inlig dat hulle medies gesproke niks meer vir hom kan doen nie.
Sy verskuiwing na die rehabilitasiesaal beteken hy gaan steeds die masserings- en spierterapie ontvang wat hy daagliks kry, maar dokters verwag nie meer ’n merkbare verbetering in sy toestand nie, veral wat korttermynvordering betref.
“Michael se oorplasing na ’n spesiale rehabilitasiekliniek word voorberei en sy kans vir volkome herstel is laer,” het Bunte berig.
Michael se bestuurder, Sabine Kehm, het nie oor die berig kommentaar gelewer nie.
Dit is al meer as vyf maande sedert Michael se ongeluk by die Franse ski-oord Meribel in die Franse Alpe.
Bronne: Daily Mail, Bunte