Reeva Steenkamp en Oscar Pistorius het teer teksboodskappe geruil in die dae voor hy haar na bewering vermoor het, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gehoor.
“Die waarheid is, ek mis jou,” lees een van die boodskappe wat die model en voormalige regstudent op 29 Januarie omstreeks negeuur aan die atleet gestuur het.
“Ek mis jou so so baie!” het Oscar geantwoord.
Die boodskappe is in die hof uitgelees deur kapt. Francois Moller, wat die data van die paartjie se iPhones afgelaai het.
Barry Roux, vir Oscar, het gevra hy moet dit tydens sy kruisondervraging hardop lees.
Oscar het Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n toe toiletdeur geskiet. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.
Barry het aangevoer dat die twee in ’n gelukkige verhouding was, soos “90 persent” van die boodskappe tussen hulle in die weke voor Reeva se dood bewys.
Reeva het op 4 Februarie verlede jaar in ’n boodskap geskryf: “As jy met hom wil gaan uithang is dit oukei, engel… Ek kan enige tyd na jou toe kom.”
‘Nee, baba, ek wil met jou uithang.’
Oscar het geantwoord: “Nee, baba, ek wil met jou uithang.”
Op 11 Februarie het sy geskryf: “Ek sal jou altyd bystaan, maar ons en die gesondheid van ons verhouding is ook belangrik.”
Een van haar ander boodskappe eindig met: “Ek het ’n gebedjie vir ons albei gesê.”
“Soen, soen, soen,” het Barry vanaf een van die geskrewe kopieë gelees.
Francois het Maandag tydens sy ondervraging deur Gerrie Nel boodskappe tussen Oscar en Reeva gelees wat Oscar as ’n besitlike mens uitbeeld wat gereeld sy humeur verloor het.
Oscar staan tereg weens die moord met voorbedagte op Reeva en oortredings van die Vuurwapenwet. Hy het na bewering in Januarie met ’n Glock-pistool ’n skoot onder ’n tafel in ’n restaurant in Johannesburg laat afgaan.
Op 30 September 2012 het hy na bewering ’n skoot met sy 9 mm-pistool deur die oop sondak van ’n motor afgevuur terwyl hy saam met vriende in Modderfontein gery het.
Hy het skuld op alle aanklagte ontken.