Die ontvoerde Suid-Afrikaner Pierre Korkie is ’n derde keer in Jemen gesien, het die organisasie Gift of the Givers Dinsdag gesê.
“Ons het inligting van stamleiers ontvang dat Pierre Korkie die derde keer gesien is tydens die voortgesette oorlog tussen die Jemense weermag en Al-Kaïda in Jemen,” het die organisasie se hoof, Imtiaz Sooliman, in ’n verklaring gesê.
“Hy is Maandag tussen die Marib- en Sjabwha-provinsie gesien.”
Hy was dié keer saam met ’n Britse gyselaar. Die toestand van sy gesondheid is nie bekend nie.
Volgens Imtiaz is Pierre die eerste keer in laat April saam met ’n gyselaar van Sierra Leone gesien. Hulle is verskuif van die Abjan-provinsie, ’n Al-Kaïda-vesting, na die Albaidah-provinsie.
Pierre is die tweede keer op 28 Mei gesien tussen die Albaidah- en Marib-provinsie.
Militante het Pierre en sy vrou, Yolande, in Mei verlede jaar in Taiz, Jemen, gevange geneem. Ten tye van die ontvoering was Pierre ’n onderwyser in Jemen terwyl sy vrou in hospitale hulp verleen het.
Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer. Gift of the Givers het haar vrylating help onderhandel.
Die ontvoerders het sowat R32 miljoen geëis in ruil vir Pierre se veilige terugkeer.
Gift of the Givers het deur die wêreldmedia met Al-Kaïda probeer kontak maak en ’n onderhoud rondgestuur met hul kantoorbestuurder in Jemen, Anas al-Hamati.
Anas was verplig om Jemen einde Januarie te verlaat vir sy eie veiligheid nadat Al-Kaïda hom daarvan beskuldig het dat hy die losprys gesteel het.
Stamleiers in Jemen het toe die gesprekke met Al-Kaïda oorgeneem.
Op 25 Februarie het stamleiers uitgevind Pierre lewe nog, maar sy gesondheid is swak. Sedertdien is geen inligting oor sy toestand beskikbaar nie.