Sy het jare lank gely: verskriklike skeelhoofpyne, hoë bloeddruk, oorsuising, disoriëntasie, warm gloede, mislikheid, asma. Dokters het aangehou om vir Anna* te vertel sy is gestres, maar sy het geweet hulle is verkeerd.
“Ek het jare lank met skeelhoofpyn, hoë bloeddruk, oorsuising, warm gloede, mislikheid, asma en ander onaangename aandoenings saamgeleef. Ek het verskeie dokters en spesialiste geraadpleeg, ek is deur tientalle toetse, skanderings en X-strale, maar niemand kon ’n behoorlike diagnose maak nie.
“Die meeste dokters het gesê dis alles aan stres te wyte, maar ek het geweet hulle is verkeerd. Toe kom ek drie jaar gelede af op ’n allergiespesialis en hy diagnoseer sensitiwiteit vir salisilaat by my. Dit het beteken ek moes ’n klomp kossoorte, hoofsaaklik vrugte, party soorte groente, speserye, kruie en preserveermiddels, laat staan. Ek het wel ’n ruk lank beter gevoel nadat ek die sondaars uitgeskakel het.
“Voorgeskrewe medisyne het my toestand laat versleg”
“Toe plaas my huisdokter my twee jaar gelede op ’n lae dosis medisyne vir hoë bloeddruk, ten einde my skeelhoofpyn-aanvalle te help beheer. Ses weke later het my bloeddruk onreëlmatig geraak en baiekeer gevaarlik hoog. Gedurende drie keer se hospitalisasie, bloedtoetse, X-strale en skanderings wat gedoen is en wat uitgeloop het op ’n slegte reaksie op jodium, was daar nog geen antwoorde nie, want al die uitslae was redelik normaal.
“Elke soort medisyne wat voorgeskryf is, het my toestand laat versleg en ek het dae in die bed deurgebring omdat ek het te siek gevoel het om op te staan. Ek het uit desperaatheid opgehou om my bloeddrukmedisyne te drink en ná ’n paar weke was my bloeddruk normaal!
“Toe ontwikkel ek gluten-intoleransie en suikeragtige kos het my boonop ook begin affekteer. Ten spyte van al die negatiewe uitslae, het ek nog geen idee gehad van wat met my skort dat ek soveel probleme ervaar nie. Ek moes ’n paar maande gelede drie dae in die bed bly met kwaai duiseligheid, skeelhoofpyn en verhoogde bloeddruk nadat ek rypgemaakte steak vir aandete gehad het.
“Al raad was om maar my eie navorsing te doen en ek het toe agtergekom hierdie aanval van lighoofdigheid was te wyte aan histamien-intoleransie. Wel, ek het in die afgelope nege maande vasgestel dat ek aan VCS (veelvuldige chemiese sensitiwiteit) ly en dit is deur ’n nuwe allergiespesialis bevestig.
“Baie soorte voorskrifmedisyne bevat amiene”
“Ek het weerstand teen gluten, salisilate, sulfiete, laktose en amiene (histamien); dus is die lysie van voedsel wat ek met veiligheid kan eet, uiters beperk. Baie soorte voorskrifmedisyne bevat amiene en dit verklaar hoekom ek so baie reaksies toon op medikasie. Ek toon selfs soms binne enkele ure ’n reaksie op sekere soorte medisyne, terwyl ander ná twee of drie dae, of selfs langer, reageer.
“Reaksies op voedsel kan binne minute ná inname voorkom, of dit kan etlike ure duur en dae later eers weggaan. Voedselonverdraagsaamheid word oor die algemeen veroorsaak deur een of almal van die volgende: stres, parasiete en lekkendedermsindroom (LGS). Ek het verskeie soorte alternatiewe terapie probeer en ’n bietjie verligting gekry, maar nou is ek by ʼn nuwe dokter, wat LGS by my gediagnoseer het.
“Lekkendedermsindroom laat gifstowwe toe om deur die bekkenholte se wand in te sypel en so ekstra werkdruk op die lewer, niere en ander organe te plaas soos hulle poog om die gifstowwe uit te liggaam te verwyder. Dit lei tot voedselonverdraagsaamheid en kan jou redelik siek laat voel.
“My gestel is uiters sensitief”
“Dit is ongelukkig ’n uiters stadige proses en tot dusver het ek nadelige reaksies getoon op ses van die agt kure wat voorgeskryf is, natuurlike middels ingesluit. My gestel is uiters sensitief en ek moet elke dag vat soos dit kom.
“Ek kom agter dat my reaksies taamlik verskil. Sommige dae kry ek stywe nekspiere, skeelhoofpyn en is gedisoriënteer, ’n week later is my reaksie miskien warm gloede, hartkloppings, slapeloosheid en mislikheid. Binne minute nadat ek iets geëet het waarvoor ek sensitief is, meestal moeilik om te identifiseer, begin my ore suis; dus maak ek ’n aantekening in ’n kosdagboek wanneer reaksies erg is.
“Uiteet is ’n nagmerrie omdat ek die meeste restaurantgeregte nie kan eet nie. Om ’n slaai te bestel is sinneloos, aangesien ek net sekere soorte blaarslaai, seldery en radyse kan eet – tamaties, komkommers, olywe of krulblaarslaai is taboe. Preserveermiddels, souse, kruie, speserye, die meeste soorte vrugte, kase, verwerkte vleis, gegiste kos, blikkieskos en baie ander gewilde kossoorte is verban uit my dieet.
“Wanneer ek deur ’n supermark stap, besef ek dat ek slegs ’n baie klein persentasie van die items op die rakke kan kies. Waarna verlang ek die meeste? Jogurt, donkersjokolade, tamaties, avokado’s en kaas!
“Ek moet kies wat ek kán eet”
“Ek is in my senior jare en is dankbaar dat ek langer as 60 jaar kon eet wat ek wou, behalwe skulpvis, maar nou moet ek my kos baie versigtig kies. Dit is nie meer ’n geval van vermy wat ek nie kan eet nie, maar kies wat ek kán eet. Wanneer ek dae beleef met kwaai reaksies, sal ek gekookte wit rys eet (ongegeur), ’n klein porsie wit vis of hoender, met uitgesoekte groente, gevolg deur geskilde, gekookte pere.
“Ek het sommige voedselsoorte weer probeer insluit by my dieet, maar met min sukses, aangesien skeelhoofpyn of erge hartkloppings gewoonlik weer begin opduik. Ek kan net parasetamol inneem, aangesien alle ander pynstillers ’n reaksie veroorsaak.
“Ek bak my eie glutenvrye brood, drink rysmelk en eet baie wortelgroente. Om tot my ellendes by te dra, veroorsaak sommige goed, as gevolg van my VCS, asma by my; dus moet ek lugverfrissers, parfuum, sigaret-, braaivleis- en houtrook, en verfdampe vermy. Ongelukkig lyk dit asof sommige mense nie omgee dat hulle optrede, soos om te rook, ’n reaksie in iemand se liggaam kan veroorsaak nie. Dit het selfs ’n ruk geduur voor my familie verstaan het dat my probleem lewensgevaarlik kan wees.
“Nee, ek is allesbehalwe vol fiemies, en dit is beslis nie my verbeelding nie. Toe ek my nuwe allergis ontmoet, het sy bevestig dat voedselonverdraagsaamheid en VCS ’n werklikheid is en laasgenoemde word as ’n kroniese siekte geklassifiseer.
“Daar is nog min oor LGS geskryf”
“Die meeste publikasies het al artikels aangebied oor gluten- en laktose-onverdraagsaamheid, maar ek het nog nooit enige artikel raakgeloop oor amien-onverdraagsaamheid (HI) en VCS nie. Daar is nog min oor LGS geskryf, aangesien dit ’n sindroom is, nie ’n siekte wat dokters maklik kan herken nie.
“Vir die rekord: onverdraagsaamheid rakende voedsel of sensitiwiteit daarvoor is nie dieselfde as ’n allergie nie; dit word dus beheer deur kosse en chemikalieë wat die probleem veroorsaak, uit te skakel. ’n Allergie kan gewoonlik met medikasie behandel word.
“Ek wonder hoeveel mense daar buite ly aan dieselfde simptome en wonder wat op aarde hulle makeer? Let op wat jy eet, aangesien jou maag op stuk van sake jou tweede brein is.”
*Nie haar regte naam nie.