
Bok van Blerk speel teenoor Katie McGrath in die fliek Leading Lady, wat in November te sien sal wees.
Bok van Blerk is ’n sanger in murg en been, maar dit lyk of sy toneelspel van krag tot krag gaan. Hy was al in die flieks Platteland, Vrou Soek Boer en As Jy Sing. En in November sal ons hom sien in ’n nuwe fliek, Leading Lady, teenoor ’n internasionale aktrise, Katie McGrath.
Katie McGrath is bekend vir haar rol in die TV-reeks Dracula. Hierin speel sy teenoor Jonathan Rhys Meyers.
“Nadat Katie McGrath Leading Lady se draaiboek gelees het, het sy dadelik ingestem om teenoor Bok van Blerk in die fliek te speel,” vertel Henk Pretorius, die fliek se regisseur en skrywer.
“Almal het hierdie nuus verwelkom, want dis maar net nog ’n bewys dat die plaaslike mark geen tree hoef terug te staan vir Hollywood nie,” sê hy.
Die fliek is ’n liefdesverhaal wat op twee vastelande afspeel en word binnekort internasionaal vrygestel. Dit sal eers van die 28ste November vanjaar in Suid-Afrika te sien wees.
’n Ander bekende plaaslike talent wat daarin te sien sal wees, is die verteraanaktrise Brümilda van Rensburg. Die Hollywood-akteur Gil Bellows (bekend vir sy rolle in Ally McBeal en Shawshank Redemption) speel ook in die fliek.
Leading Lady vertel die verhaal van ’n jong opkomende Britse aktrise, Jodi Rutherford (Katie), wat Kobus Willemse (Bok), ’n boer van Brandfort, oorreed om haar te help voorberei vir die uitdagende rol as ’n Afrikaanse oorlogsheldin in ’n Hollywood-rolprent. In ruil daarvoor kry sy die geleentheid om die jaarlikse konsert op Kobus se plaas te reël en die regie te behartig. Jodi se interaksie met die bekoorlike dorpie Brandfort en sy inwoners, asook die hardekwas Kobus, laat haar besef dat die lewe meer bied as net Hollywood met sy ligte, kameras en aksie.
Ons kan nie wag om te sien hoe Bok teenoor die groot name vaar nie. . .
- Die lokprent vir hierdie fliek word op Vrydag 28 Maart 2014 vrygestel.
- Loren Pienaar