Hertogin Catherine van Brittanje het glo vir Cressida Bonas gesê sy moet “ ’n blaaskans” neem van haar verhouding met prins Harry.
Die 31-jarige koninklike het die blonde skoonheid aangeraai om eers tyd vir haarself te maak, want dit kan stresvol raak om in die openbare oog te wees te midde van berigte oor ’n koninklike verlowing. Catherine en prins William het self ’n ruk lank ’n blaaskans van hul verhouding geneem voor hulle in 2011 getroud is.
’n Bron het aan die tydskrif Now gesê: “(Catherine) het haar ingelig oor die druk van prinses wees en aangeraai om ’n blaaskans te neem soos sy in 2007 met Wills gemaak het.
“Kate het meegevoel vir Cressie. Daar is baie druk wanneer die hele land vra of jy op die punt is om verloof te raak.
“Sy het vir Cressie gesê dit was tot haar voordeel om tyd af te vat toe sy en William ’n blaaskans neem. Kate het gesê dit is dalk vir hulle ook die beste.”
Harry en Cressida is glo einde verlede maand uitmekaar. Volgens berigte was sy ontsteld oor al die aandag wat die hertog en hertogin van Cambridge moes hanteer terwyl hulle in April deur Australië en Nieu-Seeland gereis het.
’n Bron het aan die Britse tydskrif Look gesê: “Cressida en Harry was gelukkig. Daar was selfs sprake van trou. Maar die aanskoue van William en Kate se toer in Australië en Nieu-Seeland het Cressie die skrik op die lyf gejaag.
“Sy het gesien hoe die wêreldmedia hulle elke oomblik van die dag volg, hoe mense meeding om foto’s van George te neem, en hoe Kate en Wills onder die vergrootglas geplaas word. Ek dink dit het haar laat besef dit is nie die lewe wat sy wil hê nie.”