Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all 9424 articles
Browse latest View live

10-jarige seun beïndruk met grimeringtegnieke – en sê ‘grimering is nie net vir meisies nie’

$
0
0

As jy gedink het jy is vaardig met oogomlyner en verbloemer, het jy nog nie dié 10-jarige seuntjie se grimeertruuks gesien nie.

Jack is ’n Britse seuntjie wat reeds byna 70 000 volgelinge op Instagram het, al het hy sy blad eers in Februarie oopgemaak.

 

A post shared by JACK 💄🤳🏻🍩🇬🇧 (@makeuupbyjack) on

Sy van is onbekend, maar Jack se grimeervaardighede spreek vanself. In sy video’s wys hy hoe hy sorgvuldig oogskadu aanwend, unieke skakerings meng en kontoerlyne rondom sy wangbene skep.

Hy sit ook sonder sukkel vals wimpers aan en in een van sy gewildste video’s, wat oor die 210 000 kykslae het, wys Jack hoe jy ’n donker, rokerige voorkoms vir jou oë kan skep.

 

A post shared by JACK 💄🤳🏻🍩🇬🇧 (@makeuupbyjack) on

Al stroom die lof vir Jack in, is daar mense wat glo Jack is te jonk om met grimering te eksperimenteer en dat dit onvanpas is omdat hy ’n seun is.

Jack, wat ook sy naels lank dra en verf, gebruik ’n hutsmerk wat lui “grimering het geen geslag nie” onderaan sy inskrywings, en dit lyk nie asof hy hom aan kwetsende aanlyn kommentaar steur nie.

 

A post shared by JACK 💄🤳🏻🍩🇬🇧 (@makeuupbyjack) on

“Ek waardeer werklik wat jy doen omdat jy ’n groot gevolg het en wys grimering is vir almal en almal kan dit geniet.

“My boetie is ses en het sy eie grimering as geskenk gekry en hy is dol daaroor. Dis fantasties dat mense soos jy dit meer aanvaarbaar maak sodat hy nie daaroor geboelie sal word nie,” het een volgeling op Instagram geskryf.

 

A post shared by JACK 💄🤳🏻🍩🇬🇧 (@makeuupbyjack) on

Tog meen ’n ander gebruiker dit is “onkundig” van Jack se ouers om hom toe te laat om dit te doen en dat “die ouers die groot probleem hier is”.

Nog iemand vra wat geword het van “die dae toe ons seuns aangemoedig het om taai te wees en almal nie so sensitief was nie? Die nuwe generasie word opgepiep en is bang om te sê seuns moet soos seuns grootword.”

 

A post shared by JACK 💄🤳🏻🍩🇬🇧 (@makeuupbyjack) on

Ander sê weer Jack behoort toegelaat te word om sy liefde vir grimering uit te leef, bloot omdat hy sakke vol geld met sy talent kan maak.

“Baie grimeerkunstenaars begin deur op hulself grimering te oefen en wanneer jy eendag grimeerskool toe gaan, oefen jy ook meestal op jouself.

“Hierdie kind werk aan sy gawes om dit te verfyn en kan eendag ’n goeie werk kry deur dit te doen waarvoor hy lief is. Daarmee sien ek niks verkeerd nie.”

Hy is nie die enigste manlike grimeersensasie wat aanlyn opslae maak nie. Die 18-jarige James Charles is wêreldbekend en het meer as twee miljoen aanhangers op Instagram.

 

A post shared by James Charles (@jamescharles) on

Hy is ook een van min mans wat as gesig van ’n skoonheidshuis aangewys is en verskyn in veldtogte saam met die sangeres Katy Perry en die aktrise Zendaya Coleman.

 

A post shared by COVERGIRL (@covergirl) on

 


Jou gunstelingtydskrif nou in Checkers se Little Shop-versameling

$
0
0

Huisgenoot, Suid-Afrika se grootste tydskrif, is nou ook in piepklein formaat beskikbaar as deel van Checkers se Little Shop-versameling.

Die Huisgenoot-tydskriffie is deel van ’n splinternuwe reeks Little Shop-produkte. En versamelaars gaan beslis opgewonde wees oor die bekende kruidenierswarehandelsmerke waarvan mini-replikas nou beskikbaar is. Agterop die piepklein tydskriffie sal Huisgenoot se Engelse sustertydskrif, YOU, ook in mini-vorm te sien wees.

Ander bekende Suid-Afrikaanse gunstelinge in die nuwe reeks is Ricoffy, Ouma-beskuit, Aromat, Bovril en Milo.

Die nuus oor die terugkeer van die gewilde klein replikas is Woensdag op Netwerk24 bekend gemaak nadat Checkers in die sosiale media aangekondig het die klein kruideniersware keer vanaf Vrydag 26 Mei terug na die winkelgroep vanweë die gewildheid daarvan.

Die reeks klein replikas is in Julie 2016 deur Checkers bekendgestel. Bemarkingskenners het voorheen reeds laat blyk dit is nog ’n manier vir groot winkelgroepe om mee te ding.

“Dit is geen geheim nie dat Suid-Afrika se groot winkelgroepe in die wedloop om die hart, gedagtes en natuurlik rande van verbruikers sukkel om hulle te onderskei van mekaar met die normale P’s – produk, prys, plek,” het Nicholas Paul van Trade Intelligence en redakteur van Trade Tatler, vroeër gesê.

Stuur asseblief vir ons ‘n foto van jou of jou kind deur ’n foto met die Little Shop-Huisgenoot te neem en op die sosiale media-platforms Facebook, Twitter en Instagram te deel en merk dit met #HuisgenootMini en #CheckersLittleShop.

Knoffel-en-brandrissie-varktjops

$
0
0

Hierdie geurige Knoffel-en-brandrissie-varktjops is wonderlik as aandete.

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min.
Marineer: 30 min.
Gaarmaak: 20 min.

Bestanddele

4 varktjops
sout en vars gemaalde peper
3 knoffelhuisies, fyngedruk
2 brandrissies, fyn gekap
30 ml (2 e) olyfolie
VIR VOORSIT
15 ml (1 e) olyfolie
300 g gemengde kersietamaties
15 ml (1 e) balsemieke asyn
’n hand vol vars basilie

Metode

  1. Geur die varktjops goed met die sout en peper.
  2. Meng die knoffel, brandrissies en olyfolie goed en smeer oor die tjops. Marineer minstens 30 min.
  3. Braai die tjops oor warm kole of in ’n pan tot gaar.
  4. Vir voorsit Verhit die olie in ’n pan, voeg die tamaties by en roerbraai tot die tamaties begin bars. Sprinkel die asyn oor en haal van die hitte af
  5. Sit die tjops voor saam met die gebraaide tamaties en die basilie.

Resepte en stilering: Esther Malan
Assistent: Waleed Alexander
Foto: Jacques Stander

Gr. 6-leerder sterf in fratsongeluk by skool

$
0
0

’n Gr. 6-leerder van die Laerskool Edgemead in Kaapstad is Donderdagmiddag in ’n fratsongeluk dood.

Kyle Grace (12) het na bewering toegang verkry tot ’n trap agter die verhoog in die skoolsaal wat na die plafon lei.

Die plafon het toe onder die seun meegegee en hy het sowat 8 m na die grond geval. Die voorval het omstreeks 14:30 gebeur.

Daar heers nog onsekerheid oor wat Kyle in die plafon gaan soek of doen het.

Die ongeluk is vir almal baie traumaties, sê Jessica Shelver, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement. “Toe ons oor die voorval ingelig is, het ’n hele span van ons distrikskantoor na die skool gegaan, so ook maatskaplike werkers en sielkundiges.

“Vier maatskaplike werkers van ’n aangrensende skool het by die twee distrikswerkers van die department aangesluit om die nodige ondersteuning aan alle leerders te verskaf,” sê Shelver.

Kyle se dood is ’n tragiese verlies van ’n jong lewe, sê sy. “Die distrik sal Vrydag verdere ondersteuning aan die skool verskaf. Ons innige meegevoel aan Kyle se familie in dié baie moeilike tyd.”

Medelye vir Kyle se familie en vriende het van oral ingestroom.

 

“ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen,” bevestig sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder. Volgens inligting het die 12-jarige seun geval en aan sy wonde beswyk. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”

KYK: Brand breek uit by Wimbledon-tennisbaan

$
0
0

Vier brandweerwaens moes Vrydag inderhaas na die Wimbledon-tenniskompleks in Londen, Engeland, jaag om ’n brand by van die bekende toernooi se oefenbane onder beheer te bring.

Die brand het by een van die heinings naby swaar boutoerusting uitgebreek.

Die brand is kort ná 13:00 (14:00 SA tyd) onder beheer gebring.

Tennisliefhebbers hoef nie te vrees nie. Die gewilde jaarlikse Wimbledon-tennistoernooi sal weer van 3 tot 16 Julie vanjaar plaasvind.

KYK VIDEO: Kostelike meisietjie verduidelik waarom jy ALTYD na grootmense moet luister

$
0
0

’n Skattige Afrikaanse dogtertjie het Facebook aan die gons met ’n video waarin sy verduidelik waarom jy jou brein moet gebruik en volwassenes se raad moet volg.

“Haai, ek is Mia Claassens,” begin sy haar video, waarna sy verduidelik hoe sy haarself in die verleentheid gestel het toe sy op ’n koue dag nie na haar ma geluister het nie.

Die video is op 25 Mei deur Cassie Nel gedeel en al meer as 200 000 keer gekyk. Dit is ook al meer as 11 000 keer gedeel en meer as ’n duisend mense het al kommentaar daarop gelewer.

Cassie sê aan Huisgenoot hy ken nie vir Mia nie, maar het die video ‘n ruk gelede per WhatsApp ontvang, waarna hy dit op Facebook gedeel het omdat dit so oulik is.

Mia se ma, Leana Claassens, sê Mia is hul oudste en is nou agt jaar oud. Die gesin woon in Meyerton.

“Jy weet, ’n kind, nè? Kan nie luister vir ’n grootmens nie. Dis rêrig baie dom. Maar weet jy wat? Jy moet vir grootmense luister.

“Ek het nie vir my ma geluister nie. Dit was netbal en dit het gereën. Ek het nie vir my ma geluister nie en nie ’n langbroek ingepak nie. Toe kry ek daai oggend so koud dat my ma vir my klere moes gaan koop het,” wei die skattige blondekop uit.

“Weet jy hoe erg is dit?” vra sy ontstoke. “As ’n oumens vir jou raad gee; jy vat dit, jy sit dit in jou brein en jy onthou dit!”

Kyk Mia se volledige video hier:

 

Superryk bekende dalk in GROOT moeilikheid by Jan Taks

$
0
0

Terwyl die man talle laat swymel met sy vernuftige balvaardighede op die sokkerveld, gaan sy geldvaardighede hom dalk in die sop laat beland by die Spaanse ontvanger van inkomste.

Die Portugees gebore Cristiano Ronaldo (32) speel al langer as sewe jaar vir die Spaanse sokkerklub Real Madrid.

Hy het in 2009 die sokkerbase van Real Madrid ’n allemintige €94 miljoen uit die sak gejaag toe hulle hom van Manchester United oorkoop. Dit was indertyd die derde hoogste oorkoopprys wat vir ’n speler betaal is.

Maar nou staan hy onder verdenking van belastingontduiking.

Daar word beweer dat hy tussen 2011 en 2014 belastingbydraes van minstens €15 miljoen (meer as R216 miljoen) gesystap het. En die Spaanse owerhede is allesbehalwe gelukkig daaroor.

Ronaldo het glo wel in 2014 probeer om sy belastingsake op datum te bring deur ’n ekstra €5,6 miljoen te betaal, maar Jan Taks glo dat die bykomende €15 miljoen ook betaal moes gewees het.

Kan dit haalbaar wees vir ’n man wat in 2016 ’n salaris van €32 miljoen verdien het?

Daar sal teen einde Junie besluit word of stappe teen die doelskieter van formaat gedoen gaan word.

Sou die Portugese nasionale sokkerkaptein wel van belastingontduiking aangekla word, moet hy dalk sy sokkervaardighede minstens 15 maande met gevangenes deel. As eerste oortreder is sy kans gelukkig skraal dat hy die tronkdeure agter hom sal hoor toeklap.

Carlos Cruzado, president van die vakbond van werknemers verbonde aan Spanje se belastingkantoor, het aangedui dat die ondersoek na Ronaldo se belasting reeds in Desember 2015 begin het.

Volgens hom het Ronaldo die sogenaamde “Beckham-wet” gebruik, waaronder hy net belasting sou betaal vir die jaar van inkomste in Spanje.

Cruzado het ook ’n dwarsklap uitgedeel aan die sokkersterre se belastingraadgewers, wat soms die grense van belastingontduiking oorskry. Hy wil voorts hê dat Ronaldo se adviseurs ook ondersoek moet word.

Luidens berigte in Desember 2016 is Ronaldo dalk nie die enigste sokkerster vir wie ’n rooi kaart wink nie. Verskeie ander spelers en -afrigters vermy glo belasting op kontrakte vir foto-regte deur groot bedrae geld na bankrekenings in die Britse Maagde-eilande te herlei.

Die name van José Mourinho, Manchester United se afrigter, en Mesut Özil, middelveldspeler van Arsenal, het ook opgeduik.


Ronaldo en Mourinho het hierdie bewerings ontken.

Die webtuiste Football Leaks is destyds as die oorsprong van die gerugte beskou. Daar is na bewering twee terabytes se inligting, waaronder oorspronklike kontrakte, deur die groep bekend gemaak.

Daarin word beweer dat Ronaldo aan die einde van 2014 €63,5 (sowat R916,5 miljoen) na die Britse Maagde-eilande oorgeplaas het. Twee Ierse maatskappye sou hom behulpsaam gewees het om die geld te verskuif ’n skrale 11 dae voor Spanje hul belastingwette aangepas het.


Mourinho sou van 2010 tot 2013 glo €12 miljoen (R173 miljoen) na ’n Switserse bankrekening oorplaas.

Dit het verskyn sowat agt maande ná die nou-berugte Panama Papers, wat aan die wêreld uitbasuin het hoe die magtiges en rykes hul geld in sogenaamde belastingtoevlugsoorde verskans.

Hoeveel is Cristiano Ronaldo werd?

Foto: Philipp Schmidli/Getty Images

Foto: Philipp Schmidli/Getty Images

Volgens Celebrity Networth is die sexy sokkerspeler €357 miljoen (netto) werd, met ’n bestendige jaarlikse salaris van sowat €35,7 miljoen. Van die veld verdien hy ’n verdere €35,7 miljoen vir advertensies en endossemente.

Wat is ’n belastingtoevlugsoord?
Dit is gewoonlik ’n klein eilandstaat waar die geheimhouding rondom banksake hoogty vier. Daar is gewoonlik ook baie lae, of in gevalle geen, belasting betaalbaar op finansiële transaksies nie.

Die Britse Maagde-eilande, Macao, die Bahamas en Panama is van die bekendste bestemmings vir hierdie soort transaksie.

Bronne: ESPN1, ESPN2, BBC.com, Bleacherreport.com

Hartverskeurende video wys uitwerking van droogte op Calvinia

$
0
0

“Dit raak nou ’n saak van lewe en dood,” sê André Steenkamp oor die droogte wat plaaslike boere raadop laat.

Steenkamp het hartseer video’s gedeel van die toestand op hul familieplaas, Elandsfontein, tussen Middelpos en Calvinia. In die video kan daar gesien word hoe dor die veld is en hoe skape gulsig voerkrippe toe stroom wanneer daar voer voorgesit word.

“Die plaas is al nege geslagte in ons familie; sedert 1745. Tans gaan dit nie goed nie. Ons moet baie skuld maak omdat die droogte so kwaai is,” vertel hy aan Huisgenoot.

Hy het die video’s aanlyn gedeel in die hoop dat dit bewusmaking sal skep van presies hoe ernstig die droogte is.

“Ons boorgate hou nog en daar is nog drinkwater vir die skape, maar ons groot probleem is die voertekort. Ons weet wel van boere in die omgewing wie se boorgate ook begin opdroog.

“Ons het die afgelope Sondag twee dooie lammers gekry. Hul ma kon eenvoudig nie meer vir hulle sorg nie, want sy moet eerstens vir haarself sorg. Dit is rêrig nou lewe of dood.”

 


Kry al vanaand se Kom Ons Braai-resepte hier

$
0
0

In die Overberg laat sing JP en Christal hul gaste en by Tobie en Tossie se braai speel hulle met Afrikaanse idiome. Grant en Chez pak ’n mannebraai aan.

JP & Christal

jp-en-christal

Vyeslaai

Bestanddele
babaspinasie
vyekaas, gekrummel
bloukaas, gekrummel
vars vye, in stukke gesny
geel tamaties, gehalveer

Metode
Meng al die bestanddele in ’n slaaibak en bedruip met die lekker slaaisous hieronder.

Slaaisous

Bestanddele
3 eetlepels avokado-olie
1 eetlepel balsemieke asyn
1 teelepel volgraanmosterd

Metode
Meng al die bestanddele in ’n bak of fles tot dit goed gekombineer is. Sit voor saam met jou gunstelingslaai.

Steak gerook met eikehoutsaagsels

Bestanddele
riboogsteaks, gerook met eikehoutsaagsels
botter, gesmelt
sout en peper na smaak

Metode

Plaas die riboogsteaks in ’n roker met eikehoutsaagsels en rook ’n uur.
Haal die steaks uit die roker.
Smeer die steaks met gesmelte botter en geur met sout en peper na smaak.
Plaas die steaks op ’n rooster en braai tot gaar.

Gevulde soetrissies

Bestanddele
6 poblano-soetrissies
basiliepesto
ham, fyn gekap
roomkaas
feta, gekrummel
12 repies spek

Metode
Halveer die poblano-soetrissies en verwyder al die sade en ribbetjies.
Meng die basiliepesto, stukkies ham, roomkaas en feta in ’n mengbak.
Stop die soetrissies propvol met die vulsel wat jy pas gemeng het.
Sit die twee helftes van elke soetrissie weer bymekaar en draai die soetrissies toe met twee repies spek per soetrissie.
Braai oor die kole tot die spek gaar is.

jp-en-christal-kos

Kaassousbrood

Bestanddele
’n brood, tuisgebak of gekoop
1 koppie vars room
cheddar, gerasper
roomkaas
2 knoffelhuisies, fyn gekap
hand vol basilie
hand vol grasuie, fyn gekap
1 teelepel meel as die sous te loperig is

Metode
Vir die kaassous, giet vars room in ’n pot en kook stadig. Voeg die gerasperde cheddar, roomkaas, knoffel, basilie en grasuie by en meng goed deur.
Klits die sous deeglik terwyl jy die bestanddele byvoeg. As die sous te loperig is, voeg die teelepel meel by. As jy nie meel het nie, voeg nog ’n teelepel cheddar by.
Sny gleuwe in die brood en giet die kaassous daarin.
Draai die brood toe in foelie en plaas dit op die kole.

Roomyshorings met verskeie souse

Bestanddele

Vir die roomys
1 bak vanieljeroomys
3-4 Turkse lekkers
2-3 vye
vars vrugte van jou keuse
Horings
3 koppies broodmeel
2 teelepels olyfolie
½ teelepel sout
1 teelepel kitsgis
1 koppie warm water
2 teelepels bruin suiker
meel
botter

Laat die roomys buite staan tot sag maar nie gesmelt nie. Sny Turkse lekkers, vye en vars vrugte daarin, vou dan goed saam met die roomys deur en plaas die bak terug in die vrieskas.

Horings
Om die deeg vir die horings te maak, meng die broodmeel, olyfolie, en sout deeglik. Maak ’n holte in die middel van die bak.
Voeg die kitsgis en bruinsuiker by ’n koppie warm water en laat staan tot dit skuim.
Meng die inhoud van die koppie deeglik met die meel tot ’n deegbal vorm. Sprinkel ’n bietjie meel by as die deeg te pap is en brei die deeg tot ’n bal.
Plaas in ’n bak en laat rys.
Breek ’n stukkie deeg af en rol dit dun uit. Smeer met botter en draai om ’n keël wat jy sommer uit foelie kan maak.
Plaas dit dan regop bo-oor koel kole tot gaar gebak.

Karamelvulsel

Bestanddele
1 blikkie karamel
1 koppie room
Metode
Verdun die karamel in ’n mengbak met room. Sit voor as ’n vulsel vir jou nagereg.

Sjokoladesous

Bestanddele
1 koppie room
2 teelepels kakaopoeier
1 eetlepel suiker of karamel

Metode
Giet koue room in ’n mengbak, voeg kakaopoeier by en klits tot die sous verdik.
Voeg suiker of karamel by om dit soet te maak.

Whiskysous

Bestanddele
1 koppie water
karamelsuiker of gewone suiker met ’n bietjie karamelaftreksel
’n sopie whisky of bourbon na smaak
1 koppie room

Metode
Giet die water in ’n pan en voeg die suiker by. Roer tot dit ’n stroop maak.
Voeg ’n goeie whisky of bourbon en room by en roer oor ’n lae hitte. Die sous is reg wanneer dit aan die agterkant van jou lepel vassit.

Tobie & Tossie

tobie-en-tosie

Geurige lamtjops

Bestanddele
6 dik lamtjops
hand vol kruisementblare
2 wiele feta
sout en peper na smaak

Metode
Maak seker jou lamtjops is lekker dik gesny.
Kap die kruisementblare fyn en plaas in ’n bak. Krummel die feta in die bak en meng die kruisement en feta deeglik.
Stop die vetkant van die tjops met die kaas-en-kruisementmengsel.
Geur die tjops met sout en peper.
Braai die tjops tot dit gaar is.

Fyn soetpatat

Bestanddele
3 soetpatats, geskil en in skywe gesny
botter
olyfolie
heuning
brandrissies, fyn gekerf
vars gemmer, gerasper

Metode
Plaas die soetpatatstukke in kookwater en kook tot sag.
Haal die soetpatat uit, plaas dit in ’n bak en maak dit met die hand of met ’n staafmenger fyn.
Voeg die botter, olyfolie, heuning, brandrissies en vars gemmer by soos jy verkies. Jy het nie presiese mates hier nodig nie; voeg die bestanddele by soos dit vir jou lekker is.

tobie-en-tosie-kos

Weg! Kampkos se peerpoeding

Bestanddele
1½ koppie bruismeel
’n knippie sout
1 teelepel koeksoda
½ koppie suiker
2 eetlepels appelkooskonfyt
2 eetlepels sagte botter
2 groot eiers, geklits
½ koppie melk
6 pere

Sous
½ koppie water
1 x 410 g-blik ingedampte melk
125 g botter
½ koppie suiker
vla vir voorsit

Metode
Sif die bruismeel, sout en koeksoda saam en voeg 125 ml (½ koppie) suiker by.
Verhit die appelkooskonfyt en botter tot die botter smelt. Voeg dit saam met die geklitste eier en melk by die droë bestanddele en meng deeglik. Skep dit in ’n gesmeerde potjie met ’n inhoudsmaat van minstens 2 L en plaas die deksel oor.
Pak ’n paar kleinerige kole bo-op en bak 40-45 min. oor matige kole.

Sous
Verhit intussen al die sousbestanddele tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut 5 min.
Giet die sous versigtig oor die vuurwarm poeding. Verwyder die pot van die vuur en laat die sous intrek voor jy dit saam met vla bedien.

Grant en Cheslin

grant-en-cheslin

Geurige hoenderlewertjies met potbrood

Vir die hoenderlewertjies

Bestanddele
1 ui, fyn gekap
hand vol koljander, fyn gekap
rooi en geel soetrissies, fyn gekap
3 bakkies hoenderlewer
1 blikkie chakalaka

Metode
Braai die ui en koljander in ’n pot tot die ui deursigtig raak. Voeg dit soetrissies by en roer.
Voeg die hoenderlewertjies by en braai tot gaar.
Haal van die kole af en voeg die chakalaka by. Roer goed deur.
Sit voor saam met potbrood.

Vir die potbrood

Bestanddele
3 koppies meel
2 teelepels botter
½ teelepel sout
1 teelepel kitsgis
1 koppie warm water
2 teelepels suiker
3 koppies melk
2 knoffelhuisies, gerasper
kruie-gemmer-en-brandrissie-mengsel (te koop by menige winkel)

Metode
Om die deeg vir die horings te maak, meng die broodmeel, botter, en sout goed. Maak ’n holte in die middel van die bak.
In ’n koppie warm water, voeg die kitsgis en suiker by en laat staan tot dit skuim.
Voeg dan saam met die meel en meng goed deur tot ’n deegbal vorm.
Plaas in ’n bak en laat rys.
Plaas die deeg in ’n pot.
Meng die melk, knoffel en kruiemengsel deeglik in ’n mengbak.
Giet die melkmengsel oor die deeg en plaas ’n deksel op die pot.
Plaas die pot op ’n rooster oor die kole en laat bak tot die brood gereed is.

Hoenderfilette met spek-en-kaasvulsel

Bestanddele
6 hoenderfilette
1 blok cheddar, gerasper
6 repies spek

Metode
Sny die hoenderfilette oop.
Pak gerasperde cheddar in elke filet met ’n repie spek bo-oor die kaas.
Maak die filet weer toe en plaas dit op ’n rooster.
Braai tot gaar.

grant-en-cheslin-kos

Kapokaartappels-oor-die-kole

Bestanddele
water
sout na smaak
6-8 aartappels, geskil en in skywe gesny
¼ koppie room
’n skeut melk
sout en peper na smaak
2 knoffelhuisies, gerasper

Metode
Giet water in ’n pot en plaas dit oor die vuur.
Voeg sout by die water en laat die water kook.
Voeg die aartappels by en kook tot sag.
Meng die room, melk, sout, peper en knoffel in ’n mengbak.
Giet die water uit die pot, maar hou die aartappels in. Giet die melkmengsel by en maak die aartappel-en-melkmengsel fyn tot dit kapokaartappels is.

‘Houdini van die dodesel’ spring byna galg vir 8ste keer vry

$
0
0

Die spreekwoordelike kat het dalk nege lewens, maar ’n moordenaar van die Amerikaanse deelstaat Alabama het blykbaar sewe lewens gehad.

Tommy Arthur (75) het dit oor die jare reggekry om sy doodsvonnis sewe keer uitgestel te kry. G’n wonder hy is al die “Houdini van die dodesel” gedoop nie.

Maar Vrydagoggend het sy geluk uitgeloop toe hy in die Holman-gevangenis in Atmore, Alabama, met ’n dodelike gifmengsel ingespuit is.

Selfs tot ’n dag voor die teregstelling het sy regspan bly spook om sy vonnis weer met ’n hofbevel uitgestel te kry. Die Katolieke non suster Helen Prejean, ’n bekende plaaslike stryder vir die afskaffing van die doodsvonnis, het Donderdagaand nog op Twitter aangevoer dat DNS-getuienis Arthur se skuld of onskuld sou kon bewys.


Verlede week nog het ’n optimistiese Arthur op die telefoon aan NBC-nuus gesê hy vertrou sy prokureurs sal ’n manier kry om hom aan die lewe te hou.

Maar hy was verkeerd.


Met al die verskillende vertragingstaktieke van hom en sy regspan, het Arthur 34 jaar in die dodesel deurgebring nadat hy in 1983 die doodsvonnis opgelê is vir die moord die vorige jaar op Troy Wicker.

In daardie stadium was Arthur reeds uit op parool nadat hy ’n vonnis uitgedien het weens die skietdood van sy skoonsuster, maar hy het volgehou dit was ’n ongeluk.

Arthur het Wicker se vrou, Judy, ontmoet en die twee het ’n verhouding begin. Arthur het toe besluit om van Wicker ontslae te raak en hom vermoor.


Ná die misdaad het Judy eers aan die polisie voorgehou sy is deur ’n oortreder verkrag, waarna die verkragter haar man geskiet het. Maar sy het later haar storie verander en beken dat sy en Arthur saamgesweer het om Wicker te vermoor.

Onder die vertragingstaktieke wat Arthur se regspan gebruik het, is om elke keer vir ’n herondersoek te vra aangesien hulle oor nuwe getuienis sou beskik.

In al hierdie jare is Arthur drie keer deur drie verskillende howe verhoor – en elke keer skuldig bevind.

Die Houdini van die dodesel se laaste woorde Vrydagoggend was ’n verskoning aan sy kinders dat hy hulle as pa in die steek gelaat het. Hy het hulle ook van sy liefde vir hulle verseker.


Bronne: NBC News, Mirror, CNN, LA Times

Klavierkuiers: Pedro se duet saam met Kurt Darren sal jou vermaak

$
0
0

Pedro Kruger bring hulde aan ons land se grootste sangers in sy musiek-en-geselsprogram. Dié week kuier Pedro om die klavier saam met Kurt Darren.

Wat was vir jou die lekkerste deel van jou kuier saam met Pedro?
Ek het uiteindelik ’n kans gekry om met ’n klavier maestro te sing, dit bring die beste in my stem uit.

Wat maak Pedro volgens jou uniek?
Daar is nie ’n venynige been in Pedro se liggaam nie, hy laat almal net gemaklik voel, jy wil met hom gesels.

Wat is jou gunstelingding om te doen op ’n Vrydagaand?
Kyk, ek weet nie wanneer laas ek af was op ’n Vrydagaand nie, maar as ek is, is dit sonder twyfel ’n braai saam met my familie.

Noem vir ons drie van jou gunstelingliedjies.
The Prayer, Hotel California en Vier Seisoene Kind.

Wat is drie goed wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?
Dat ek passievol, ’n familieman en gelukkig was.

Kyk hier na Pedro en Kurt se duet:

  • Onthou om elke Vrydag om 20:00 in te skakel vir nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro op VIA (DStv-kanaal 147) en Saterdae om 19:00 vir die heruitsendings.

Jou sterre vir die naweek, 27 en 28 Mei 2017

$
0
0

Hier is wat jou sterre vandag voorspel met Joanne Moore.

gemini-hg-w

SATERDAG
JOU DAG

Die sterre bevoordeel proaktiwiteit en produktiwiteit.

AS JY VANDAG VERJAAR
Jy het ’n oorvloed opwindende projekte wat jy met passie en vasberadenheid najaag. Vanjaar is die jaar om meer sensitief te wees vir die gevoelens van familielede en vriende.

SONDAG
JOU DAG

Probeer vandag jou bes om kreatief en meegevoelig te wees.

AS JY VANDAG VERJAAR
Tot in Oktober spoor Jupiter kreatiwiteit op wonderlike maniere aan. Maar as jy te ongeduldig gaan wees, sal jy nie die nodige inspirasie kry vir ’n produktiewe projek nie.

RAM, 21 Mrt. – 20 Apr.
As jy die balans kan regkry tussen slim en kreatief wees, gaan jy ’n lonende naweek ervaar. Jy het tans baie verantwoordelikhede, maar dit is niks wat jy nie kan hanteer nie.

BUL, 21 Apr. – 21 Mei
Dit wat jy wil hê en dit wat jy nodig het, kan hierdie naweek twee baie verskillende dinge wees. Gebruik gekonsentreerde energie om duidelikheid oor jou doelwitte en drome vir die toekoms te kry. Eers dan sal jy begin vordering maak.

TWEELING, 22 Mei – 21 Jun.
Tweelinge in verhoudings – jou liefdeslewe lyk hierdie naweek problematies. Dit wat jy soek en dit wat die verhouding nodig het, trek met mekaar tou. Enkellopendes, pasop dat jy nie gemengde boodskappe uitstuur nie.

KREEF, 22 Jun. – 23 Jul.
As jy hierdie naweek iets probeer bereik, strewe met die hulp van ander mense daarna om so oortuigend moontlik te wees. Sjarme en ’n oortuigende argument sal jou kry waar jy wil wees.

LEEU, 24 Jul. – 23 Aug.
Die Mercurius/Neptunus-verbinding is uitstekend om jou op kreatiewe wyse uit te druk. As ’n vriend of kollega deur ’n moeilike tyd gaan, sit tyd opsy om met ekstra meegevoel na hul bekommernisse te luister.

MAAGD, 24 Aug. – 23 Sep.
Jy is gretig om dié naweek jou moue op te rol en hard te werk. Maar moenie jouself en ander mense onder te veel druk plaas nie. Onthou net dat volmaaktheid ’n doelwit is om na te reik, nie ’n bestemming nie.

WEEGSKAAL, 24 Sep. – 23 Okt.
Weegskale is meesterlike diplomate met die vermoë om diegene om hulle te kalmeer. Jy gaan beslis hierdie naweek oortyd werk terwyl jy ’n bekommerde lid van die gesin gerusstel of ’n gedane vriend vertroos.

SKERPIOEN, 24 Okt. – 22 Nov.
Maak seker dat jy jouself hierdie naweek omring met inspirerende en positiewe mense, aangesien jy hul buie en gevoelens soos ’n spons gaan opsuig. Probeer ook jou bes om feite van fiksie te skei.

BOOGSKUTTER, 23 Nov. – 21 Des.
Boogskutters het gewoonlik ’n oppervlakkige begrip van ’n wye verskeidenheid onderwerpe, maar hierdie naweek moet jy aandag vestig op belangrike details terwyl jy kwessies met ’n kombinasie van intellek en intuïsie bestudeer.

STEENBOK, 22 Des. – 20 Jan.
Gemeenskapsprojekte en die sosiale media word hierdie naweek bevoordeel terwyl jy intuïsie met kreatiewe denke kombineer. Of jy nou tuis of by die werk is, sit Sondag tyd opsy om gesellig te verkeer.

WATERDRAER, 21 Jan. – 19 Feb.
Jy voel hierdie naweek optimisties en vrygewig. Jy is ook ywerig om ’n behoeftige gesinslid of buurman te help. Moenie meer belowe as wat jy realisties kan lewer nie.

VISSE, 20 Feb. – 20 Mrt.
Hierdie naweek is uitstekend vir kreatiewe projekte en allerlei soorte gemeenskapsaktiwiteite. Moenie alles op sigwaarde aanvaar nie. Gaan die feite deeglik na voor jy glo wat ander mense jou vertel.

Kopiereg Joanne Madeline Moore 2017.

Dié man lees saam sy grillerige troeteldier boeke – en dan speel hulle nog sokker ook

$
0
0

Abu Zarin Hassin(32) van Pahang, Maleisië lees met ’n Kobra slang knus langs sy,sy.

Foto: Magazine Features

Foto: Magazine Features

Hy het ’n professionele slang hanteerder geword terwyl hy by sy plaaslike brand dienste gewerk het.

Magazine Features

Magazine Features

Abu spandeer sy dae met slange deur na hulle te kyk en aktiwiteite uit te voer wat menslik onmoontlik is!

Hulle speel sokker, lees en kyk televisie saam.

– Magazine Features

Kyk hoe lyk ‘baron’ se ‘kasteel’ in Gordonsbaai – ’n video en fotogalery wys

$
0
0

As jy deur die groot houtvoordeur stap, voel dit asof jy in die balkamer so reg uit Beauty and the Beast instap.

 

Vriendelike liggeel mure verwelkom jou, wit pilare wat met goud afgewerk is, strek tot teen die hoë plafon en groot ligte in ’n kandelaarstyl hang vanuit die plafon. Voor die vensters hang goudkleurige gordyne.

Stap jy uit dié leefvertrek, bevind jy jou aan die een kant in ’n sonkamer met ’n uitsig en aan die ander op ’n stoep ideaal vir skemerkelkies.

Maar nee, dit is nie ’n toneel uit ’n magiese Disney-rolprent nie. Dit is die binnekant van die “kasteel” waarin baron Ricardo Baretzky ’n paar jaar gelede gewoon het.

Dié huis aan die hange van die Hottentots-Hollandberge in Gordonsbaai is verlede week opgeveil. Die verkoopprys is nie bekendgemaak nie.

Huisgenoot het in Maart berig dat die huis al meer as ’n jaar en ’n half leeg staan nadat die baron en sy vrou, barones Sjin-hai Baretzky, in 2013 na België verhuis het.

Volgens ’n eiendomsagent, Stefan Engelke, het ’n beleggingsmaatskappy die huis gekoop. Daar word nou beplan om dit op te knap vir herverkoop.

Baretzky, wat jare gelede as Jerome Richard Marais van Kaapstad bekend gestaan het, het Standard Bank vroeër vanjaar nog R3,3 miljoen geskuld aan uitstaande verbandskuld. Hy was twee keer hof toe om te probeer keer dat die huis opgeveil word, maar sy pogings was onsuksesvol.

Die Sondagkoerant Rapport het vroeër berig dat die huis met ’n ondergrondse bunker spog. Die mure is glo ’n meter dik en die vensters kwansuis van koeëlvaste glas.

Tydens Huisgenoot se besoek aan die huis het dit aan die lig gekom dat die vensters nié van koeëlvaste glas is nie. Die voordeur was met slotte en ’n groot grendel gesluit. Van die ander deure in die huis sluit met slotte wat met kodes werk.

Die huis het ruim vertrekke en die twee slaapkamers het albei instap-klerekaste.

Vanuit die hoofslaapkamer stap ’n mens by ’n musiekateljee in wat klankdig is. Rooi fluweelgordyne bedek die mure van dié donker vertrek. Die ateljee word ook agter ’n dik kluisdeur gesluit.

Baretzky, wat deesdae die president is van ’n organisasie genaamd die Europese Sentrum vir Inligtingsbeleid en Veiligheid, het glo graag klavier gespeel, het ’n buurman voorheen aan Huisgenoot vertel.

’n Vertrek wat soos ’n studeerkamer lyk, het ’n boekrak wat van die vloer tot teen die dak strek – enige boekwurm se droom.

Daar is ook ’n groot waskamer en ’n vertrek wat lyk asof dit as stoorkamer gebruik is. Die hoofbadkamer het ’n groot borrelbad, ’n stort en twee wasbakke.

Die tweede slaapkamer, aan die ander kant van die huis, het ook ’n borrelbad, maar dié is onder die venster in die kamer self.

Volgens Engelke beplan hulle baie bouwerk. Hulle gaan onder meer die vloere in die huis oordoen. Die huis sal geverf en die kombuis opgeknap word. “Die huis gaan ook verander word sodat daar vier slaapkamers is,” verduidelik hy. ’n Binnebraai en kroeg word ook beplan.

Van die huis se stoep kyk jy uit oor Valsbaai en op ’n helder dag sal ’n mens baie ver kan sien. Oor jou skouer sien jy die natuurskoon van die berg.

Engelke is baie optimisties oor die huis en hy sê hy sien uit daarna om te sien hoe die huis mooigemaak gaan word.

“Dit sal seker so drie tot vier maande duur,” meen hy.

Volgens Engelke sal die huis ná die opknapwerk vir sowat R5,1 miljoen in die mark gesit word.

Blaai deur die fotogalery van Huisgenoot se besoek aan die huis:

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Foto: Misha Jordaan/Huisgenoot

Inbrekers sien Hollywood-ster se verjaardag as hul ‘uitnodiging’

$
0
0

Die Keeping Up With the Kardashians-werklikheidster Scott Disick is die nuutste glanspersoonlikheid wat deurgeloop het onder die onlangse vlaag inbrake in Hollywood.

Daar is Sondag in die vroeë oggendure by Scott se huis ingebreek, berig die skinderwebtuiste TMZ. Dit volg nadat daar ook by ander bekendes soos sy eksmeisie Kourtney Kardashian se halfsuster Kendall Jenner en dié se kêrel, die kletsrymer A$AP Rocky, ingebreek is. Die akteurs Michael B. Jordan, Jaime Pressly en Emmy Rossum van Shameless-faam het ook al deurgeloop.

Scott, die pa van Kourtney se drie jong kinders, was glo ten tyde van die voorval in Las Vegas om sy 34ste verjaardag te vier.

Volgens TMZ is die makietie by die Las Vegas-nagklub 1 Oak glo goed adverteer. Dit was dus algemene kennis dat hy nie tuis was nie, maar honderde kilometer weg.

 

Vegas we r on the way @liquidlv @1oaklv thanks @jetluxlife for the little G5

A post shared by Scott Disick (@letthelordbewithyou) on

 

Talle mense het ook kiekies en video’s van Scott by 1 Oak op Instagram gedeel.

 

Dit is nie die eerste keer dat daar by sy huis ingebreek word nie, berig TMZ. Dit is onbekend of enigiets gebuit is, berig E!online.

’n Jaar terug het boewe glo ook toegeslaan op sy huis toe hy in Cannes uitgespan het.

Bronne: TMZ, E!online


KYK SKATTIGE VIDEO: Ontmoet die Stormers se nuwe afrigter – en hy is net 5 jaar oud

$
0
0

Dié rugbyaanhanger is net vyf jaar oud en noem die Stormers se name op asof hy daarvoor betaal word!

 

Cameron Malan het sy eerste rugbywedstryd gekyk toe hy net vyf maande oud was. Foto: Facebook/ Grant Malan

Cameron Malan het sy eerste rugbywedstryd gekyk toe hy net vyf maande oud was. Foto: Facebook/ Grant Malan

Cameron Malan van Stellenbosch leef, slaap en eet rugby. Hy het reeds op vyf maande sy eerste rugbywedstryd op Nuweland in Kaapstad gekyk, vertel sy ma, Tania, aan Huisgenoot.com.

“Hoewel hy al van kleins af die wedstryde kyk, het hy eers op driejarige ouderdom begin kyk en verstaan,” vertel sy ma.

En wie is sy gunstelingspeler? Cheslin Kolbe van die Stormers, natuurlik! “Hy wil alles doen wat Cheslin doen. Maak nie saak waaroor hy praat nie, Cheslin is die eerste woord wat uit sy mond kom.

“Cheslin is rêrig sy held,” vertel Tania verder.

Cameron is reeds ’n kranige rugbyspeler en speel vir sy laerskool bulletjierugby.

“Hy is lief vir alle sportsoorte, maar rugby is sy gunsteling omdat ons hom meer daaraan blootstel,” sê Tania.

Hier is sy strategie wat die Stormers moet volg om hul teenstanders die Sharks van KwaZulu-Natal te klop!

 

2-jarige kritiek ná swembadongeluk – gesin se vinnige reaksie red dalk sy lewe

$
0
0

Paramedici loof ’n Pietermaritzburgse gesin vir hulle vinnige optrede wat hul tweejarige seun se lewe waarskynlik gered het. Die kleinding is Saterdag met sy gesig na onder in die swembad by hul huis gevind en het dadelik kunsmatige asemhaling op hom toegepas.

Die peuter se ouers het hom in die swembad by hul huis in Scottsville in KwaZulu-Natal opgespoor nadat hulle agtergekom het hy is weg, sê die Netcare 911-woorvoerder Chris Botha.

Paramedici het op die toneel afgekom waar sy gesin reeds besig was om kunsmatige asemhaling op hom toe te pas.

“Nadat die paramedikus die hartmonitor aan die kind gekoppel het, het hulle gesien sy hart het weer begin klop.”

Botha sê die seun moes op ’n ventilator geplaas word en daar moes boonop gevorderde lewensondersteunende gedoen word.

Hy is gestabiliseer en in ’n kritieke toestand na die hospitaal gehaas.

Die paramedikus skryf die sukses van hierdie reddingspoging toe aan die vroeë kunsmatige asemhaling.

“Dit is weer eens bewys dat vroeë kunsmatige asemhaling regtig werk,” sê Botha.

Bron: News24

Gewilde plaaslike sangeres verskyn nou in gunsteling-sepie

$
0
0

Sy vermaak gereeld Suid-Afrikaners met haar pragtige stem, en nou is sy ook op die kassie te sien!

Die Suid-Afrikaanse sanggroep Blackbyrd se hoofsanger, Tarryn Lamb (32), is nou in die gewilde sepie Suidooster te sien.

Tarryn Lamb is as Kim in die gewilde sepie Suidooster te sien. Foto: Verskaf

Tarryn Lamb is as Kim in die gewilde sepie Suidooster te sien. Foto: Verskaf

Sy is vir ses weke op die kassie te sien as die geheimsinnige Kim, wat Ruiterbosch se mense al hul dae gee. Tarryn het Woensdag, 24 Mei haar eerste verskyning gemaak.

Ná 7 Sama-benoemings en 8 nommereentreffers is sy reg om die TV-wêreld oor te neem.

Sy het ’n paar vrae aan Huisgenoot beantwoord:

  1. Hoe het jy met toneelspel begin? Op watter ouderdom het die gogga jou gebyt?
    Ek het altyd ’n liefde gehad vir toneelspeel. Reeds in die kleuterskool het ek altyd in die Make Believe Area met my maatjies gespeel en kostuums aangetrek. Ons het ons eie tonele opgemaak. Toe ek op hoërskool kom, het ek drama gedoen. My drama-onderwyser, Carlo Fourie, het my baie geïnspireer. Ek het die karakter Maria gespeel in ons skool se vertoning van West Side Story. Dit was absoluut fantasties en daar het die gogga gebyt!
  2. Erf jy jou talent by iemand in die familie? By wie?
    My ma inspireer my baie. Sy was my kleuterskoolonderwyseres en haar talent is absoluut iets om oor te praat. As dit by toneelspeel, sing of dans kom, gaan dit vir my oor uitbeelding en die stories wat ons almal probeer vertel.
  3. Wou jy nog altyd in die vermaakbedryf werk of het jy ander drome vir jou loopbaan gekoester?
    Ek wou in een stadium baie graag ’n verpleegster wees!
  4. Jy was ook destyds in Binnelanders te sien. Hoekom het jy besluit om weer op die kassie te verskyn?
    Ek het vier jaar aan die Waterfront-teaterskool studeer. My hoofvakke was drama, musiekteater en dans. My eerste rol ná die teaterskool was in David Kramer se Songbook en daarna het ek die geleentheid gekry om in Binnelanders te speel. My droom was altyd om al drie dissiplines (sing, dans en toneelspeel) te bemeester en dan met my musiekloopbaan te begin. My musiek was toe volstoom aan die gang en ek het besluit om op my musiekloopbaan te fokus. Ek het verlede jaar die besluit geneem om uit my gemaksone te beweeg en terug te keer na my oorspronklike liefde. Ek het vir myself gesê ek moet dit net weer probeer doen. Toe ek die geleentheid kry om in Suidooster te speel, was ek verskriklik opgewonde!
  5. Jy is ook te sien in die fliek Ellen Pakkies. Is dit soms vir jou moeilik om twee verskillende hoede te dra – sing én toneelspeel?
    Ek is mal oor dans ook! Vir my gaan dit meer oor fokus en toewyding. Ek wou baie graag alles uitleef wat my passie is en ek het ook groot respek vir die kunstenaars en akteurs wat so hard aan hul kuns werk. Die belangrikste ding vir my is om baie hard te werk, 200% te fokus en net te leer en leer.
  6. Wat geniet jy meer, sing of toneelspeel?
    Ek geniet albei, maar om verskillende redes. Met toneelspel kan jy diep in die gedagtes van ’n karakter klim en ’n spesifieke storie vertel. Jy kan heeltemal van gedaante wissel en dinge doen wat jy nie in jou eie lewe doen nie. Met sang vertel jy ’n storie en almal wat die lied hoor, interpreteer die storie op hul eie manier.
  7. Hoe lyk ’n tipiese dag vir jou?
    My dag begin om vyfuur. Ek gaan dan weer deur die toneel vir die dag, eet ontbyt en maak klaar vir werk. Ek is elke oggend tussen seweuur en halfagt op die stel.
    Dan doen ons tot tienuur repetisies voor ons begin skiet. Terwyl ek wag vir my toneel vir die dag, leer ek my woorde vir die volgende dag en doen my administratiewe werk. As ek besig is met die laaste toneel, maak ek gewoonlik halfagt klaar.
    Wanneer ek by die huis kom, tap ek vir myself ’n lekker bad in en ontspan. Daarna leer ek my woorde vir die volgende dag.
  8. Waarmee is jy tans besig?
    Ek is besig om my teks te leer vir ’n ander reeks, “Dans” wat volgende week begin skiet. Ek is ook besig om hard te oefen, want ek gaan ’n danser speel in die reeks. Ek sien baie daaruit. Ek neem ook vanjaar deel aan Classics is Groot; dus is ek ook besig om my liedjies te leer.
  9. Vertel ons meer oor jou karakter, Kim, in Suidooster.
    Kim is ’n baie geheimsinnige, komplekse karakter. Sy het ’n belangrike keuse om te maak in haar lewe en sy weet dié keuse sal haar toekoms bepaal.
  10. Sien jy iets van jouself in Kim?
    Ek het nie aan die begin nie, maar toe ek haar storielyn op ’n dieper vlak verstaan, kon ek baie met haar vereenselwig. Sy is ’n sterk vrou met ’n moeilike keuse.
  11. Is daar enige snaakse oomblikke op stel waarvan jy ons kan vertel?
    Ek het eendag my woorde vergeet en my eie sin opgemaak, maar toe kry ek alles verkeerd en is steeds in die emosie van my karakter. Toe hoor ek sommige mense giggel en toe bars ek maar net uit van die lag! Hier by Suidooster is almal een groot, lieflike familie. Ek gaan almal baie mis.
  12. Wie bewonder jy en hoekom?
    My familie is my grootste inspirasie. Dit is ’n groot voorreg om te doen waarvoor ek lief is met die grootste onvoorwaardelike liefde en ondersteuning van my familie. Dit maak die wêreld se verskil vir my!
  13. Wat sal aanhangers verras van jou?
    Dat ek Afrikaans praat! Dit is nie eintlik my eerste taal nie! Hopelik sal hulle my toneelspel geniet.
  14. Was daar al ooit ’n snaakse of vreemde situasie met ’n aanhanger?
    Nog nie. Soms voel ek baie skaam as mense ook baie skaam is rondom my. Dit is altyd cool as mense tyd maak om hallo te sê. Dit is ’n inspirasie as hulle my werk geniet. Dit gee my moed om aan te hou en harder te werk.
  15. Het jy, soos sommige mense, ’n vyfjaarplan of beplan jy enigsins jou lewe? Wat sal jy graag nog wil bereik?
    Ek droom heeltyd en werk baie hard aan al die goed wat ek wil doen, maar ek gee alles aan God oor om my te lei waar Hy my wil hê. Die lewe verander die hele tyd, maar liefde bly te midde van alles staan.
  16. Wat is van die hoogtepunte in jou loopbaan?
    Daar was so baie wonderlike oomblikke in my loopbaan tot dusver. Ek dink een van die grootste hoogtepunte was toe ek op YouTube gaan kyk en video’s sien van mense wat my liedjies sing. Dit is absoluut hartroerend.

 

2 verdrink voor hotel ná familie se mislukte mensekettingreddingspoging

$
0
0

’n Familie se swemtyd voor die Salt Rock Hotel aan die Kwazulu-Natalse kus het Saterdag in ’n tragedie ontaard nadat ’n reddingspoging nie geslaag het nie, het die IPSS-nooddiensgroep gesê.

Een van ses familielede het glo in die knyp beland terwyl hy in ’n onbewaakte strand geswem het en die familie het ’n menseketting gevorm om hom te probeer red.

“Die persoon wat in die moeilikheid beland het, het teruggekom by die strand, maar die vyf ander is teruggetrek in die see,” lui die verklaring.

Drie van die familielede was gelukkig genoeg om terug te swem na die strand toe, maar twee vroue is ingetrek verby die res.

’n IPSS-lid het by die rotstoring by die getypoel gestaan en ’n reddingswemmer na die vroue wat met hul gesig na onder in die water was, gelei.

Die vroue is na die strand gebring, maar is na 45 min. van kunsmatige asemhaling dood verklaar.

Bron: News24

Lyk van Matie naby bekende wynplaas gevind ná kapingsdrama

$
0
0

’n Beweerde kaping het ’n tweejaar-BA-student aan die Universiteit van Stellenbosch Saterdag geëis, berig Die Matie.

Die lyk van die 21-jarige Hannah Cornelius – van Scarborough, naby Simonstad – is volgens die Sondagkoerant Rapport naby ’n bekende wynplaas buite Stellenbosch gevind.

Rapport berig die polisie het die jong man – sy naam is nog nie bekend nie – wat saam met Hannah in die motor was Saterdag in Kraaifontein opgespoor en het hom na ’n hospitaal geneem.

Hanna was volgens Rapport die dogter van die hooflanddros van Simonstand, Willem Cornelius, terwyl sy vrou, Anna, self ’n bekende in regskringe was.

Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder Noloyiso Rwexan het aan Die Matie bevestig twee verdagtes in hul dertigs is in verband met die saak in hegtenis geneem.

’n Saak van moord, poging tot moord en kaping is geopen en die verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Bronne: Die Matie; Rapport/Netwerk24

Viewing all 9424 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>