Getuienis wat die hare laat rys, is vanoggend gehoor tydens die borgaansoek van die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou en vyf kinders in hul huis in Springs aangehou en aangerand het.
Terwyl die ondersoekbeampte ao. Rudi Jansen vertel het van die grudade wat die afgelope twee weke in sy ondersoek aan die lig gekom het, het die beskuldigde elke af en toe trane afgevee. Daar was selfs een of twee keer dat hy sy kop geskud het.
Rudi het getuig die man het op sy 11-jarige seun gaan sit en hom met die vuis geslaan, hy het die seun in die sitkamer aan sy voete opgehang en as die seun vra om losgemaak te word, is hy glo met pepersproei in die gesit gespuit.
Die seun is ook glo in die swembad gegooi, al kan hy nie swem nie. Sy kop is ook na bewering in die badkamer onder water gedruk. Nog bewerings is dat die man die seun in hul huis rondgegooi het.
Terwyl Rudi getuig het, kon aanmerkings soos “sjoe” en “gee hom net vir my” uit die galery gehoor word.
Die man se dade het voorverlede week aan die lig gekom juis toe die seun vir nog ’n hou gekoes het en toe besluit het om na die bure weg te hardloop. Die bure het die seun aan sy pa terugbesorg, maar het die volgende oggend die polisie ontbied.
Die polisie het meer as drie dae lank na die seun gesoek. Die pa, wat hom as vermis aangemeld het, het die seun eers onder ’n bed en toe in die plafon van ’n buitekamer weggesteek voor hy hom na familie in Warden in die Vrystaat geneem het.
Rudi het getuig die pa het gehuil terwyl die polisie sy seun gesoek het, al het hy geweet waar die seun is. Toe die pa die Vrydag in hegtenis geneem is, het die ma geknak en die polisie vertel waar die seun was.
’n Klag van verkragting is ook vanoggend gevoeg by die bestaande klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer, poging tot moord en regsverydeling.
Rudi het getuig dié aanklag kom nadat die man se vrou ’n verklaring afgelê het. In die verklaring het sy vertel hoe sy ook onder die man se vuiste deurgeloop het.
“Wanneer die man by die huis gekom het en hy wou gemeenskap hê en sy wou nie, het hy haar geslaan tot sy ingestem het,” het Rudi getuig.
Hy het verder getuig dat as die vrou ingemeng het terwyl die man die kinders aangerand het, “het sy ook pak gekry”.
Die man se prokureur, ene Van Eck, het gesê die vrou het besef sy is aandadig aan die misdade en sal enigiets sê om haar van die saak te distansieer.
Volgens Rudi wys die 11-jarige seun en die 16-jarige dogter se mediese verslae dat hulle baie beserings het. Die seun se een verslag noem 16 beserings en in die ander verslag word sy beserings gelys van A tot W.
Tog sukkel Rudi om in hierdie stadium inligting uit die dogter te kry, want sy beskerm haar pa. Die seun vertel van verskeie voorvalle, maar kan nie die dag en datum onthou nie. Hy weet nie eens wanneer sy verjaarsdag is nie.
Land. Roy le Roux het die saak tot môre uitgestel, wanneer hy ’n uitspraak in die borgaansoek sal lewer.
- Hilda Fourie