’n Miniduikboot gaan Dinsdag op die bodem van die Indiese Oseaan na die vermiste vlug MH370 soek nadat sy eerste soektog kortgeknip moes word. Maleisië het beloof om enige “vlugopnemerdata” bekend te maak.
Die onbemande duikboot, toegerus met sonartegnologie, is Maandag van die Australiese skip Ocean Shield ontplooi, wat die soektog na die Boeing 777 lei. Die vliegtuig het op 8 Maart met 239 mense aan boord vermis geraak.
Die Bluefin-21 se soektog het niks van belang opgelewer nie voor dit outomaties die sending gestaak het nadat dit die maksimum werkdiepte bereik het, het die Amerikaanse vloot in ’n verklaring gesê.
Die Australiese agentskap wat die soektog koördineer, sê die Bluefin-21 “het sy maksimum werkdiepte van 4 500 m bereik en het ’n ingeboude veiligheidskenmerk wat dit dan na die oppervlak laat terugkeer”.
Die onbemande “Autonomous Underwater Vehicle” was ongedeerd en sou gedurende die dag op ’n tweede soektog uitgegaan (mits die weer dit toelaat), het amptenare gesê.
Kapt. Mark Matthews van die Amerikaanse vloot het gesê die voertuig het geprogrammeerde bedryfsbeperkings oorskry en het outomaties weer boontoe gekom.
“In hierdie geval is die voertuig geprogrammeer om 30 m oor die seebodem te sweef en ’n goeie afbeelding te kry van wat daar onder aangaan,” het hy aan CNN uit Perth gesê.
“Dit het 4 500 m bereik en toe dit maksimum diepte bereik, het dit gesê: ‘Dit is dieper as wat ek geprogrammeer is om te wees,’ toe beëindig dit die sending.”
Amptenare het gesê die bemanning gaan nou die taak verfyn om die diepte te hanteer.
“Om te vergoed vir die ongelykheid van die seebodem word die soekprofiel aangepas om die sonarsoektog so lank moontlik te verleng,” lui die vloot se verklaring.
Die hoof van Australië se Joint Agency Coordination Centre, Angus Houston, het Maandag aangekondig amptenare gaan die duikbootsoektogte van stapel laat loop nadat hulle drie weke geluister het vir ’n sein van die vliegtuig se vlugopnemer.
Die miniduikboot gaan 16 uur per dag ’n sonaropname van die seebodem maak in die hoop dat daar wrakstukke is van die Malaysia Airlines-vlug wat vermis geraak het van Kuala Lumpur onderweg na Beijing.
Die Amerikaanse vloot skat dit sou die Bluefin-21 tussen ses weke en twee maande neem om die hele soekgebied deur te werk, wat verminder is deur die gebruik van satellietdata en die seine van die vlugopnemers wat ’n week gelede laas gehoor is.
Angus het die opsporings beskryf as die beste leidraad in die soektog na die vliegtuig, en het Maandag bygevoeg dat ’n olielek ook in die gebied raakgesien is.
Dit sou etlike dae duur om ’n monster van die olie te toets, maar Angus meen dat dit nie olie is van een van die skepe wat by die soektog betrokke was nie.
Die oorsaak vir die vliegtuig se verdwyning, nadat dit honderde kilometers van sy roete afgewyk het, is nog onbekend. Geen wrakstukke is opgespoor nie, ten spyte van ’n groot soektog met skepe en vliegtuie van verskeie lande.
Dit is 39 dae vandat die vliegtuig verdwyn het. Dit het vermoedelik in die Indiese Oseaan neergestort, en die batterye wat die vlugopnemers se opsporingsein aandryf, het ’n leeftyd van sowat 30 dae gehad.
Die Ocean Shield het vier seine verwant aan die vlugopnemers waargeneem, maar die laaste sein het Dinsdag gekom, en amptenare vermoed die batterye het afgeloop.
Angus het beklemtoon hoe moeilik dit is om op daardie diepte in so ’n afgesonderde gebied te werk, en het gewaarsku oor die opsporing van die vlugopnemers.