Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all 9424 articles
Browse latest View live

Klein stoker aan kos verslaaf

$
0
0

Ardi Rizal van Indonesië het ’n internetsensasie geword nadat hy as tweejarige gekiek is waar hy ’n skyf trek. Die wêreld was geskok deur die seuntjie se rookgewoonte van 40 sigarette per dag, en die regering het ingegryp en vir hom rehabilitasie aangebied.

Nou, drie jaar later, het Ardi ophou rook, maar hy het dit nou met ’n ander ongesonde verslawing vervang, berig die Daily Mail. Pleks van smeek vir rookgoed, vra hy nou ongesonde, vetterige kos, sê sy ma, Diane Rizal (28).

Sy gewig het toegeneem tot 24 kg, sowat 7 kg meer as wat hy behoort te weeg. Diana sê dis moeilik om nie in te stem wanneer die vyfjarige tekere gaan oor vetterige kosse nie, maar die familie laat hom nou ’n streng dieet van vars groente, vrugte en kleiner porsies volg.

Dokters hoop sodra hy 3 tot 6 kg verloor het, sal sy gewig aanpas namate hy ouer word.

-Petro-Anne Vlok

BRON: dailymail.co.uk


Noodhulpreeks: Brandwonde

$
0
0

Ongelukke gebeur in ’n oogwink, maar ons het nie almal ’n noodhulpkursus voltooi nie. Nogtans moet ons weet hoe gemaak wanneer iemand in jou teenwoordigheid seerkry.

Ons gaan in ’n reeks van sewe webartikels met behulp van die noodpersoneel van Crisis on Call (www.crisisoncall.co.za) riglyne gee oor hoe ’n mens basiese noodhulp toepas in bepaalde noodgevalle, hoe jy weet wanneer jy liewer ’n ambulans moet ontbied en wat jy vir jou noodhulpkissie moet koop.

Vandeesweek kyk ons na brandwonde.

Brandwonde

Daar is vier verskillende soorte brandwonde, ingedeel volgens die oorsake:

# hitte, byvoorbeeld vuur, stoom of warm vloeistowwe;

# elektrisiteit;

# die son;

# en chemiese stowwe.

Die ernstigheid van brandwonde word gemeet in die diepte van die wonde (uitgedruk in grade van een tot vier) en die grootte van die wond (uitgedruk in ’n persentasie van 1 tot 100):

Grade

1ste graad: Die vel is rooi, gevoelig en gewoonlik klam. ’n Ligte koors, rusteloosheid en hoofpyn kan voorkom.

2de graad: Die vel is beskadiging en blase kan voorkom. Die pyn is erger en die rooiheid helderder.

3de graad: Die vel is diep beskadiging en vertoon helder rooi, wit of swart. Dis moontlik dat jy geen pyn ervaar en nie blase het nie, aangesien die senuwees ook gebrand is.

4de graad: Die vel is beskadiging tot op die spiere en been.

Persentasie

Groote van een hand = 1 persent

Kop en nek = 9 persent

Een hand en een arm = 9 persent

Een voet en een been = 9 persent

Bors en maag = 18 persent

Rug, insluitend die boude = 18 persent

Geslagsdele =1 persent

Die persentasies van al die aangetasde dele word bymekaargetel om die ernstigheid te bepaal:

Min = 15 persent

Matig = 15 – 49 persent

Groot = 50 – 69 persent

Reusagtig = 70 persent en meer

Wanneer moet ek die persoon liewer hospitaal toe neem en wanneer kan ek ’n brandwond tuis behandel?

# Die meeste eerstegraadse brandwonde wat minder as 15 persent van die liggaam bedek, kan gerus tuis versorg word.

# Alle kinders onder twee moet dokter toe gebring word vir ’n ondersoek.

# Wanneer daar meer as 70 persent brandwonde is, moet die slagoffer dadelik hospitaal toe gebring word.

# Wanneer die slagoffer se bewussyn aangetas is, moet sy dadelik hospitaal toe gebring word.

# Enige derdegraadse brandwonde moet dadelik hospitaal toe gaan.

# Almal wat brandwonde weens elektrisiteit opdoen, moet deur ’n dokter ondersoek word.

# As sy hande, voete, geslagsdele of gesig gebrand het, moet ’n dokter dadelik die wonde ondersoek.

# Chemiese brandwonde wat blase maak, moet ook dadelik deur ’n professioneel ondersoek word.

Behandeling: Elke soort brandwond moet verskillende behandel word.

Brandwonde weens hitte

  1. Blus die vuur. As die slagoffer nog brand, draai haar in ’n kombers of handdoek toe om die vlamme te blus.
  2. Moenie enige room, botter, kleefband of boereraat naby of op die brandwonde gebruik nie; dit kan die hitte binne hou.
  3. Moenie enige kledingstukke wat vasgebrand het, verwyder nie.
  4. Verwyder juweliersware voor die aangetaste dele begin swel.
  5. Vir klein brandwonde, dompel die gebrande deel in koue water (nie yswater). Beperk die indompelingstyd tot vyf minute op ’n keer om ’n dooie gevoel en verkluiming te voorkom. Jy kan ook klam lappe op die aangetaste dele plaas vir 10 minute tot ’n kwartier op ’n slag; dit sal die pyn en swelling verlig.
  6. In die geval van ’n ledemaat, lig die aangetaste deel die eerste 24 uur lank bokant die hart se vlak.
  7. Aloe vera-jel kan gebruik word vir eerstegraadse brandwonde, maar lees eers die voubiljet, want sommige jels bevat alkohol of parfuum. Dit kan die vel irriteer. Die jel kan in die koelkas verkoel word vir groter verligting.
  8. Lokale verdowingsalf wat sonder ’n voorskrif gekoop word, kan help met pynverligting.
  9. Moenie blase stukkend steek nie, want dit kan lei tot ontsteking.
  10. Was die wond een keer per dag met ’n antibakteriese seep en wend antibiotiese salf aan.
  11. Indien die blase wel breek verwyder enige los velle versigtig.
  12. Neem baie vloeistowwe in om ontwatering te voorkom.

Brandwonde weens elektrisiteit

  1. Indien daar enige drade naby die persoon is, skakel dadelik die kragtoevoer af of ontkoppel die toestel. Moenie net die toestel by die kragtoevoer afskakel nie.
  2. Indien dit onmoontlik is om die kragtoevoer af te skakel, isoleer jou deur jou hande behoorlik droog te maak en droë handskoene of ’n droë lap te gebruik om aan die slagoffer te vat.
  3. Staan op ’n geïsoleerde oppervlak byvoorbeeld papier of ’n handdoek. Moenie direk op die grond, metaal of enigiets nats staan nie.
  4. Verwyder die drade dan versigtig met ’n niemetaal, niegeleidende voorwerp, soos ’n besemstok of iets van rubber.
  5. Hou die slagoffer kalm en draai hom toe in komberse.
  6. Bedek alle oop wonde met gaas of verbande.
  7. As daar bloeding is, beperk dit deur drukking toe te pas op die wond.
  8. Neem die slagoffer na ’n dokter of hospitaal. 

Brandwonde weens die son

  1. Plaas ’n nat lap op die wond om brandgevoel te verlig.
  2. Gee vir die persoon heelwat vloeistof om te drink.
  3. 3.    Tap vir die persoon ’n louwarm bad met koeksoda in.
  4. 4.    Bepaal hoe ernstig die wonde is en besluit of die slagoffer ’n dokter moet spreek. 

Brandwonde weens chemiese stowwe

  1. Spoel die aangetaste deel vyf minute onder lopende koue water af. Sorg dat die vuil water wegloop en nie enige ander dele van die slagoffer of jou aanraak nie.
  2. Indien dit ’n groot brandwond is, moet die slagoffer plat lê op pad hospitaal toe sodat sy bloeddruk nie daal weens die skok nie. 

Wat het ek in my noodhulpkissie nodig?

’n Klein skêr.

Aloe vera-jel wat nie alkohol of parfuum bevat nie.

Lokale verdowingsalf

Antibakteriese seep

Antibiotiese salf

Verbande en gaas

Koeksoda

Watte en gaas om die wonde skoon te maak

So kan jy brandwonde voorkom:

# Hou ’n brandblusser naby elke vuurmaakplek. Gebruik dit net vir klein brande.

# Moenie los klere naby ’n vuur dra nie.

# Moenie in die bed rook nie.

# Draai alle handvatsels van potte en panne na agter op die stoof.

# Moenie ’n vuurwerk aansteek terwyl jy dit vashou nie.

Modimolle Monster – boek-uittreksel

$
0
0

’n Nuwe boek oor Johan Kotzé, die man wat die wêreld met afgryse vervul het nadat hy ’n bendeverkragting gereël het op sy vrou, Ina Bonnette, haar seksueel gemartel en haar seun vermoor het, is pas uitgereik.

DIE_MODIMOLLE_MONSTER_AFR_COV

Modimolle Monster is uit die pen van die eNCA-joernalis Karyn Maughan en die vryskut-joernalis Shawn Swingler. Die boek is ’n chronologiese samevatting van die aanval op 3 Januarie 2012 wat die wêreld geskok het.

Hier volg ’n uittreksel uit hoofstuk 5, Johan Kotzé se getuienis.

Kotzé se familie en sy tienerdogter, Jo-marié, het vir hom geglimlag en gewaai vanuit die openbare galery. Hy was oënskynlik so opgewonde soos ’n sesjarige wat ’n solo sou sing in die skoolkonsert. Dit was nou sý beurt in die kollig, en hy sou die kans ten volle benut.

Die boek bevat nie nuwe inligting nie, maar dis veral hoofstuk 5, in Ina se woorde self geskryf, wat ‘n mens aangryp.

Ina was ‘n geskeide vrou toe Johan haar nommer by ‘n vriend gekry en haar op 9 Augustus 2009 gebel het. Hy het haar beïndruk met sy sjarme en vir ‘n maand het hulle vir ure oor die foon gesels.

“Ons het gepraat oor wat ek uit ‘n verhouding en huwelik verwag. Ek het hom vertel: liefde, respek en eerlikheid. Ek het werklik geglo hy voel dieselfde. Ek het regtig gevoel ek word nog ‘n kans op liefde gegee,” skryf Ina.

Hul eerste ontmoeting was ‘n maand later by ‘n vulstasie in Pretoria, vertel sy in die boek. “Ek was baie gespanne want dit was die eerste keer wat Johan tyd saam met my sou deurbring en my huis sou sien. Maar hy was baie sjarmant en dit was maklik om by hom te wees. Ek het geen idee gehad dat dit toneelspel was nie.”

Na daardie naweek het hy elke naweek van Bloemfontein deurgery en kom kuier. Gedurende sy hofmakery het hy Ina met uitspattige vakansie, duur geskenke en “natuurlik mooi klere” bederf, vertel sy aan die leser.

‘n Paar maande na hul ontmoeting het hulle verloof geraak en sewe maande later, op ‘n reënerige 23 Oktober 2010, het haar “stormagtige huwelik” begin.

In die wittebroodskamer het Kotzé die reëls begin neerlê. “As jy, Ina, doen wat ek sê sal ons huwelik ‘n sukses wees.”

Haar ouers moes onder meer afsprake maak om haar te sien en sy moes toestemming vra om hulle te besoek. “Ek moes gewig optel. Ek moes my hare kort dra en hy wou my klerekas vervang,” skryf sy weer soos sy al tevore in die media ook vertel het.

Hy het haar nooit fisiek aangerand nie, maar die huishouding het om sy reëls en wette gedraai, sê Ina.

“Kotzé was obsessief oor my borste. Twee maande nadat ons begin uitgaan het, het hy my gevra om vir hom foto’s van my kaal borste te stuur. Ek het geweier.”

Nadat hulle getroud is, was hy steeds baie in Bloemfontein. Hy het bly aandring op die foto’s. “Hy het vir my foto’s van sy penis gestuur. ‘Kyk hoe graag wil ek jou hê’, het hy geskryf.”

Uiteindelik het sy ingegee en vir hom ‘n foto gestuur.

In Maart 2011 het Ina op ‘n versteekte blik met vyf selfone afgekom. Op die fone was foto’s van vroue se borste en geslagsdele. Sy verweer was dat hy sake van seksuele teistering teen die vroue oopgemaak het, skryf Ina. “Ek het hom nie geglo nie, maar ek het dit gelos.”

Ina kon alles verduur, maar toe hy haar familie en kinders begin seermaak, het sy ingegee. “Dis toe ek die keuse gemaak het om weg te stap.”

Op hul eerste huweliksherdenking het die huweliksbootjie reeds gesink. Ina en Angelique het uitgetrek, maar Kotzé het haar dopgehou. 

Op 17 November het Kotzé skielik agter haar in die tuin verskyn. “Hy het gesê iemand in my familie, iemand baie na aan my, sal my die seerste maak.

“Hy het ook gesê die huis wat hy nou by Dirk van der Merwe in Modimolle huur, sal DIE huis in die dorp word. Ek het gedink hy verwys na verbeterings aan die huis wat hy wou aanbring. Ek het gee idee gehad wat hy werklik bedoel het nie.”

“Toe kom 3 Januarie 2012.”

  • Die sagteband boek van 252 bladsye is teen R195 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar en word deur Jacana Uitgewers uitgegee.

Danél Blaauw

Mandela-rolprent: waar kan jy dit kyk?

$
0
0

Dit is uiteindelik tyd vir die langverwagte Mandela: Long Walk to Freedom om Suid-Afrikaanse rolprentskerms te tref. Die rolle van Nelson en Winnie Mandela word vertolk deur die Britse akteurs Idris Elba en Naomie Harris. Die rolprent kan amptelik vanaf Donderdag 28 November landwyd gekyk word, maar daar is dié naweek al geleentheid as jy nie meer kan wag nie!

Mandela: Long Walk to Freedom word Saterdag 23 November om 14:00, 17:00 en 20:00 en Sondag, 24 November 14:00 en 17:00 uitgesaai. Jy kan vooraf vir jou ’n plek bespreek.

Kyk hier by watter Nu Metro- of Ster Kinekor-teater naby jou dié rolprent uitgesaai word.

Bayside

Bedford Square

Bedfored

Blue Route

Boardwalk

Bridge

Brooklyn Comm

Brooklyn Nouveau

Canal Walk

Cape Gate

Carlton Centre

Carnival City

Cavendish

Cavendish

Cedar Square

Centurion

Clearwater Mall

Cradlestone

Cresta

East Rand Mall

Eastgate

Eikestad Mall

Emperors Palace

Festival Mall

Fourways

Galleria

Garden Route

Gateway Comm

Gateway Nouveau

Grandwest

Greenstone

Hyde Park

Irene

Kenilworth

Key West

Killarney

Kolonnade

Loch Logan

Mall @ Carnival

Mall of the North

Malls @ Reds

Maponya Mall

Menlyn Park

Midlands

Mimosa Mall

Montecasino

Mooi River

Movies @ Hemingways

Musgrave

N1 City

North Cape

Northgate

Northmed

Nu Metro V&A

Parow

Pavillion

Promenade

River Square

Rosebank Mall

Rosebank Zone

Rustenburg

Sandton

Secunda

Shelly Beach

Somerset Mall

Southgate

Sterland

Suncoast

The Glen

Tyger Valley

V & A Nouveau

Vincent Park

Walmer Park

Westgate

Witbank

Wonderpark

Woodlands

Mamma Dina moet gaan vir koptoetse

$
0
0

Dit lyk of die Lohan-familie net nie kan ophou om met die gereg te bots nie.

Die skinderblogger Perez Hilton berig die gekwelde Hollywood-aktrise, Lindsay Lohan, se ma, Dina is deur ’n regter aangesê om vir sielkundige evaluering te gaan na sy onskuldig op ’n klag van dronkbestuur gepleit het.

In September het haar prokureur Mark Heller aangevoer sy het net onder die invloed van alkohol bestuur omdat sy die paparazzi wou ontduik.

Dit lyk egter nie of die regter hieraan gaan byt nie.

Hy het genoem dat hy selfs Dina se lisensie vir ’n jaar mag herroep en haar sal beveel om ten minste 100 uur gemeenskapsdiens te doen.

Ry-indruk: Opel Corsa

$
0
0

Model: Opel Corsa 1,4 Turbo Enjoy

Kaapse kobra. Dit is die eerste ding waaraan ek dink toe ek die Opel Corsa 1,4 Turbo Enjoy (in hierdie geval so ’n gifgeel nommertjie) onder hande kry. Maar dis toe ek die Turbo onder die voete kry dat ek besef: Hierdie motor kan ekovriendelik wees, maar dit maak hom nie vervelig nie. Dis ’n blitsgiftige kobra dié.

Die blits in die enjin is daaraan te danke dat dit turboaangedrewe is. Dit beteken waar ’n enjin voortdurend ’n petrolinspuiting ontvang soos jy die pedaal trap en letterlik klein petrolontploffings veroorsaak, vuur die turbo die ontbrandingsproses nog verder aan deur meer suurstof in die enjin se ontbrandingskamer te blaas.

Die turbo-ondersteuning maak die motor kragtiger en vinniger, en glo my, ’n mens kan lag-lag 180 km haal sonder om enigsins hard te probeer – glad nie sleg vir ’n 1,4 L-enjin nie! Ek het al met 1,6 L-motors gery wat dit net met ’n groot geraas en geblaas sou regkry.

Kom ons praat gou syfers: Die 1,4 L-enjin lewer 88 kW krag tussen 4 000 en 6 000 r/min. en wringkrag van 175 Nm wat tussen 1 750 en 4 750 r/min. gelewer word.

Wat ek ervaar het, is dat die Corsa Turbo vinnig wegtrek. As jy daarvan hou om die motor se toere op te jaag om spoed op te tel, gaan jy mal wees oor hierdie gifvinnige Corsa.

Opel Corsa

Die Corsa gaan ook vinnig en veilig om die draaie. Ek het die motor se brandstofverbruik suinig genoeg gevind (volgens General Motors is die amptelike brandstofverbruik 5,5 L/100 km). Bydraend tot die lae verbruik is die standaard-stopfunksie: Wanneer jy by ’n verkeerslig stilhou, skakel die enjin outomaties af en eers weer aan wanneer jy die koppelaarpedaal intrap om gereed te maak vir wegtrek.

Aan die binnekant is die Corsa Turbo Enjoy toegerus met alles wat jy nodig het vir ’n gemaklike, veilige rit. Behalwe vir ABS-ondersteunde remme en elektroniese remkragverspreiding (ERV) word die insittendes ook beskerm deur lugsakke.

Ek het nie baie van die klankstelsel gehou nie, want die klank was vir my dowwerig en nie so helder en hard soos wat eintlik by die Turbo Enjoy sou pas nie. Ook het ek die inligtingstelsel, wat onder meer ’n roeteaanwyser bevat, verbruikersonvriendelik gevind. Die feit dat die roeteaanwyser ’n eie, dik boekie vol aanwysings benodig, bewys my punt.

Wat geriefsfunksies betref, het die motor ’n USB-sok, ’n afstandbeheerde slotmeganisme sowel as Bluetooth. Die kattebakruimte is genoeg vir stadsgebruik. Die chroombedekte uitlaatpyp en 16-duim-allooiwiele wys hierdie Corsa het oemf.

Die prys van die 1,4 Corsa Turbo Enjoy is R194 400 en dit sluit ’n vyfjaar/120 000 km-waarborg en ’n driejaar/60 000 km-diensplan in.

Die naam Corsa 1,4 Turbo Enjoy is gepas vir die motor; dis genot op vier wiele en het omtrent die Kaapse kobra in my uitgebring.

Erla Diedericks

Opel Corsa

Wees son-veilig

$
0
0

Die ster van The Wolverine, Hugh Jackman, het vir sy aanhangers gesê hy is vir velkanker behandel nadat hy ’n merk op sy neus gesien het. Hoeveel weet jy van velskade en –kanker? Beskerm jy jou vel goed genoeg?

Sonbeskerming is noodsaaklik, nie net nou in die warm somer-maande nie, maar dwarsdeur die jaar. Maak seker jy dra ’n hoed en sonroom wanneer jy buite is.

son1

Kyk hier watter sonroom nodig is vir jou veltipe:

son2

Ken jou vel en gaan sien ’n dokter as dit nodig is:

son3
Inligting met vergunning van die Kankervereniging van Suid-Afrika; Bronne: nioh.ac.za, cansa.org.za

Suid-Afrikaners steek die draak met Volvo

$
0
0

Sedert die Volvo-advertensie met Jean-Claude van Damme uitgereik is, skeer mense die wêreld heen die gek daarmee.

Eers het die Magic Mike-ster Channing Tatum sy weergawe van dié advertensie uitgereik. Dit begin met dieselfde dramatiese toneel soos in die oorspronklike advertensie, maar soos die kamera meer wys, sien jy hy staan op twee trollies.

Kyk die video hier:

Nou het ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, Derick Watts & The Sunday Blues, hul eie weergawe van die advertensie op YouTube gedeel.

In dié animasie-weergawe is die bestuurders van die twee trokke onderskeidelik ’n seekoei en ’n krokodil. Wanneer die seekoei honger raak, trek Jean-Claude aan die kortste ent – maar dis nie wat jy dink nie.

Kyk die video hier:

Shané Barnard


Somertyd is kriekettyd

$
0
0

Krieket kyk is vir baie mense sinoniem met die Suid-Afrikaanse somer en die tyd vir internasionale krieket op eie bodem, het weer aangebreek.

Kort ná die Suid-Afrikaanse krieketspan Pakistan 2-0 in ’n T20-reeks in Doebai verslaan het, speel die twee spanne weer teen mekaar; dié keer in Suid-Afrika. Die eerste wedstryd is Woensdagaand op die Wanderers in Johannesburg gespeel. Reën het die kragmeting bederf, maar Suid-Afrika het die wedstryd gewen te danke aan die Duckworth-Lews-stelsel. Die tweede en laaste T20-wedstryd word vanaand op Nuweland gespeel.

Hierna sal die Proteas ook drie eendagwedstryde teen Pakistan speel. Die reeks sal as goeie voorbereiding dien vir die eendag- en toetsreekse teen Indië, wat in Desember tuis gespeel word.

So lyk die rooster vir die res van die Pakistan-reeks:

22 November
 T20-wedstryd: SA vs. Pakistan, Nuweland, Kaapstad (18:00)

24 November
Eendagwedstryd: SA vs. Pakistan, Nuweland, Kaapstad (10:00)

27 November
Eendagwedstryd: SA vs. Pakistan, St. George’s, Port Elizabeth (10:00)

30 November
Eendagwedstryd: SA vs. Pakistan, SuperSport-park, Centurion

  • Die wedstryde word op SABC3 en SuperSport uitgesaai.
  • Ondersteun die Proteas
    Gaan na www.Ticketpros.co.za as jy kaartjie wil koop vir die somer se internasionale krieketwedstryde.

Suzaan Hauman

Inwydingswedvaart vir liefdadigheid in die moederstad

$
0
0

As jy Saterdag in Kaapstad is, kan jy by die Royal Cape-seiljagklub gaan kyk hoe meer as 30 bote in ’n liefdadigheidwedvaart meeding om die eerste jaarlikse Italiaanse ambassadeurstrofee. Dié liefdadigheidsregatta (bootwedren) ten bate van jong seil-entoesiaste word onder beskerming van die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee gereël.

Die geleentheid is nie net op glansmense, ambassadeurs en sportsterre gemik nie, maar ook – en belangriker nog – die jong seilvaarders van die Royal Cape-seilakademie en die Izivunguvungu MSC-jeugstigting in Simonstad.

Meer as 30 bote is ingeskryf vir die wedvaart wat waarskynlik sowat twee tot drie uur sal duur en waartydens die bote al langs die kus net buite die hawe sal vaar. Die geld wat met die inskrywings ingesamel word, sal aan die jong seilvaarders van die twee akademies geskenk word. Die Royal Cape-seilakademie en Izivunguvungu is veronderstel om laeinkomste en agtergeblewe gemeenskappe te bevoordeel. Met die Izivunguvungu-projek leer die jeug die grondbeginsels van seil en musiek wat vir hulle beter werkgeleenthede help skep. Die liefdadigheidsregatta sal hul seilopleiding ondersteun.

Die wedren begin om 14:00 en die prysuitdeling vind om 17:30 op die dek plaas.

Vir nog inligting, gaan na www.rcyc.co.za.

Prins Harry langer in SA oor weer

$
0
0

Prins Harry en sy Walking With The Wounded-spanmaats is vir meer as 48 uur in Suid-Afrika gestrand weens slegte weerstoestande. Harry (29) sou Dinsdag vir die Suidpool vertrek, maar ’n storm het die prins vir twee dae in Kaapstad teruggehou terwyl hy en Britse oorlogsveterane wat in die South Pole Allied-uitdaging 2013 gaan deelneem wag dat die weer opklaar.

“Op die oomblik wag ons net,” het Alexandra Hunter-Dunn, woordvoerder vir die liefdadigheidsorganisasie Walking With The Wounded, aan CNN gesê. “Hulle oefen so bietjie en stap by Tafelberg op en in Kaapstad.”

Harry en veterane wat in die oorlog beseer is, is deel van die Britse Glenfiddich-span, die True Blood-akteur Alexander Skarsgard is ’n erelid van die Amerikaanse span, en Dominic West, ster van The Wire, sluit aan by die Statebondnasies se spanne van Kanada en Australië.

Die spanne, wat uit sewe mense bestaan, sluit ook ’n gids en mentor in. Hulle gaan Antartika oor sowat 334 km deurkruis in temperature van -35 grade Celsius om geld vir die liefdadigheidsorganisasie in te samel vir die heropleiding en opvoeding van gewonde soldate.

Wanneer hulle by die Novo-stasie in Antartika opdaag, sal hulle vir drie dae akklimatiseer voor hulle die ekspedisie aanpak wat na verwag 16 dae sal duur. Die vertraging beteken daar is ’n kans dat Harry en ander deelnemers nie Kersfees by die huis sal wees nie.

 

 

 

Nuwe minimum loon vir huiswerkers

$
0
0

Die minimum loon vir huiswerkers sal van volgende maand af verhoog, het die minister van arbeid, Mildred Oliphant, Vrydag bekendgemaak.

Vanaf 1 Desember sal die minimum loon vir dié wat meer as 27 uur per week in stede werk, R9,63 per uur wees en dié van hul eweknieë op die platteland en kleiner dorpe R8,30, het haar departement in ’n verklaring gesê.

Die nuwe minimum loon vir huiswerkers wat meer as 27 uur per week werk, is R9,63 per uur, R433,35 per week (vir ’n week van 45 uur) en R1 877,70 per maand (vir ’n week van 45 uur) in Streek A.

In streek B is dit: R8,30 per uur, R373,50 per week (vir ’n week van 45 uur) en R1 618,37 per maand (vir ’n week van 45 uur).

Streek A is alle stadsmunisipaliteite, soos onder meer Oos-Londen, Pretoria, Witbank en Johannesburg. Streek B sluit die munisipaliteite in wat nie by Streek A ingesluit word nie.

Die loonaanpassing was deel van ’n jaarlikse bindende bepaling wat die minister kragtens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes maak.

Volgens die verklaring sal die minimum loon van huiswerkers wat 27 uur of minder per week werk soos volg styg:

– in Streek A: R11,27 per uur, R304,29 per week (vir ’n week van 27 uur) en R1 318,48 per maand (vir ’n week van 27 uur); en,

– in Streek B: R9,80 per uur, R264,60 per week (vir ’n week van 27 uur) en R1 146,51 per maand (vir ’n week van 27 uur).

Verlede jaar (2012) se uurlikse koerse was R8,95 vir Streek A en R7,65 vir Streek B.

Die departement het gemaan huiswerkers mag kragtens die wet nie verplig word om meer as 45 uur per week; meer as nege uur per dag vir ’n werkweek van vyf dae; of meer as agt uur per dag vir ’n werkweek van ses dae te werk nie.

“Oortyd moet betaal word teen een en ’n half keer die werknermer se gewone loon of ’n werknemer mag instem om betaalde tyd vry te kry,” het die departement gesê.

Sapa

Ongewone chirurgiese prosedures

$
0
0

Die leuse deesdae is blykbaar: “As jy nie daarvan hou nie, verander dit.” Dit geld vir enige deel van jou lyf wat jou nie aanstaan nie. Jy kan onder die mes deurloop, ’n chirurgiese prosedure laat doen en soos jou droomself lyk. Sommige prosedures is besonder vreemd. Hoe dink mense daaraan?

Ons het ’n lysie chirurgiese prosedures saamgestel wat jy nooit gedink het moontlik is nie.

1.    Skep ’n sespak

Hoekom ure op die vloer swoeg met opstote en opsitte, as ’n plastiese chirurg vir jou die maagspiere kan skep? Jy kan deesdae die hoëdefinisie-liposkulptuur-prosedure laat doen. Dit behels lipo-uitsuiging en velvermindering. Geskikte kandidate het oortollige vel van gewigsverlies. Die prosedure gaan nie oor gewigsverlies nie, maar om jou liggaam te vorm. http://www.liposculptureauthority.com/hi-def-liposculpture-for-men/

2.    Verandering van die handpalmlyne

Watter beter manier om jou noodlot te verander as om jou handpalmlyne te verander, en dan ’n handpalmleser dit te laat lees?  Jy kan vyf tot 10 lyne verander met hierdie prosedure, waarin ’n elektriese skalpel gebruik word om die vel te brand.  Handpalmverandering is baie gewild in Japan. Die prosedure duur 10 tot 15 minute en kos sowat R10 000. Die rede hiervoor? Om jou noodlot te verander, natuurlik. http://www.businessinsider.com/palm-plastic-surgery-is-popular-in-japan-2013-7

3.    Maak ’n kuiltjie

Kuiltjies is alte oulik. Nou kan jy tog te dierbaar lyk met ’n prosedure wat kuiltjies maak. ’n Snytjie word aan die binnekant van jou wang gemaak. Absorbeerbare garing word deur die binnekant van die wang gedruk en vang die binnekant van die vel waar jy die kuiltjie wil hê. Wanneer die garing gebind word, skep dit die permanente kuiltjie buite op die vel. Dit duur sowat 20 minute en is glo pynloos.  http://www.draharonov.com/dimple.html

4.    Langer ledemate

Daar is eindelik hoop vir jou as jou lengte tussen jou en jou drome om ’n supermodel te word gestaan het. Ons het gedink ledemateverlenging was ’n grappie in die fliek White Chicks. Maar dit is waar en moontlik. Dié prosedure word meestal uitgevoer op pasiënte wat as dwerge gediagnoseer is, of ’n gebrek het. Daar is verskillende verlengingsmetodes. Een is om apparate in te plant wat die ledemaat van binne af verleng. Die metode is beperk tot ouer kinders en volwassenes. http://www.limblengtheningdoc.org/limb_lengthening_intro.html

5.    Snorinplanting

Ons simpatiseer met almal wat nie kon deelneem aan die Movember-uitdaging om ’n welige snor te groei nie. Nie almal kan perfek wees nie, of hoe?  As jy sukkel om ’n snor te kweek, kan jy altyd ’n snorinplanting probeer. Volgens die Daily Mail is hierdie prosedure veral gewild onder Arabiese manne. Dit kan tot R70 000 kos, en behels dat ’n strook hare van die agterkant van die kop oorgeplant word.  Een of twee hare word met een slag op die bolip ingeplant. http://www.hairtransplantsurgery.co.uk/beard-moustache-hair-transplant.html

Bronne: daily mail; afkinsider.com; nbcnews.com; cbsnews.com

Suurlemoenvarktjops

$
0
0

Genoeg vir 6-8 mense
Bereiding: 15 minute
Gaarmaaktyd: sowat 15 minute

80 g spekvleis, in blokkies gesny
sap en skil van 3 suurlemoene
45 ml (3 e) vars salie, grof gekap
sout en peper na smaak
3 ontbeende varklendetjops (minstens 3-5 cm dik), die ergste vet afgesny
45 ml (3 e) olyfolie
50 g koue botter, in skyfies gesny

  1. Meng die spek, sap van 1½ suurlemoene, skil van al 3 suurlemoene, salie, sout en peper tot ’n pasta. Hou eenkant.
  2. Draai die tjop op sy sy en maak ’n vertikale snit in die middel van elke tjop, maar nie regdeur die vleis nie. Vlek die vleis oop en druk effens met die agterkant van jou handpalm. Maak snytjies kruis en dwars oor die vleis. Vryf die pasta oor die vleis en in die snye.
  3. Verf die vleis met die olie.
  4. Pak op ’n toeklaprooster en braai die vleis 6-8 minute op matige kole met die gesmeerde kant na die vuur. Draai die
  5. vleis om en braai nog sowat 8 minute of tot net gaar.
  6. Rangskik die vleis op ’n opdienbord en pak die botterskywe bo-op sodat die botter smelt.
  7. Geur die vleis met die res van die suurlemoensap en garner met die salieblare.

Dít kort mans om gelukkig te wees

$
0
0

’n Studie deur die Harvard-universiteit, wat R200 miljoen gekos het en die afgelope 75 jaar 268 jong mans bestudeer het, het eindelik ’n groot vraag beantwoord: Wat het mans nodig om ’n vol en gelukkige lewe te lei?

Die Beatles het dit al in 1967 geweet: Al wat jy kort, is liefde.

Die studie, wat volgens feelguide.com in 1938 begin het en die groepie mans van hul studentedae tot in hul 90’s bestudeer het, word beskou as die omvattendste van sy soort.

Die grootste bevinding is dat die sleutel tot “geluk (by mans) liefde is. Punt.” Die studie het ook gevolgtrekkings gemaak oor mans en alkoholmisbruik, hul sekslewe en die voordele van ’n goeie verhouding tussen ma en seun. Hier is die hoogtepunte:

  • Alkoholisme in mans is die grootste enkele rede vir egskeidings;
  • Konserwatiewe mans staak hul sekslewe oor die algemeen op 68, terwyl liberaler mans ’n gesonde sekslewe tot in hul 80’s het;
  • Mans wat ’n goeie verhouding met hul ma het, is produktiewer by die werk en verdien gemiddeld R870 000 meer as mans wat ’n slegte verhouding met hul ma het;
  • Mans is op hul gelukkigste in hul huwelik ná die ouderdom van 70;
  • Die liggaamlike verandering by mans ná 80 is weens gesondheidsbesluite wat hulle ná 50 neem.

– Christiaan Boonzaier


Maklike muffins

$
0
0

Lewer 12 MUFFINS
Bereiding: 20 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute

Dié wonderlike resep het in Huisgenoot Wenresepte 2 verskyn en is regtig ’n staatmaker, want die beslag hou tot ’n maand in die yskas.

Bak net elke keer soveel muffins as wat nodig is en voeg telkens iets anders soos rosyntjies, dadels, neute, klapper of gekapte appel by. Jy kan ook ’n bietjie minder suiker byvoeg as jy wil.

375 ml semels
125 ml kookwater
60 ml (¼ k) gesmelte botter of
margarien
180 ml (3/4 k) suiker
1 eier, geklits
250 ml (1 k) karringmelk
6 ml (1¼ t) koeksoda
160 ml (2⁄3 k) ongesifte koekmeel
160 ml (2⁄3 k) volkoringmeel
2 ml (1/2 t) sout
rosyntjies, dadels, neute, klapper, gerasperde geelwortel, pynappel of appel na smaak
kaas of ander vulsel om mee voor te sit

Voorverhit die oond tot 220 °C.
Smeer die holtes van ’n muffinpan of bespuit met kossproei.

  1. Meng die semels en kookwater in ’n groot mengbak. Voeg die botter of margarien by en laat die mengsel effens afkoel.
  2. Voeg die suiker, eier en 200 ml van die karringmelk by en meng.
  3. Meng die koeksoda met die res van die karringmelk en meng dit by die semelmengsel in.
  4. Meng die koekmeel, volkoringmeel en sout. Voeg die rosyntjies of waarvoor jy lus het by.
  5. Voeg dié mengsel by die semelmengsel en meng tot net gemeng; die deeg is taamlik slap.
  6. Skep die deeg in die muffinholtes tot twee derdes vol. Bak 20 minute op die middelste oondrak.
  7. Keer versigtig op ’n draadrak uit om af te koel.
  8. Sit voor met kaas of ander vulsel.

Stry elke dag teen vroue- en kindermishandeling!

$
0
0

Ons sê welkom aan ons nuwe blogger Zelda la Grange, oudpresident Nelson Mandela se privaat sekretaresse. Sy gaan tot 10 Desember elke weekdag vir ons blog tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, wat Maandag begin.

16_days_logo_englishMEDIUM

ELKE jaar, van 25 November (Internasionale Dag van Geen Geweld teen Vroue) tot 10 Desember (Internasionale Menseregtedag), vestig die wêreld sy aandag op die lot van mishandelde vroue en kinders.

Tydens hierdie 16 dae is ons veronderstel om ’n wit strikkie te dra en geweld teen vroue en kinders teen te staan. Maar is dit genoeg?

Is 16 dae genoeg as ons land as die verkragtingsentrum van die wêreld beskou word? Sal 16 dae ’n land help waar vroue ’n groter kans het om verkrag te word as om te leer lees? ’n Land wat sy getal verkragtings in sekondes meet?

’n Seerplek kan binne 16 dae gesond word, maar vir die slagoffers van seksuele geweld duur die emosionele letsels ’n leeftyd.

Môre, Saterdag, stap ek in Midrand vir daardie slagoffers – vir die honderde en duisende vroue en kinders wat hul stem verhef teen hierdie monsteragtige misdade – en vir die tallose vroue en kinders wat dit nie doen nie.

Sisters with Blisters vind elke jaar plaas en is nou in sy agtste jaar. Die protesoptog word deur 1st for Women Insurance en Jacaranda FM geborg.

Verlede jaar se Sisters with Blisters-optog.

Verlede jaar se Sisters with Blisters-optog.

Dis so ’n belangrike gebeurtenis vir Gauteng en dis bemoedigend dat so baie mense al geregistreer het om deel te neem.

Sisters with Blisters is ’n platform waar die mans en vroue van Gauteng hul frustrasie kan lug oor hierdie epidemie wat soveel skande oor ons geliefde land bring.

Hopelik sal iemand luister. Hopelik sal iemand besef dat 16 dae nie genoeg is nie – daar behoort 365 dae van die jaar met geweld teen vroue en kinders afgereken te word!

- Zelda

Zelda picSMALL  Zelda  la Grange werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Motorfietsryers vir Mandeladag en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om vroue te help bemagtig.

Charismatiese president se dood wêreldwyd herdenk

$
0
0

Hy was nie net die jongste Amerikaner wat tot president verkies is nie, maar ook die eerste Katoliek in die Wit Huis. President John F Kennedy sou ook net die kerf van bietjie meer as ‘n duisend dae se diens in die Wit Huis verbysteek, voor hy as die jongste president van die land gesterf het.

Op 22 November1963 is JFK, soos hy algemeen bekendgestaan het, tydens ‘n sluipmoord in Dallas, Texas doodgeskiet. Hy het in sy vrou Jacqueline se arms gesterf. Met JFK en die elegante Jackie, soos sy genoem is, het ‘n charismatiese era in die Wit Huis gesterf.

Terwyl Harvey Lee Oswald in hegtenis geneem is vir die sluipmoord-aanval op die president het ‘n kommissie later bepaal hy was alleen verantwoordelik vir die president se dood. Maar vandag, op die 50ste herdenking van JFK se dood, vlam samesweringsteorieë oor wie agter die president se dood sit en waarom hy vermoor is opnuut weer op.

Die vyf gewildste teorieë vir JFK se sluipmoord

Visepres. Lyndon B. Johnson het die sluipmoord gereël. Hy en JFK het glo nie om dieselfde vuur gesit nie en hy was jaloers op JFK. Johnson wou president word voor hy te oud word en hy was verantwoordelik vir die roete wat Kennedy gery het. Die beplande roete wat deur die geheime diens goedgekeur is, is op die nipper verander.

Die Amerikaanse intelligensiediens (CIA): Daar was glo groot ontevredenheid in die CIA oor veranderings en skuiwe wat Kennedy in sy kort termyn gemaak het. Die CIA was ook omgekrap oor die rampspoedige Bay of Pigs-inval in Kuba.

Die Mafia: Kennedy het in sy termyn oorlog verklaar teen georganiseerde misdaad.

Anti-Castro-groepe: Hulle was, nes die CIA, omgekrap oor die mislukte Bay of Pigs-inval. Daar is ook mense wat glo die Sowjetunie was verantwoordelik vir die sluipmoord. Die meeste samesweringsteorieë spruit uit die teenstrydige bevindings van twee ondersoeke deur die Amerikaanse regering. Die eerste ondersoek kort ná Kennedy se dood het bevind Oswald het alleen opgetree terwyl die tweede ondersoek bevind het daar was twee skieters.

Hy was ook bekend, en omstrede, vir:

Sy woorde: “Ask not what your country can do for you–ask what you can do for your country,” gedurende sy inhuldigingstoespraak

Sy affairs: Hy was met een van die elegantste vroue getroud, maar dit het JFK nie gekeer om Jackie te verkul nie. Sy bekendste affair was met die Hollywood-ster Marilyn Monroe wat ook op omstrede wyse vir hom ‘Happy Birthday, Mister President’ gesing het.

‘n Laaste groet van sy seun: Die ikoniese foto van die driejarige John F Kennedy Junior wat as laaste huldeblyk sy pa se kis gesalueer het – nes hy die soldate dit sien doen het.

BRONNE: AP, The Arizona Republic, Beeld

11 koel maniere om klip en draad in jou tuin in te span

$
0
0

 Weet jy wat ’n skanskorf is? Boere sal jou vertel dis strukture wat met erosie klaarspeel, maar skanskorwe kan jou tuin ook fantasties laat lyk, soos ons Pinterest-blogger vandeesweek uitgevind het.

Klipskanse

EK WAS nog altyd mal oor skanskorwe – daardie draadhokke vol klippe wat erosie in rivierbeddings moet beveg of as keermure langs paaie ingespan word. My gesin spot my trouens graag wanneer ons iewers heen ry. “O kyk,” sal hulle in ’n koortjie sê asof ons in die wildtuin rondry en ’n leeu gewaar, “daar’s ’n kéérmuur!”

Wel, Pinterest het hierdie week gewys dat ander mense dieselfde onberispelike smaak as ek het, en dis heerlik om dit met jou te deel. En dit laat my ook net ’n klein bietjie selfvoldaan voel . . .

Hou my terug

Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (in Pretoria), via Flickr

Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (in Pretoria), via Flickr

’n Terras-tuin word met rye skanskorwe netjies op sy plek gehou. Dié slim strukture is gemaak van draadhokke (wat in die bedryf mandjies genoem word), wat dan gevul word met klippe van verskillende groottes en kleure om die gevoel te skep waarna jy op soek is.

Rotskuns

Foto’s oorgespeld van inspiredexteriors.com.au (links) en beachcomber26.blogspot.com

Foto’s oorgespeld van inspiredexteriors.com.au (links) en beachcomber26.blogspot.com

Hulle is deels klipkuns, deels industriële sjiek. Ek is gek oor die skanskorwe links met die klip-tafelblad en dwarslêer-sitplekke. Die verskillende kleure klip lyk fantasties saam met die baksteenplaveisel. Aan die ander kant vorm die wit rivierklippe wat vir die sitplek regs gebruik is, ’n mooi kontras met die sterk muurkleur.

Stadig oor die klippe

Foto’s oorgespeld van landscapingnetwork.com

Foto’s oorgespeld van landscapingnetwork.com

Hierdie lae skanskorf-muur is tweedoelig: Dit omsingel die bedding en skei dit van die patio, en dit kan ook as sitplek ingespan word wanneer julle buite kuier. Dit was slim om die fontein in die middel van die bedding met dieselfde klippe as die skanskorf te omring, en ek is mal oor die klipvoortjie tussen die patio en die paadjie.

Foto oorgespeld van houzz.com

Foto oorgespeld van houzz.com

Nog ’n lieflike gebruik van ’n skanskorfmuur. Die klip pas perfek by die potplante – dit lyk regtig of hulle saamhoort.

Rotsvaste pilare

Foto’s oorgespeld van floradoragardens.blogspot.com (links) en justimagine-ddoc.com

Foto’s oorgespeld van floradoragardens.blogspot.com (links) en justimagine-ddoc.com

Gebruik skanskorf-pilare op hul eie of in pare as staanders vir potplante. Of rangskik ’n groepie pilare van verskillende hoogtes om vetplantpotte op uit te stal – dit verskaf kitshoogte aan laaggroeiende plante. Die strukture is omgewingsvriendelik en maklik om te onderhou – jy verdien dus ook ’n paar groen punte.

Opgedam

Foto oorgespeld van manufactum.com

Foto oorgespeld van manufactum.com

Die dammetjie het ’n mooi fontein en is met plastiek uitgevoer, en die dun skanskorf-muur rondom gee dit ’n lekker plaasgevoel.

Nog koel waterversierings

Foto’s oorgespeld van expli.ce (links) en Badec Bros Deco (in Pretoria)

Foto’s oorgespeld van expli.ce (links) en Badec Bros Deco (in Pretoria)

Twee style vir ’n fontein wat oor ’n skanskorf-pilaar spoel: een landelik, die ander meer gesofistikeerd. Die fonteine werk taamlik eenvoudig: ’n pyp word in die middel van elke pilaar geplaas voor dit vol klippe gestapel word. Die pyp is vas aan ’n pomp wat water uit die onderste dammetjie trek.

Wees uitspattig

Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (Pretoria)

Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (Pretoria)

Wat ’n stylvolle manier om privaatheid te verseker en dan nog bederf te word deur die strelende klank van lopende water! Die Pretoriase landskapsdeskundiges Badec Bros Deco is verantwoordelik vir hierdie muurfontein, wat sekerlik een van die weelderigste maniere is om skanskorwe in jou tuin te gebruik.

– Alfie Steyn

Alfie Alfie Steyn is Huisgenoot en YOU se produksieredakteur en ook ’n geesdriftige selfdoener. Sy is verantwoordelik vir Huisgenoot en YOU se dekor- en selfdoeninskrywings op die sosiale netwerktuiste Pinterest.

Volg Huisgenoot op Pinterest

Skouspel 2013: ADAM – Gebore om jou lief te hê

$
0
0

Skouspel 2013 – beslis die musikale hoogtepunt van die jaar op die Suid-Afrikaanse kalender. ADAM, bestaande uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Joe Foster, het tydens 2013 Skouspel vir oulaas as groep opgetree.

Viewing all 9424 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>