Dis nou presies twee weke sedert Heinz en Aletté Winckler en hul twee seuns, Lian (3) en Simeon (22 maande), in Somerset-Wes in die Kaap gaan nesskop het.
En een van die dae is hulle vyf, wanneer die derde boetie omstreeks 19 Maart gebore sal word, afhangend van wanneer hy besluit dis tyd, want Aletté gaan natuurlik geboorte skenk.
“Heinz wou nog altyd, vandat ons getroud is, terug kom Kaap toe, ons het net nooit so ver gekom nie. Toe was ons verlede jaar een Saterdag vir ’n vroueoggend op Moorreesburg. Dit was so mooi rondom ons. By Riebeek-Kasteel het ek vir Heinz gewys waar Sumari, my beste vriendin, getrou het (hy kon ongelukkig nie destyds daar wees nie) en ons het geselsies gemaak met vreemdelinge op straat.
“So kom daar toe allerhande gedagtes los in my kop – sommige goed, ander twyfelagtig. En toe ons terug ry op die mooi pad na Stellenbosch, Somerset-Wes en die kuspad langs Bettysbaai (waar ons twee bloedjies by Ouma vir ons wag) uiter ek eindelik dit waaroor ek al heeldag wonder: Ek kan nie glo daar is mense wat hier woon nie.
“Hoekom woon ons in die gejaag, tussen grys murasies, verkeer, e-tolpaaie en hoë sekuriteitstelsels sonder berge, die see, die blomme en die geleentheid om my (amper drie) kinders in die mooiste mooi natuurskoon groot te maak?” sê Aletté, en so is die saadjie geplant, en hy het gegroei en nou het hulle amptelik kom wortelskiet in die Kaap.
“Die pas in Johannesburg het my gejaag en gedreig en net te veel geraak. Ek kon nie afskakel nie. Selfs in die aande het ek met my laptop op my skoot gesit as ons televisie kyk. En veral met die derde baba op pad kon dit nie so aangaan nie.
“Hier voel dit asof ons kan asem haal en leef. Ons is net op die oomblik ’n bietjie moeg want die mannetjies sukkel om aan te pas in die nuwe omgewing. Hulle is mal daaroor, maar moet nou ’n kamer deel en maak mekaar wakker en dan word dit ook baie later donker hier, en hulle wil nie gaan slaap terwyl dit nog lig is nie. Ek hoop net dit raak beter voordat die nuwe baba hier is,” lag Aletté.
Hulle huur ’n gemeubileerde huis vir die volgende ses maande terwyl hulle soek na hulle droomhuis. Hulle het hom so amper gehad, maar dit het ongelukkig deur die mat geval.
“Dit was ’n moeilike trek omdat ons van die goed moes berg en van dit moes saambring. Maar dis heerlik om in Somerset-Wes te bly en dis baie sentraal en ook net so ’n halfuur se ry van Heinz se ma-hulle op Bettysbaai.
“Heinz se hele familie woon hier, en dit was altyd sleg dat hulle die kinders so min gesien het. My familie is ongelukkig in Johannesburg, maar my ma-hulle het ook ’n strandhuis hier naby en is juis op die oomblik hier, so die klein kinders word lekker bederf.”
Daar is soveel lekker dinge om in die Kaap te doen, soos roomys eet op die strand en gelukkig woon hulle baie naby aan die strand.
“Saterdag het Heinz ook ’n vertoning gehad op Jacobsbaai en toe kon ons almal saamgaan, en dit was so ’n lekker dag. Ek wil hê die kinders moet meer betrokke wees by vertonings. Ná die tyd het ons op Langebaan gaan kreef braai. Dis ongelooflik om te dink dat dit nie vakansie is nie, maar nou ons daaglikse bestaan.”