Die Pistorius-familie het Woensdag gesê hulle vertrou die Suid-Afrikaanse regstelsel sal verseker die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se verhoor is regverdig.
Regter Thokozile Masipa het gelas Oscar moet vir psigiatriese waarneming verwys word.
“As ’n familie is ons vol vertroue oor die deeglikheid en detail van hierdie uitspraak en regter Masipa se verbintenis daartoe om elke moontlikheid te oorweeg en so ’n regverdige verhoor te verseker,” het die Paralimpiese atleet se oom Arnold Pistorius buite die hooggeregshof in Pretoria gesê.
“Dit herbevestig ons vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel.”
Masipa het gesê sy weet dié proses gaan nog oponthoud veroorsaak, maar het bygevoeg dit gaan oor geregtigheid, nie gerieflikheid nie.
Sy het gesê die idee is nie om Oscar te straf nie, en die moontlikheid dat hy ’n buitepasiënt kan wees, moet ondersoek word.
Die forensiese sielkundige dr. Merryll Vorster het Maandag getuig Oscar ly aan algemene angssteuring. Gevolglik het die staat ’n aansoek ingedien dat hy vir waarneming verwys word.
Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy sy meisie Reeva Steenkamp op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.
Oscar pleit onskuldig; hy beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Die staat voer aan hy het haar geskiet nadat hulle ’n uitval gehad het.
Hy staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet.
- Sapa