Riaan Manser en sy meisie, Vasti Geldenhuys, is in die pylvak van hul uitmergelende roeitog.
Die avontuurlike paartjie, wat op 30 Desember verlede jaar uit Marokko begin roei het onderweg na New York, hoop hulle sal teen Maandag die Groot Appel bereik.
“Dis baie moeilik om te sê persies wanneer hulle daar gaan aankom, want die wind kan hulle terugdruk en dan hulle tyd verloor,” sê Karen Jurgens, hulle woordvoerder in Suid-Afrika.
Hulle het sedert hul vertrek uit Miami ’n paar terugslae beleef. Die seewater-ontsoutingsmasjien het gebreek, asook die meganisme wat die roer aan die agterkant van die boot beheer. Dit veroorsaak baie meer stres vir hulle omdat hulle nou heeltyd op die GPS moet seker maak of hulle in die regte rigting roei.
Hulle het gelukkig Sondag water van die Deense tenkskip Maersk Elliot gekry en het nou glo genoeg water om New York te haal.
Riaan en Vasti het slegs sowat 345 km (190 seemyl) van die 10 765 km oor tot die einde van hul bestemming.
Marelize Potgieter