’n Gesonde werknemer is ’n vervulde werknemer. En ’n tevrede werknemer is ’n produktiewe werknemer.
Om ’n moderne, toonaangewende arbeidsmag te vestig en te laat groei, behels nie net die kweek van intellektuele vermoëns nie; die holistiese welsyn van jou werknemers moet ook in ag geneem word.
Hier volg hul wenke oor hoe om die gesondheid en fiksheid van jou arbeidsmag te vernuwe.
Verskaf verskeie werkstasies
Om heeldag net in een posisie te sit, kan onnodige stremming op jou laer rug en skouers plaas. Dit verhoed ook dat jy beweeg. As daar verskillende werkstasies in die kantoor opgestel is – plekke waar werknemers kan staan, sit en ontspan, sal hulle meer geneig wees om hul werkroetine aan te pas en in die kantoor rond te beweeg.
“Sit bakke met vars vrugte en groente neer”
Hou dit vars
Oefening is noodsaaklik, maar gesond eet is deurslaggewend as jy goed wil voel. Werknemers wat aan ongesonde geriefskos peusel, sal sukkel met wisselende energievlakke. Sit bakke met vars vrugte en groente neer waaruit hulle kan kies as die honger begin knaag. Dit is ’n goedkoop maneuver en sal baie bydra tot mense se algemene gesondheid. As jy ’n vergadering hou waar happies bedien word, vervang vetryke happies met crudités en neute.
Skuif die waterverkoeler
As jou kantoor ’n waterverkoeler het, oorweeg gerus om dit na ’n sentrale plek te skuif, weg van jou span se werkstasies af. Of nog beter: skuif dit na die onderste verdieping toe as jou werknemers op die boonste verdieping werk. Die ekstra stappery sal hulle aan die beweeg hou en dit sal die aktiwiteitsvlakke verhoog.
Geskikte hulpmiddels
’n Skoot- of lessenaarrekenaar wat nie reg geplaas is nie, kan ’n mens se nek en skouers ernstige skade berokken. Stel ’n voorbeeld en maak ’n punt daarvan om al die toestelle in jou kantoor in die regte posisie te plaas. Maak seker die toetsborde is laag genoeg sodat die mense se elmboë teen 90° kan rus, en hou skerms ooghoogte.
“Hou ’n klein yskas in die kantoor sodat werknemers hul kos en water kan bêre”
Aktief buite die kantoor
Al kan werknemers hul gesondheid en fiksheid op hul eie tyd ’n hupstoot gee deur by ’n gimnasium aan te sluit, kan dit ’n duur manier van oefen raak. Oorweeg dit om lidmaatskap van gimnasiums of gesondheidsklubs te subsidieer; die positiewe resultate wat moraal, motivering en algehele energievlakke betref, sal die uitgawe die moeite werd maak.
Sluit kitskos uit
Moedig werknemers aan om tuisgemaakte maaltye te bring, eerder as om by die kafee op die hoek in te draf vir ’n pastei, skyfies en ’n Coke. Die maklikste manier om hierdie gewoonte aan te kweek, is deur ’n behoorlike kombuis, volledig met plek waar kos berei en geëet kan word, in die kantoor in te rig. Hou ’n klein yskas in die kantoor sodat werknemers hul kos en water kan bêre; dit sal hulle aanspoor om liewer tuisgemaakte kos te eet.
Vergaderings in die buitelug
As jy tyd wil opsysit om vir ’n projek ’n dinkskrum te hou, hoekom dit nie buite die kantoor hou nie – óf op ’n plek waarheen jy moet stap óf deur te gesels terwyl julle om die blok stap. Vars lug, bene wat beweeg en die feit dat jy uit die kantoor kom, sal kreatiwiteit en inspirasie aanwakker.
Ander sitplek
Oefeningballe is ’n uitstekende, doeltreffende manier waarop werkers kan oefen terwyl hulle by hul lessenaar sit – die gedurige beweging en balansering maak die liggaamskern sterk. Ingeval jy bekommerd is oor balle wat in die kantoor rondrol, kan jy in standers met wiele vir die oefenballe belê.
Welsyn in die werkplek
Ons medewerkers se gewoontes motiveer en beïnvloed ons. As jy gesonde gewoontes by jou arbeidsmag wil aanmoedig, is die werkplek self die beste plek om te begin. Bied goedvoelklasse aan – of dit nou advies rakende voeding, Pilates of selfs joga is – om mense in die kantoor aan te spoor om gesonder te leef. Gee die toon aan vir ’n holistiese, gesonde kantoor.
Aansporing
Span buitelug- of sportgeleenthede in as spanbou-oefeninge met die klem op fiksheid. Deur kaartjies te koop vir marathonne, hardloop- of stapgeleenthede, sal die begrip baie vinniger aandryf en groepdeelname aanmoedig.
Nashua, ’n verskaffer van sake-oplossings, moedig werknemers aan om fiks en gesond te bly deur ’n groot verskeidenheid van sport- en buitelugaangeleenthede te borg.