Oscar Pistorius het so op die telefoon gehuil dat hy nie kon praat nie.
So het Pieter Baba vandag getuig. Hy is ’n veiligheidswag by die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria, waar Oscar woon.
Oscar het self in die hof, terwyl hy na Pieter se getuienis geluister het, emosioneel geraak.
Pieter het getuig dat hy die oggend van 14 Februarie verlede jaar verskeie oproepe van inwoners gekry het wat sê dat hulle skote gehoor het. Pieter het skaars ’n uur vroeër die straat patrolleer waarin Oscar woon, en sy huis was “normaal soos altyd”.
Pieter het sy kollega, wat die landgoed met ’n bakkie patrolleer, gekontak sodat hulle kan gaan ondersoek instel, want hy het nie geweet waarvandaan die skote kom nie.
Hy is eers na dr. Johan Stipp se huis, wat hom na Oscar se huis gestuur het.
“Ek het mnr. Pistorius gebel en hy het gesê alles is fine. Die foon het doodgegaan. Ek het gehoor hy het gehuil en het geweet alles is nie fine nie,” het Pieter getuig.
“Mnr. Pistorius het my teruggebel en so gehuil dat hy nie kon praat nie.”
Pieter is na Oscar se huis, waar hy Johan aangetref het. Toe Pieter by die huis inloop, het hy gesien hoe Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, by die trap afdra.
“Ek was so geskok, ek het nie geweet wat om te doen of selfs om te kyk watter klere mnr. Pistorius aanhet nie.”
Barry Roux het dit aan Pieter gestel dat Oscar gesê het hy is oukei. Pieter het gesê dit is nie so nie en dat Oscar gesê het “hulle is fine”.
Die saak is tot Maandag uitgestel nadat Pieter begin emosioneel raak het.
- Hilda Fourie