’n Britse onderwyseres is vandeesweek in haar klaskamer deur een van haar leerders doodgesteek. Die leerder, ’n vyftienjarige seun, het vermoedelik nie aanklank gevind by die skool se geliefde onnie nie.
Ann Maguire (61) was ’n Spaanse onderwyseres wie se leerders haar as die “moeder van die skool” bestempel het.
Kan so iets ooit in Suid-Afrika gebeur? Plaaslike onderwysers sê dissipline in die klaskamer is een van die grootste uitdagings in die klaskamer.
Huisgenoot het vroeër vanjaar tydens die tweede Suid-Afrikaanse Internasionale Emosionele Intelligensiekonferensie in Kaapstad ’n paneelbespreking oor dissipline in die klaskamer aangebied.
Onderwyskenners en sielkundiges het tydens dié bespreking idees gedeel oor hoe Suid-Afrikaanse onderwysers die kwessie van dissipline in die klaskamer en in skole kan takel.
Sanette Nowers, oudskoolhoof van die Hoër Meisieskool Bloemhoef en Hoërskool Strand en tans direkteur van die Metro Sentraal-onderwysdistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), meen tradisionele detensie werk nie meer nie. “Skoolgemeenskappe moet eerder op waardes fokus,” meen sy.
Jeanette de Klerk-Luttig, ’n kenner op die gebied van karakteropvoeding in Suid-Afrikaanse skole, stem saam. “Ons beweeg al meer weg van reëls en begin eerder na waardes,” sê sy.
Een waarde kan wees om trots te wees op jou werk. “Onderwysers moet daaraan werk om ’n kultuur in hul klas te skep waar dit ‘cool’ is om hard te werk,” stel Jeanette voor.
“Dit is in elk geval ’n fantasie en ’n dwaalbegrip dat onderwysers kinders kan beheer,” sê Anthony Costandius, ’n sielkundige wat self ’n oudonderwyser is.
Maar onderwysers hoef ook in te gee wanneer leerders hulle probeer beheer nie, sê hy. “As ’n onderwyser effektief dissipline wil toepas, is dit belangrik om die groepdinamika in jou klas te verstaan.”
Brian Schreuder, die adjunk direkteurgeneraal van Kurrikulum- en Assesseringsbestuur van die WKOD, sê die departement is juis daar om onderwysers te ondersteun – selfs op die gebied van dissipline.
“Maar moenie jou kop verloor nie. Die departement kan jou nie ondersteun wanneer jy die wet oortree nie,” waarsku hy.
Daar ís maniere om dissipline in die klaskamer en in skole reg te ruk wat nie ’n straf-mentaliteit behels nie.
Quentin Newman, die skoolhoof van die Hoërskool John Ramsay in Bishop Lavis, het al jare se ondervinding in sogenaamde ‘probleemskole’. Op die Kaapse Vlakte noem hulle hom sommer Mr. Fix It – juis omdat hy al soveel van dié skole help regruk het.
Quentin meen onderwysers moet bakens van hoop in hul gemeenskappe wees. “Ons kan nie moed opgee nie,” sê hy. “Onderwysers moet self ’n voorbeeld uitleef van die waardes wat hulle in hul klas of skool wil vestig.”
Jeanette beaam dit. “Die kwaliteit en aard van jou verhoudings met jou leerders vorm die grootste deel van jou invloed op hulle.”
Ekstra bronne: dailymail.co.uk