Dit is iets wat ’n mens baie hoor: “Haar hart is gebreek ná haar man se dood.” Nuwe navorsing wys nou dat dit nie altyd bloot ’n gesegde is nie. Navorsers by St. George’s, Universiteit van Londen, het bevind dat die risiko vir ’n hartaanval of beroerte ná ’n lewensmaat se dood binne die eerste 30 dae verdubbel.
Die navorsers noem dat rou soms tot bykomende ligaamlike spanning kan lei en ook kan veroorsaak dat mense belangstelling verloor of vergeet om hul medisyne te drink.
Vir die studie is die voorkoms van beroertes of hartaanvalle gemeet onder pasiënte bo 60 wie se lewensmaat oorlede is. Dit is vergelyk met die voorkoms onder mense wie se lewensmaat nog leef.
Die navorsers het bevind 16 van die 10 000 mense wie se lewensmaat oorlede is, ervaar binne die eerste 30 dae ná die sterfte hartaanvalle of beroerte. In die kontrole groep (die mense wie se lewensmaat nog leef) was daar net 8 hartaanvalle of beroertes per 10 000 mense.
“Ons praat gereeld van ’n ‘gebroke hart’ om te verwys na die pyn wat iemand ná ’n geliefde se dood ervaar. Ons studie wys dat verlies ’n direkte uitwerking op die gesondheid van die hart het,” bevestig dr. Sunil Shah, een van die navorsers.
Bronne: JAMA, medicalnewstoday.com