Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all 9424 articles
Browse latest View live

Wat ek uit aanlynliefde geleer het

$
0
0

Ná nege maande van aanlyn vry weet ons verhoudingsblogger Erla nou baie goed wat ’n man alles in ’n vrou soek . . .

1145614_24504249

Foto: Penny Matthews

WAT soek mans? Net soos ons Prins Sjarmant soek, soek hulle Aspoestertjie. Wat natuurlik meer “As” is as ’n tasbare werklikheid.

Noudat ek al byna nege maande aan ’n liefdesoekwebwerf deelneem,  word die prentjie ál duideliker – ’n man soek ’n vrou met mooi geverfde naels.

Moenie my vra hoekom nie.

Die hoeveelheid mans wat al op my tone gereageer het, is te veel om, wel, op my tone te tel. Hul hou van goed versorgde voete, want dan is die res goed versorg, het een man gesê, en hulle hou van ligte, helder naellak. Dis seker meer tradisioneel vroulik as swart, bruin en donkerpers.

Mooi, sagte hande is ook altyd wenners, en die meeste mans oe en aa oor ’n Franse manikuur,  waar die naels wit en die naelbed pienk geverf is. En weer eens kan jy my ’n prys gee as ek weet hoekom.

Hierdie een sal nie vir jou ’n verrassing wees nie: Mans hou van borste. Rondings en bultings en mooi onderklere. En onthou, as jy ’n man wil verlei of hom twee voor wil wees, dra altyd ’n sexy hemp of rok wat met jou rondings spog – want dit is wat ’n man sien as hy oorkant jou by ’n tafel sit.

Mans hou meer van rokke as van broeke. Dis seker maar weer die vroulike ding. Dit pas my natuurlik ook, want ek lyk maerder in ’n rok as in ’n broek.

Ek het al met mans uitgegaan wat selfs raaksien as my wenkbroue pas gepluk is – mans is meer oplettend as wat ’n mens dink – en soos baie vroue ’n man oppervlakkig meet aan die motor waarin hy ry, so meet mans vroue aan hul voorkoms en die versorging daarvan.

Ek lees nou die dag ’n blog van ’n ander vrou wat ook op ’n liefdesoekwebwerf is en kla dat al die onkostes wat sy moet aangaan om haarself te versorg omtrent hoog is. En sy is reg. Dis hare, en naels en klere en dalk selfs gim toe gaan. Is dit onregverdig? Chauvinisties? Nie noodwendig nie.

Dis dikwels die mans wat moet uithaal en betaal op ’n afspraak. En die vroue meet die mans aan hul status en inkomste en vermoë om te sorg. ’n Man met ’n klein bankbalans is vir baie vroue net so ’n swak belegging as wat ’n groot vrou weer vir sommige mans is. Ja, dis vlak, maar dis die werklikheid: Arm mans en oorgewig vroue gaan nie oorval word deur afsprake nie.

So van oorgewig gepraat: Ek is nie maer nie, en vind dat mans wel van kurwes hou. En meer mans hou van intelligensie as wat jy sou dink – solank jy nie slimmer is as hy nie, want dan verloor hy so gou belangstelling as wat jy kan sê IK.

Die grootste verrassing vir my is hoe baie mans oënskynlik na liefde smag. Na iemand wat hul aanvul en vervul – spesifiek die ouer mans wat al deur ’n egskeiding of twee is.

Want agter die naels en die rok en die rondings klop ’n hart – en dis wat almal soek.

- Erla

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

 


Gevulde botterskorsies

$
0
0

2 botterskorsies, in die lengte gehalveer en ontpit
30 ml (2 e) olyfolie
sout en peper
250 ml (1 k) gaar lensies
500 ml (2 k) gaar koeskoes
2 ml (½ t) fyn komyn
knippie koljander
60 ml (¼ k) rosyntjies
45 ml (3 e) gekapte vars koljander

Verhit die oond tot 200 °C.

  1. Pak die botterskorsies op ’n bakplaat, smeer met die olyfolie en geur met die sout en peper.
  2. Bedek met foelie en rooster 20 minute.
  3. Meng die res van die bestanddele en vul die botterskorsies daarmee.
  4. Rooster 30 minute of tot sag.

Sit voor met jogurt en nog koljander.

Hoendervlerkies met jogurtsous

$
0
0

2 ml (½ t) gerookte paprika
2 ml (½ t) rooipeper
2 ml (½ t) knoffelpoeier
5 ml (½ t) fyn komyn
12 hoendervlerkies
30 ml (2 e) olie
250 ml (1 k) Griekse jogurt
30 ml (2 e) mayonnaise
30 ml (2 e) gekapte knoffelgrasuie
sout

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  1. Meng die speserye en vryf die vlerkies daarmee in.
  2. Ryg elke vlerkie aan ’n stokkie, pak op ’n bakplaat, bedruip met die olie en oondrooster 20 minute of tot gaar of maak dit gaar oor die kole.
  3. Meng die res van die bestanddele tot ’n doopsous en sit dit saam met die vlerkies voor.

Appelkoos varkkerrie

$
0
0

500 g varkneksteaks, in repe gesny
Sout en peper
125 ml (½ k) mielieblom
45 ml (3 e) olie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
5 ml (1 t) gerasperde gemmer
15 ml (1 e) kerrie
500 ml (2 k) hoenderaftreksel
1 blik (410 g) appelkose, gedreineer en gesny
125 ml (½ k) Griekse jogurt

  1. Geur die vark en rol dit in die mielieblom.
  2. Braai dit bietjies-bietjies in die olie tot goudbruin.
  3. Plaas die vleis in die pan; voeg die geurmiddels en aftreksel by. Laat prut tot gaar.
  4. Meng die appelkose en jogurt deur.

Sit voor op jasmynrys. Garneer met koljanderblare

Diabeetbeskuit

$
0
0

Dié lae-GI-beskuit word gemaak soos biscotti en is ideaal vir diabete. Onthou net, dis nie so bros soos gewone beskuit nie en moet goed geweek word in jou koffie of tee.

Lewer 20 stukkies
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute
Uitdroogtyd: oornag

3 eiers
125 ml (½ k) fruktose
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) semels
250 ml (1 k) ProNutro Wholewheat
Apple Bake met soja
7 ml (1½ t) bakpoeier
100 g neut-en-sademengsel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakplaat.

  1. Klits die eiers tot skuimerig en lig, voeg die fruktose by en klits goed.
  2. Meng die hawermout, semels, ProNutro en bakpoeier goed en voeg by die eiermengsel. Meng deur.
  3. Voeg die neut-en-sademengsel by en meng deur.
  4. Plaas op die bakplaat, vorm in ’n lang, ovaalvormige rol en bak 25 minute of tot gaar en tot ’n toetspen skoon uit die middel van die beskuit kom.
  5. Laat afkoel en sny in skyfies van 5 mm dik.
  6. Pak in ’n enkellaag op ’n bakplaat en droog oornag uit in die oond by 100 °C.

Fast and Furious se Paul Walker sterf

$
0
0

Die Amerikaanse akteur Paul Walker, 40, van die Fast and the Furious-aksieflieks het die naweek in ‘n motorongeluk in Santa Clarita, noord van Los Angeles, Kalifornië, gesterf.

Volgens berigte was Walker ‘n passasier in ‘n vriend se motor toe die ongeluk gebeur het.

Die akteur was glo besig om as vrywilliger vir sy organisasie, Reach Out Worldwide, te werk om geld in te samel om slagoffers van die tifoon Haiyan in die Filippyne te help.

Die voertuig was in vlamme gehul toe die plaaslike polisie by die toneel aangekom het.

Luidens ‘n verklaring is twee mense op die toneel dood verklaar.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Tien flieks waarin Paul Walker gespeel het

$
0
0

paulwalker-gif

Die Amerikaanse aksie-akteur Paul Walker, 40, het die naweek in ‘n motorongeluk in Santa Clarita, noord van Los Angeles, Kalifornië, gesterf. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy rol in die aksiefliek-reeks, Fast and the Furious. Die sewende Fast and the Furious-fliek word volgende jaar uitgereik.

Hier is tien flieks waarin Paul Walker naam gemaak het:

  1. Monster In The Closet (1986)
  2. Pleasantville (1998)
  3. Varsity Blues (1999)
  4. She’s All That (1999)
  5. The Skulls (2000)
  6. The Fast and the Furious 1 (2001)
  7. Joy Ride (2001)
  8. Into the Blue (2005)
  9. Flags of Our Fathers (2006)
  10. Hours (2013)

Sit jou beste voet voor

$
0
0

“Daar is genoeg TV-kokke wat julle kan leer hoe om kos te maak. Maar min mense kan jou leer oor die dinge wat aan die etenstafel gebeur.”

Só sê Karen Dudley, eienaar en kok van The Kitchen in Woodstock, aan die My School Dream School SA-leerders in vandeesweek se episode.

Daar is sekere etiketreëls wat jy aan die etenstafel eenvoudig móét gehoorsaam.

As jy die gas is

Wees beleefd teenoor jou gasheer of –vrou. Stel jouself voor as julle nog nie ontmoet het nie. Hier is nog ’n paar reëls:

  • Daag betyds op.
  • Neem ’n dankie-sê geskenk saam, as is dit net iets klein soos ’n sjokolade.
  • Sê dankie dat jy genooi is.
  • Vra die gasheer of -vrou uit en kry iets om oor te gesels.
  • Bied aan om te help – selfs met die skottelgoed!
  • Bêre jou selfoon en ander elektroniese ware in jou sak. Moet nooit aan tafel ’n SMS stuur, ’n oproep beantwoord (tensy dit ’n saak van lewe en dood is) of ’n boodskap op Facebook laai nie.

Dek die tafel só

  • Begin by die stoel. Dit sal jou ’n verwysing gee van waar jou gas sal sit.
  • Die mes se lem moet altyd na binne wys (na die bord se kant toe).
  • Die dessertlepel se steel wys na regs.
  • Die wynglas en kort glas word regs van die bord neergesit.

Tafelmaniere

  • Sit regop en moenie jou arms of elmboë op die tafel laat rus nie.
  • Neem die servet en sit dit op jou skoot. As jy klaar is daarmee, vou dit op en sit dit langs jou bord neer.
  • Wag eers totdat al die gaste opgeskep het voordat jy begin eet.
  • Proe eers die kos voordat jy sout of peper oorstrooi.
  • Botter jou brood op jou bord, moenie jou brood in die lug laat hang nie.
  • Wanneer jy geregte aanstuur, sorg dat dit in een rigting beweeg, gewoonlik na regs.
  • As daar meer as een kosgang is, gebruik die messegoed wat die verste van die bord geplaas is, eerste gebruik.
  • Moenie die laaste porsie kos opskep voor jy nie vir die ander gaste gevra het of hulle dit dalk wil hê nie.
  • Wanneer jy klaar geëet het, sit die mes en vurk teen mekaar op jou bord neer.
  • Wanneer jy tydens ete moet badkamer toe gaan, sê eenvoudig: “Verskoon my, ek sal nou terug wees.”

Kim Kardashian kap kritici

$
0
0

kimk11

Kim Kardashian het teruggekap oor beskuldigings dat sy te min tyd deurbring saam met haar dogter, North West.

Die werklikheidster, wat nou haar verloofde, Kanye West, op sy Yeezus-toer deur Amerika vergesel, het op Twitter teen die kritiek uitgevaar dat sy haar vyf maande oue dogter afskeep.

Die brunet was woedend nadat een van haar 18,8 miljoen Twitter-volgelinge glo haar band met North bevraagteken het in reaksie op ’n twiet wat sy Saterdag geplaas het. In die twiet het Kim gesê: “Ons het ons babadogter vandag die eerste keer gevat om te gaan swem. Sy was dol daaroor! #BestDayEver”, maar nie ’n foto van die geleentheid bygesit nie.

Die ster het laat hoor: “Jy klink so oningelig. Omdat ek nie elke beweging wat my dogter maak twiet of op Instagram deel nie, beteken dit ek is nie 24 uur per dag by haar nie? Ons deel wat ons wil. Of is dit omdat ek my verloofde by elke vertoning gaan ondersteun en foto’s plaas? Wanneer die baba gaan slaap, word ouers toegelaat om te werk en mekaar te ondersteun en dalk selfs pret te hê.”

Kim (33) het die afgelope ruk onder kritiek deurgeloop omdat sy elke aand Kanye se konserte bywoon pleks van tuisbly om na haar baba te kyk.

Die twee het ook Saterdagoggend sonder North gaan inkopies doen in die boetiek The Webster in Miami, Florida.

 

12 Paul Walker-aanhalings

$
0
0

“Ek is gek daaroor om die aksiegoed te doen. Dis sooooveeel pret!”

 

Paul Walker, die akteur van The Fast And The Furious, is op 30 November in Santa Clarita, Kalifornië, in ’n motorongeluk dood. Hy was 40 jaar oud.

 

Hier is ’n paar van sy gesegdes:

  1. Jy weet, al wat werklik saak maak, is dat die mense wat jy liefhet, gelukkig en gesond is. Alles anders is net strooisels op die roomys.
  2. Ek is nie die soort ou wat voordeel uit my posisie trek nie.
  3. Ek wou nog altyd met motors gejaag het, sedert ek ’n jong seun was, net soos baie mans, dink ek.
  4. Ek is gek oor motors. Ek het ’n vliegtuigloods vol motors.
  5. Ek is gek daaroor om die aksiegoed te doen. Dis sooooveeel pret!
  6. Ek leef volgens: Doen dit goed of gaan huis toe. Dis met alles. Dis om iets heelhartig te doen of glad nie. Ek pas dit met alles toe. Ek pas dit toe met verhoudings, ek pas dit toe met sport, ek pas dit toe met alles. Dis waarvolgens ek leef. Dis hoe ek daarvan hou.
  7. Ek wens ek kon met elke waagtoertjie agter die stuurwiel wees.
  8. My filosofie is: As jy nie pret kan hê nie, is dit onsinnig om dit te doen.
  9. Die glans en die styl is nie vir my belangrik nie.
  10. Ek sou daarvan gehou het om op ’n perd se rug te woon en net ’n cowboy te wees.
  11. Ek is vir niks bang nie. Dis net hoe ek is.
  12. Ek word nie, soos sommige mense, deur geweld aangetas nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ek geniet daardie intensiteit.

Weer: Temperature vir 3 Desember 2013

$
0
0

Alexanderbaai……..15 22
Beaufort-Wes………17 29
Bethlehem…………12 21
Bloemfontein………16 27
Calvinia………….14 27
Cradock…………..14 27
De Aar……………15 29
Durban……………19 27
Emalahleni………..17 26
Ermelo……………14 23
George……………15 25
Graaff-Reinet……..15 27
Grahamstad………..14 27
Johannesburg………15 24
Kaapstad………….15 21
Keetmanshoop………12 35
Kimberley…………16 29
King Williams Town…16 28
Klerksdorp………..16 25
Ladysmith…………16 27
Lephalale…………20 30
Mafikeng………….18 25
Mokopane………….19 29
Musina……………20 32
Nelspruit…………18 28
Oos-London……….19 26
Oudtshoorn………..17 31
Phalaborwa………..18 30
Pietermaritzburg…..16 28
Polokwane…………15 27
Port St Johns……..19 27
Port-Elizabeth…….17 22
Potchefstroom……..17 28
Pretoria………….17 29
Queenstown………..13 27
Richardsbaai,……..20 29
Riversdal…………16 27
Rustenburg………..18 29
Skukuza…………..21 30
Springbok…………15 24
Standerton………..15 24
Sutherland………..10 24
Tzaneen…………..17 28
Umtata……………16 28
Upington………….18 31
Vereeniging……….14 25
Vredendal…………15 26
Vryburg…………..16 30
Walvisbaai………..14 24
Welkom……………16 27
Windhoek………….16 34
Worcester…………15 27

Lelikste hond ter wêreld sterf

$
0
0
Foto: ELITEPHOTOAGENCY.COM

Foto: ELITEPHOTOAGENCY.COM

Elwood, ook bekend as Yoda, die kruising tussen ’n chihuahua en ’n Chinese kuifhond wat in 2007 as die lelikste hond ter wêreld aangewys is, het onverwags gevrek.

Elwood se eienaar, Karen Quigley (52), sê hy het op Thanksgiving-oggend ewe skielik gevrek. Terwyl sy teen die trane stry, het sy gesê: “Dit was baie skielik.”

Al het die agtjarige hond die afgelope maande gesondheidsprobleme ervaar, het dit gelyk of dit goed gaan.

Elwood se eiesoortige voorkoms het hom die titel help wen. Met sy donker, haarlose lyf en wit Mohawk-kuif het hy gou die bynaam Yoda of ET gekry omdat hy soos die bekende wetenskapsfiksiekarakters gelyk het.

Nadat hy die titel verower het, het die hond van New Jersey die onderwerp van ’n kinderboek oor aanvaarding geword.

Die dierasie het baie mense laat glimlag en ook met verskynings by meer as 200 geleenthede vir verskeie liefdadigheids- en niewinsgewende organisasies help geld insamel.

-Faiza Mallick

Bronne: dailymail.co.uk, metro.co.uk

Suid-Afrikaanse grafstene kan in 2014 veiligheidstelsels kry

$
0
0

Die wêreld se eerste veiligheidstelsel vir grafstene gaan vroeg volgende jaar in Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk bekendgestel word om die hoë voorkoms van grafskending en –diefstal te bekamp.

Volgens Mark Pringle, die bestuurder van Chaldean Trading, die maatskappy wat die veiligheidstelsel vir grafstene ontwikkel, is grafsdiefstal ’n groot probleem in Suid-Afrika. Sowat 20 grafstene is byvoorbeeld in die eerste twee weke van November uit die Avalon- en West Park-begraafplase in Johannesburg gesteel, berig Timeslive.co.za.

“Grafskending en –diefstal het ’n ongelooflike uitwerking op die naasbestaandes,” sê Mark aan Huisgenoot. “Grafstene het ’n kulturele, emosionele en finansiële waarde; daarom is dit traumaties vir die naasbestaandes wanneer hulle ontdek hul geliefdes se grafstene is gesteel.”

Hy verduidelik die nuwe stelsel, Memorial Alert, sal in granietgrafstene ingeplant word; dit kan nie met die blote oog gesien word of daaruit gehaal word nie.

“Enige ongemagtigde peutery met die grafsteen sal ’n reeks alarms laat lui,” verduidelik Mark. “Eerstens sal ’n harde sirene in die begraafplaas lui om werknemers in en die bestuur van die begraafplaas in kennis te stel.

“Tweedens sal verskeie SMS’e na familielede gestuur word om te laat weet dat daar met die grafsteen gepeuter word. Die SMS-kennisgewings kan ook aan ’n veiligheidsfirma gestuur word sodat hulle daarop kan reageer.

“Omdat die meeste grafstene groot en swaar is en dus nogal tyd en moeite verg om te steel, glo ons dat oortreders nie genoeg tyd sal hê om die grafsteen te steel wanner die alarm afgaan nie.”

Die koste van die diens sal eers vroeg volgende jaar bekendgemaak word. Daar is geen maandelikse koste nie, slegs ’n eenmalige bedrag, en die battery van die stelsel sal teen ’n minimale bedrag elke drie jaar vervang moet word.

Mark voeg by dat grafstene met die Memorial Alert-stelsel ook verseker kan word.

– Christiaan Boonzaier

Oorgewig worsie onder die mes

$
0
0

‘n Oorgewig worshond se oortollige vel is verwyder. CNN se Jeanne Moos het meer oor Obie, die worsie se verhaal van oorgewig tot skraal.

Gaan na http://www.cnn.com/video/

Kate se luukse haarafspraak

$
0
0

Soos enige nuwe ma moes Catherine, die hertogin van Cambridge, haar skoonheidsroetine tweede stel sedert die geboorte van haar en prins William se eersteling, prins George.

Kate se gewone glansende haredos het effens vaal gelyk en ’n paar grys hare was selfs te bespeur. Toe die hertogin dié foto’s van haar in die media sien, het sy glo dadelik ’n noodafspraak gereël by Engeland se duurste haarkapper.

Foto: London News Pictures/REX

Foto: London News Pictures/REX

Sy het glo ses uur by die Rossano Ferretti-haarspa in Londen deurgebring. ’n Afspraak by die Italiaanse Rossano kos sowat R10 000.

Die hertogin het glo kort ná twaalfuur by die salon opgedaag en is ’n halwe dag lank in die privaatheid van die BBP-suite gepamperlang tot haar hare weer glansend en gesond gelyk het.

Kate se hare was weer glansend ná haar besoek aan die salon. Foto: Ken Goff Rota/GoffPhotos.com  (Magazine Features)

Kate se hare was weer glansend ná haar besoek aan die salon.
Foto: Ken Goff Rota/GoffPhotos.com (Magazine Features)

BRON: dailymail.uk


Vergeef hom – maar moenie vergeet nie

$
0
0

Daardie dag waarop jou lewensmaat jou die eerste keer verbaal of fisiek aangerand het, sal jy nooit weer kan uitwis nie, sê Zelda la Grange, ons blogger oor geweld teen vroue en kinders.

3248283617_c23445ea31_b

DIS nie mag wat  mense korrup maak nie. Dis die vrees om mag te verloor wat mense korrup maak. En ek glo dieselfde is op verhoudings van toepassing.

As iemand met ’n lae selfbeeld eers voel hulle kan mag oor iemand anders verloor, kan dit in die een of ander vorm van mishandeling ontaard.

Waarom moet ons verantwoordelik voel vir ander mense se swak selfbeeld? Waarom voel ons altyd ons moet hulle voed en hul ego masseer?

Ons moet na onsself omsien en ons eie oorlewing verseker. Dis 2013 en hoewel dit in die haak is om jou man of vrou te ondersteun, is dit nie gesond om dit ten koste van jou eie selfbeeld te doen nie.

Ons is dikwels te vergewensgesind, maar ek glo vas verhoudings het grense. As ’n grens eers oorgesteek is, kan jy nie teruggaan en maak of dit nooit gebeur het nie. Jy kan vergewe, maar nooit vergeet nie.

“Daardie dag” toe hy my die eerste keer verbaal aangeval het, my vertel het ek is te vet of dat ek nooit weer met ’n manlike kollega mag praat nie, of “daardie dag” toe hy my die eerste keer geslaan het, kan nooit uitgewis word nie. Van daardie dag af word ’n mens uitgedaag om nie die volgende grens oor te steek nie en as daar eers mishandeling is, veronderstel dit ’n verlies aan respek.

Hy sal nooit weer jou waardigheid of jou liggaam respekteer nadat hy die eerste dag daardie grens oorgesteek het nie.

Hoewel ons dus kan vergeef, laat ons nooit vergeet dat uitdaging deel van die menslike natuur is nie en dat as ons dit eers een keer toegelaat het, is daardie grens weg.

16_days_logo_englishMEDIUMZelda

 Zelda picSMALL  Zelda  la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.

5 liedjies om jou week op te vrolik

$
0
0

’n Bietjie Dave Matthews, ’n strelende John Legend, Miley en die kat – ons musiekblogger Ian Bredenkamp speel ’n liedjie vir elke dag van jou werkweek.

cOLLAGE

Regsom van bo: MIley by die AMA’s, John Legend en die Dave Matthews Band.

Maandag
Dit gons in Suid-Afrika oor die Dave Matthews-konserte. Die gebore Durbaniet het dié naweek twee uitverkoopte konserte in Kaapstad gehou en môreaand is hy in Johannesburg. Kyk na sy Dreamgirl-video – dis ’n paar jaar oud en Julia Roberts het ’n rolletjie daarin.

Dinsdag
Miley Cyrus het die wêreld verlede week by die American Music Awards laat regop sit met ’n nuwe weergawe van haar liedjie Wrecking Ball waarin daar ’n kat verskyn! Kyk ’n bietjie.

Woensdag
John Legend is terug met ’n nuwe ballade, All of Me, wat op al die radiostasies te hoor is. Dis Legend op sy beste – net stem en klavier.

Donderdag
Will Smith was een van die wêreld se gunsteling-popsterre . . . nou lyk dit of hy rolprente verkies. Donderdae is oudedoos-dae en hier is sy treffer uit 1998, Gettin’ Jiggy Wit It.

Vrydag
Kom ons gly die naweek binne met ’n bietjie Drake. Hold On, We’re Going Home saam met Majid Jordan is ’n R&B-liedjie met ’n retroklank en is op die oomblik boaan die SA trefferlyste.

- Ian

 

Ian Bredenkamp Ian Bredenkamp is gek oor musiek! Hy bied ’n daaglikse program op 94.5 Kfm aan en behartig musieknuus vir 567 Cape Talk en Eyewitness News. Volg hom op Twitter by @IanBredenkamp.

Kyk wie is al vyf maande swanger, en dis ‘n seuntjie!

$
0
0
Sorina het hierdie foto van haar op Facebook gedeel.

Sorina het hierdie foto van haar op Facebook gedeel.

Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze van Witbank, het vandag dié foto op haar facebook bladsy gedeel.

Sy is nou vyfmaande swanger en het bevestig dat dit ‘n seuntjie is. Volgens haar man en bestuurder Braam Riekert, gaan hulle die seuntjie na hom vernoem, Abraham, Carel Riekert. “Hy sal dan die vierde geslag met dié name wees.”

Hy en Sorina is altwee baie bly dat dit ‘n seuntjie is, maar het nooit regtig omgegee oor wat die geslag is nie.

“Ons is nou hard besig om te soek na babatoebehore. Ek het my amper dood geskrik toe ek sien ‘n stootwaentjie kos omtrent soveel soos een kar paaiement,” skerts Braam.

- Suzanne Venter

GWM stel groter sportnuts bekend

$
0
0

Die Chinese motorvervaardiger GWM het plaaslik ’n besige jaar gehad met talle nuwe planne en opwindende nuwe modelle.

So sluit GWM 2013 af met die bekendstelling van ’n nuwe sportnutsvoertuig, die H6. Dit volg kort op die hakke van GWM se oulike C20R-luikrugmodel wat in September hier sy opwagting gemaak het.

Dit gaan meeding met sportnutsvoertuie soos die Hyundai iX35, Kia Sportage en Nissan X-Trail.

Die H6 se lengte is 4 640 en sy asafstand 2 680 mm, terwyl dit 180 mm se grondvryehoogte het en 17-duim-allooiwiele as standaard

Daar is ’n keuse van twee enjins: ’n 2,0 L-turbodiesel en ’n 1,5 L-turbopetrol, wat eers ’n bietjie later beskikbaar gaan wees.

Die turbodieselmodel ontwikkel 105 kW se krag en wringkrag is 310 Nm, terwyl ’n sesspoedhandrat krag na die voorwiele stuur. Volgens GWM is die gemiddelde brandstofverbruik 6,7 L/100 km.

Die 1,5 L-turbopetrol skop 105 kW en 210 Nm uit en het ook ’n sesspoedhandratkas. Hierdie model se gemiddelde brandstofverbruik is 8,5 L/100 km.

Daar is ’n rits geriefskenmerke as standaardtoerusting wat onder meer leerbekleedsel, ’n multimediastelsel met ’n raakskerm, Bluetooth, klimaatbeheer, kragstuur, ’n kamera vir as jy agteruit bestuur, parkeersensors agter en outomatiese hoofligte insluit.

Van die H6 se veiligheidskenmerke is dubbele lugsakke voor, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding in Isofix-kindersitplekankers. Daar is ook ’n monitor wat die banddruk meet.

Pryse
H6 2,0 TCI 4×2: R329 900
H6 1,5T 4×2: R294 900

Planne vir 2014
Volgende jaar gaan GWM sy modelreeks nog uitbrei met onder meer ’n sedan, die C50, en ’n kompakte oorkruistipe voertuig, die M4. GWM is ook ’n borg van die tweede seisoen van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor.

Varkschnitzel met koolslaai

$
0
0

Genoeg vir 4 mense
Bereidingstyd: 10 minute
Gaarmaaktyd: 15 minute

4 x 150 g dun varksteaks, in skywe gesny
sout en peper
250 ml (1 k) meel
1 eier
155 g broodkrummels
45 ml (3 e) olie
KOOLSLAAI
½ kool, versnipper
1 wortel, gerasper
80 ml (⅓ k) mayonnaise
45 ml (3 e) rosyne (opsioneel)

1    Plaas die vleis tussen velle papier en slaan met ’n vleishamer plat. Geur met sout en peper.
2    Bestrooi met meel en doop dan in die eier, bedek met broodkrummels en druk om te verseker die bedekking kleef vas.
3    Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte en braai die gekrummelde vark weerskante tot goudbruin.
4    KOOLSLAAI Meng die bestanddele.
5    Sit die vark voor saam met die koolslaai en gebraaide aartappels.

- Hope Malau

Viewing all 9424 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>