Genoeg vir 6 Mense
Bereiding: 30 minute
Verkoeltyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur
DEEG
300 g botter by kamertemperatuur
1 eier
2 eiergele
550 g (4 k) koekmeel
2 ml (½ t) sout
30-45 ml (2-3 e) koue water
VULSEL
50 g botter
250 g gerookte ham of spekvleis, in blokkies gesny
450 g preie
250 g bruinsampioene, in skywe gesny
125 g gruyère-kaas of sterk cheddarkaas, gerasper
50 g pecorinokaas, gerasper
sout en peper
30 ml (2 e) heelkorrelmosterd
100 ml suurroom
1 eiergeel, geklits
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Spuit ’n tertbord met kossproei.
- DEEG Verwerk die botter, eier en eiergele in ’n voedselverwerker tot lig en romerig. Voeg die meel en sout by en pols saam tot die deeg net bymekaarkom. Voeg die koue water by en pols tot ’n deeg vorm. Verdeel die deeg in twee en bedek met kleefplastiek. Verkoel minstens 30 minute.
- Rol die een helfte van die deeg uit en voer die tertpan daarmee uit. Prik die deeg met ’n vurk en bak sonder vulsel 10-15 minute (lees die wenk). Laat afkoel.
- VULSEL Verhit die botter en braai die ham of spek tot bros. Skep uit en hou eenkant. Skep die preie en sampioene in dieselfde pan en roerbraai 10 minute tot gaar. Verwyder van die hitte, roer die kaas by en geur met sout en peper.
- Versprei die helfte van die mengsel in die tertkors, gevolg deur die ham. Behou ’n rand van 1 cm om die kors.
- Meng die mosterd en suurroom saam, geur met sout en peper en versprei oor die ham. Skep die orige sampioenmengsel
- oor die mosterdsmeer.
- Verf die tertkorsrand met water. Rol die oorblywende deeg uit en bedek die vulsel. Druk die deeg om die kante vas en verf die pastei liggies met die geklitste eiergeel. Steek ’n gaatjie in sodat die stoom kan ontsnap. Bak 35 minute tot goudbruin en gaar. Sit warm of koud voor.
WENK
Hoe om sonder vulsel te bak: Voer die ongebakte kors met bakpapier uit en vul met droë bone. Bak 10-15 minute. Verwyder die papier en bone.
Janet Shelford van Johannesburg het hierdie heerlike resep met ons gedeel.