Die Formule Een-kampioen Michael Schumacher gee steeds sy familie “tekens” wat maak dat hulle bly hoop hy gaan herstel, het sy bestuurder, Sabine Kehm, Woensdag gesê.
“Ons bly steeds hoopvol dat Michael dié struikelblok sal oorkom en ontwaak,” het sy in ’n verklaring namens Michael se naasbestaandes gesê. “Daar is die hele tyd nog tekens, en dit gee ons hoop, maar ons weet ons moet geduldig wees.”
Michael het op 29 Desember by die Franse ski-oord Meribel geval en sy kop teen ’n rots gestamp. Hy is daarna in ’n geïnduseerde koma geplaas.
‘Ons het van meet af besef dit gaan ’n lang, moeilike pad wees.’
“Ons het van meet af besef dit gaan ’n lang, moeilike pad wees,” het Sabine bygevoeg. “Ons, tesame met die span dokters, veg vir Michael; ons vertrou die dokters se oordeel. Dit maak nie saak hoe lank dit neem nie.”
Sabine het ook in die verklaring gesê Michael se naasbestaandes is dankbaar vir die meegevoel wat aan hulle bewys is. “Ons moet onthou dat dit vir hulle ’n baie persoonlike, teer saak is. Michael het sy privaat lewe privaat gehou; sy gesin was selde in die openbare oog,” het sy bygevoeg.
Volgens Sabine fokus Michael se gesin steeds op hom. “Ons probeer Michael al die energie gee wat ons het. Ons glo dit help hom en dat hy dié stryd gaan wen.”