“Jy is die een persoon van wie ek verdien om beskerming te kry.” So het Reeva Steenkamp in ’n WhatsApp-boodskap vir Oscar Pistorius geskryf skaars ’n week voor hy haar doodgeskiet het.
Kapt. Francois Möller, ’n selfoon-analis van die polisie, het vanmiddag begin getuig oor die data wat hy van twee Blackberrys en twee iPhones afgelaai het.
Een van die fone het aan Reeva behoort, terwyl die ander Oscar s’n is.
Om al die inligting op Reeva se foon te druk sou Francois 2 688 bladsye nodig gehad het. Om al die inligting te druk wat van die foon uitgewis is, sou hy meer as 35 000 bladsye nodig gehad het.
Uit die twee WhatsApp-gesprekke wat Francois in die hof gelees het, is dit duidelik dat dit nie altyd maanskyn en rose tussen Reeva en Oscar was nie.
In die boodskappe skryf Reeva lang paragrawe toe sy ontsteld was en vertel hoe verkeerd Oscar teenoor haar opgetree het. Met die een gesprek het Oscar Reeva gevra om hom te laat weet wanneer hy kan bel, en met die ander het hy verskoning gevra vir sy optrede en dat hy die probleem tussen hulle wil oplos.
Van die boodskappe wat Reeva geskryf het:
- ek is jammer as ek jou ontstel het, dit was nie my bedoeling nie;
- ek was nie ’n stripper of ’n HO nie;
- ek was nog nooit kuis nie en ek het pret gehad, maar dit was onskuldig sonder enige skadelike gevolge;
- ek het nie geflirt nie en dit maak my siek dat jy dit voorstel;
- ek is die meisie wat op jou verlief geraak het;
- jy het die dag vir my opgef**;
- ek wil net liefhê en geliefkoos word en ek wil gelukkig wees en iemand gelukkig maak. Miskien doen ons dit nie vir mekaar nie;
- ek voel nie soos ’n dame ná die manier waarop jy my behandel het nie, wanneer jy my so hard kritiseer dat ander dit kan hoor;
- ek kan nie deur ander aangeval word omdat ek met jou uitgaan en dan nog deur jou ook aangeval word nie.
Francois sal môre met sy getuienis voortgaan.