Somali’s is ’n vindingryke en vasberade volk, laat weet ons blogger Rudie Thirion, ’n hulpverlener in dié oorloggeteisterde land. En hulle sal nie sommer die ander wang draai nie . . .
!['n Nomade, 'n deftige villa en 'n restaurant in Somalië]()
NÁ MY eerste blog het iemand gesê hy sou graag meer wou weet van hoe die mense hier in Somalië leef. In ’n neutedop is die antwoord: Ek weet nie regtig nie. Ek beleef die Somali’s as taamlik geslote teenoor buitestanders. Ek kan dus maar net vertel wat ek as buitestaander beleef en waarneem.
Die klans: beskerming én wraak
Ek dink hul geslotenheid teenoor vreemdelinge het meestal te doen met hul eeue lange geskiedenis van ’n nomadiese lewenswyse en dat hul basiese samelewingseenheid die klan is.
Daar is hoof-klans en sub-klans, en dan sub-sub-ensovoorts klans. Toe die Somali’s nog meestal rondgeswerf het, was die klans ’n baie belangrike veiligheidsnet in ’n wêreld wat nie altyd so vriendelik was nie. Die klan het gesorg vir die enkeling se oorlewing en andersom.
Vandag nog speel klans ’n baie belangrike rol in hul lewe. Die klan sorg vir sy lede wat in die moeilikheid beland, beskerm hulle teen onreg en sorg dat hulle in ag geneem word as werkers in ’n streek gewerf word.
As een klan ’n ander se tradisionele weiveld of waterbronne bedreig, sal die bedreigde klan maklik die wapen opneem om sy eie te beskerm. As ’n lid van ’n klan te na gekom word, sal die klan vir hom opstaan. As ’n lid van ’n klan doodgemaak word, is daar ’n ereskuld wat betaal moet word. Dit is die plig van die klan om hul lid se dood te wreek.
![Nomade Nomades in Somalië]()
Sommige Somaliërs voer steeds ’n swerwersbestaan.
Dit lyk vir my of die klans en hul kleiner groeperings ’n mate van geslotenheid handhaaf en selfs ander klans met taamlike agterdog bejeën. Dis waarskynlik waarom hulle ook nie so oop is teenoor ons nie-Somali’s nie.
Moet my egter nie verkeerd verstaan nie – Somali’s is vriendelike mense wat vreemdelinge verwelkom. Ek het goeie Somali-vriende en twee van hulle noem my selfs “broer”. Maar daar is ook duidelike perke.
Van superryk tot brandarm
Net soos ander mense het Somali’s ook maar hul klasverskille. Daar is die rykes, die middelklas, die armes en die hulpbehoewendes. Sommige Somali’s is regtig ryk, woon in luukse huise en toer die wêreld vol.
Die middelklas-Somali’s woon in gewone huise met gewone meubels, dra gewone netjiese klere, besit voertuie of nie, en verkies om gewone Somali-kos te eet. Hulle besit klein familiebesighede of werk vir groot organisasies of ondernemings. Daar is ook die groter boere in die saaidele van die land.
![Somali plase uit die lug]()
Landerye uit die vliegtuig.
Die armer Somali’s is gewoonlik die arbeiders, straatsmouse, kleinboere en die veeboere wat nomadies of half-nomadies is. Hulle bly dikwels in sinkhuise, huise met takmure en gras- of sinkdakke, of in tradisionele hutte.
![Vrugteverkopers op 'n straathoek in Mogadisjoe, Somalië]()
Straatsmouse in Mogadisjoe
Die hulpbehoewendes is regtig arm mense met niks. Heelwat Somali’s het in die droogte van 2011 alles verloor. Veral die veeboere is die swaarste getref en het niks oor nie. Hulle het dorpe en stede toe getrek, saam met die derduisende ontwortelde Somali’s wat weens die konflik in die land hul blyplekke moes verlaat. Baie dorpe en stede, soos dié wat van die terreurgroep Al-Sjabaab bevry is, is vreedsamer en veiliger en dis waarheen almal getrek het.
Die ontworteldes woon in tradisionele hutte gedek met enigiets wat beskikbaar is, soos stukke plastiek, lap en plastiekseile wat deur hulporganisasies beskikbaar gestel word. Dis hartverskeurend om te sien hoe hierdie arme mense leef.
Die meer gelukkiges woon ook dikwels in tente of sinkhuisies wat voorsien word deur hulporganisasies onder leiding van UNHCR, die VN se vlugtelingagentskap.
![’n Kamp vir ontworteldes in Somalië]()
’n Kamp waar ontworteldes gehuisves word.
Die ontworteldes is in ’n groot mate afhanklik van voedselhulp. Party hulporganisasies hier pak projekte aan waarvoor handearbeid nodig is, en gebruik dan dikwels die ontworteldes om die werk teen kontantvergoeding te doen of soms as deel van ’n kos-vir-werkprojek.
Vindingryke vasbyters
Dis vir my opvallend hoe vindingryk die Somali’s is, en hoe hulle kan vasbyt. Dis waarskynlik ook die gevolg van die eeue oue swerwerskultuur in ’n baie onherbergsame en onvriendelike omgewing met gereelde droogtes en ander uitdagings. Dis die karaktertrek van Somali’s waarvoor ek die meeste respek het.
Oral sien jy maniere waarop mense probeer om ’n paar sjielings te maak. Dit kan ’n tuisgemaakte tafeltjie langs die pad wees met ’n paar pakkies sigarette, lekkers en ander goedkoop-verbruikersgoed op wat verkoop word. Of ’n koolstofie wat eintlik maar ’n metaal silinder op pootjies is waarop ’n ketel kook vir tee met ’n paar bekers en ’n warmfles op ’n tafel.
![Besighede in Somalië: matte vleg, winkels, restaurant]()
Bo word matte gevleg, links onder is winkels en regs onder ’n restaurant.
Nou het ek nog nie vertel hoe Somali’s leef nie. Miskien moet ek maar volstaan met: “Ek weet nie.”
- Rudie
Rudie Thirion is ’n oud-kapelaan wat deesdae hulpverlening in Somalië doen. Sy blyhuis is in Pretoria maar hy bring die meeste van sy tyd deur in ’n Verenigde Nasies-kamp in Mogadisjoe. Hy blog vir ons oor sy omswerwinge en wedervaringe noord van die ewenaar.