George Clooney het Amal Alamuddin oor ’n tuisgemaakte maaltyd gevra om met hom te trou.
Die Monuments Men-akteur, wie se verlowing aan die menseregteprokureur vroeër vandeesweek bekendgemaak is, het ná ’n aandete by sy huis in Los Angeles die jawoord gevra met ’n ring van sewe karaat wat hy self ontwerp het.
’n Bron het aan die New York Post gesê: “George het op 22 April self vir Amal ’n ete by sy huis gekook en haar toe verras deur op die een knie af te sak en vir haar die ring te gee. Hy is baie bly sy het ja gesê en hy het later die aand sy vriende gebel om hulle die nuus te vertel.”
Die aand ná die huweliksaanbod het die paartjie hul blye nuus saam met vriende by die restaurant Craig’s in Los Angeles gevier, en ooggetuies sê hulle het “eenvoudig gestraal”.
En die vierings het nie daar geëindig nie, want die volgende aand het Amal by Nobu in Malibu haar ring vir vriende, onder andere Cindy Crawford en Rande Gerber, gewys.
George (52) en Amal (36) wil later vanjaar trou, maar sal waarskynlik nie by die Hollywood-hartebreker se landgoed langs die Como-meer in Italië afhaak nie.
Die bron het gesê: “Dis oor net vier maande, maar hulle wil trou aan die einde van die somer, vroeg in September, voor Amal teruggaan werk toe.”
Nog ’n bron het bygevoeg: “Die Como-meer sou ’n pragtige trouplek gewees het, maar dit gee hulle dalk geen privaatheid nie. Dit is baie maklik vir die publiek en die paparazzi om by die eiendom in te kyk.”
George se woordvoerder het geweier om oor die verlowing en troureëlings te praat en het gesê: “Ek lewer nie oor sy persoonlike lewe kommentaar nie.”