Darren Fresco het Dinsdag tydens Oscar Pistorius se moordverhoor deurgeloop onder adv. Barry Roux se kenmerkende ondervragingstyl.
In sy tyd in die getuiebank is hy kruisondervra oor ’n voorval by die restaurant Tashas in Johannesburg.
Darren, ’n vriend van Oscar, is gevra of Oscar geweet het daar was ’n koeël in die loop toe hy (volgens sy getuienis) die vuurwapen vir die Paralimpiese atleet aangee.
Volgens Darren het hulle by ’n hoektafel gesit en hulle kop nader aan mekaar gesit (hulle was ongeveer 30 cm van mekaar) toe Darren vir Oscar sê “there’s one up”, wat beteken dat daar ’n koeël in die loop is.
Oscar het toe geantwoord met “oukei”.
“Het hy ‘oukei’ gesê?” het Barry toe gevra.
Verlede week het Barry die veiligheidswag Pieter Baba ondervra oor of Oscar “oukei” of “fine” gesê het toe die twee oor die telefoon praat.
Volgens Barry was die deel oor Oscar en Darren wat met hul kop “nader aan mekaar gesit het” nie deel van die verklaring wat hy vroeër saam met sy prokureurs opgestel het nie.
Darren het daarop aangedring dat Oscar sy waarskuwing erken het.
Daar het na bewering ’n skoot afgegaan toe die vuurwapen in Oscar se hand was.
Die hof het ’n foto van die gat in die restaurant se vloer gesien.
Sit-posisies
Volgens Barry het hy en ’n paar kollegas tydens die hofverdaging probeer kyk of hulle bymekaar kon sit soos Darren getuig het, maar kon nie.
Hy het ook gevra dat Darren wys hoe hulle gesit het.
Oscar het na bewering gevra dat Darren die skuld aanvaar vir die skoot wat in die restaurant afgevuur is en kon tot dusver nie verklaar hoekom dit weggelaat is uit sy verklaring.
Darren het gesê hy het aanvaar Oscar het geweet hy moet die magasyn uithaal.
Hy getuig ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet, en is gewaarsku dat hy hom tydens sy getuienis kan inkrimineer. As sy getuienis as die waarheid beskou word, kan hy wel van vervolging onthef word.
Oscar staan tereg vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet is. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vuurwapenwet oortree het.