’n Ligter jy via jou slanker sielsgenoot. In Deur Dik en Dun, van vanmiddag 16:00 af op VIA, pak vier paartjies mekaar in ’n gewigstryd. Maar net een van die wederhelftes is oorgewig, die ander een moet ondersteun. Hul liefde word tot die uiterste getoets terwyl die skaal praat.
Hierdie is die vier inspirerende paartjies wie se vordering ons elke week gaan dophou:
Elsie en Eugene Immelman
Naam: Elsie Immelman
Ouderdom: 37
Beroep: Huis- en sakevrou
Blyplek: Brakpan
Gewig aan begin van program: 79,6 kg
Naam: Eugene Immelman
Ouderdom: 40
Beroep: Kommunikasietegnikus
Blyplek: Brakpan
Chanél Erasmus en Ian Beirowski
Naam: Chanél Erasmus
Ouderdom: 28
Beroep: Hanswors en dekorspesialis
Stad: Centurion
Gewig aan begin van program: 139 kg
Naam: Ian Beirowski
Ouderdom: 32
Beroep: IT-programmeringstudent
Stad: Centurion
Estelle en Avril van Zyl
Naam: Estelle van Zyl
Ouderdom: 45
Beroep: Rekeningbestuurder
Blyplek: Randburg, Johannesburg
Gewig aan begin van program: 136 kg
Naam: Avril van Zyl
Ouderdom: 48
Beroep: Skoolhoof
Blyplek: Randburg, Johannesburg
Genene Marais en Shaun Smit
Naam: Genene Marais
Ouderdom: 22
Beroep: Werwingsbestuurder
Blyplek: Centurion
Gewig aan begin van program: 95,1 kg
Naam: Shaun Smit
Ouderdom: 24
Beroep: Masjienmonteur
Blyplek: Centurion
Ons het elke paartjie bietjie gaan pols om meer oor hulle uit te vind:
Ontmoet vir Elsie en Eugene Immelman:
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Elsie: Baie jare gelede het ons die heerlikste kuierplek in Springs gehad: Murray Park. Ek en my vriendin was daar om die skoolvakansie (ek was toe 16) en ons goeie rapporte te vier. Eugene was saam met sy vriende daar. Ons het lekker gesels, en hy het my die aand op ons eerste date gevat. Ek was maar baie skepties, want ek kon nie glo hy stel in my belang nie. Maar, ja, van toe af is ons saam, al was dit ook nie altyd net maanskyn en rose nie.
En hoe lank is julle al saam?
Elsie & Eugene: Ons is nou al amper 22 jaar saam, waarvan ons 18 jaar getroud is.
Wat het julle laat besluit om deel te neem aan Deur Dik en Dun?
Elsie: Ek het arme Eugene en die kinders nie eintlik ’n keuse gegee nie. Ek is raadop met my gewig, maar het nie die uithouvermoë of kennis om deur te druk met ’n gesonder leefstyl nie. Ons lewe is in ’n rigiede roetine: slaap, eet, werk! Op die ou end is die lewe net te kort daarvoor. En ek wou sommer almal trots maak!
Was julle senuagtig voor julle op die program verskyn het? Het julle enige voorbereiding gedoen?
Elsie: Ja, en ons is steeds! Ek is maar ’n bangbroek en skrikkerig vir enige verandering, maar almal staan bankvas agter my. Dr. Wian Stander en Lara de Chazal (die voedingkundige) maak dit net soveel beter. Hulle laat ons regtig op ons gemak voel! En nee, ons het glad nie voorbereiding gedoen nie.
Wat doen julle wanneer julle saam wil ontspan?
Elsie: Ons kyk TV. Dis seker nie so gesond nie? Ons is ook mal daaroor om die kinders se sportbedrywighede by te woon, of ons braai net rustig by die huis saam met familie en vriende.
Oorvleuel enige van jul stokperdjies?
Elsie & Eugene: Ons kan eintlik nie onthou wanneer laas ons ’n stokperdjie gehad het nie. Dis ’n skande! Al stokperdjie wat ons het, is ons kinders.
Het julle al van tevore saam ’n dieet probeer volg, oefen of gewig verloor?
Elsie: Nee, glad nie. Dis meestal maar net ek wat altyd kla oor my gewig.
Hoe lyk ’n gewone aandete vir julle twee?
Elsie & Eugene: Baie lekker kossies! Baie vet, baie sous, baie kaas; meestal pasta of die tradisionele vleis, rys, en aartappels. Bitter min van ons etes is sonder aartappels!
Hoe oorkom julle uitdagings, en hoe motiveer julle mekaar?
Elsie: Ons oorkom uitdagings sonder dat ons dit eers agterkom – en met baie gebed. Ons praat maar selde daaroor en verwerk dit op ons eie manier. Ons is al deur baie diep waters, maar tog kom ons elke keer bo uit. Ons het baie goeie vriende en familie. Sonder hulle is en het ’n mens niks in die lewe nie. Ek het wonderlike ouers wat regtig baie help. Ek is maar ’n moeilike mens en het tyd nodig om iets te verwerk, maar Eugene ondersteun my altyd. Ek is wel bereid om daaraan te werk en die lewe van nou af positiewer aan te pak.
Meer oor Chanél Erasmus en Ian Beirowski:
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Chanél & Ian: Op die internet.
Hoe lank is julle al saam?
Chanél & Ian: Al 16 maande.
Wat het julle laat besluit om deel te neem aan Deur Dik en Dun?
Chanél: Ek is keelvol vir vet wees.
Was julle senuagtig voor julle op die program verskyn het? Het julle enige voorbereiding gedoen?
Chanél: Nee, nie regtig nie. Ek was meer senuagtig toe ek op die skaal moes klim.
Oorvleuel enige van jul stokperdjies?
Chanél & Ian: Ons hou daarvan om saam video-speletjies te speel.
Het julle al vantevore saam probeer oefen of gewig verloor?
Chanél & Ian: Nee.
Hoe lyk ’n gewone aandete vir julle twee?
Chanél & Ian: Wel, gewoonlik was dit rys, vleis en aartappels. Jy weet, gewone boerekos. Maar nou is dit heeltemal anders.
Hoe oorkom julle uitdagings, en hoe motiveer julle mekaar?
Chanél: Ek huil baie maklik. Ian het net die vermoë om my te laat bedaar en my te laat lag. Ons hou die kommunikasielyn oop. Elkeen weet hy kan met vrymoedigheid praat, sonder dat daar verwyte gaan wees. Ons spoor mekaar aan deur deur dik en dun daar te wees vir mekaar en nooit mekaar se menswees te beledig nie.
Meer oor Estelle en Avril van Zyl:
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Estelle & Avril: Ons het mekaar by ’n jeugaand ontmoet.
En hoe lank is julle al saam?
Estelle & Avril: Ons ken mekaar al 27 jaar lank en sal in Desember 25 jaar getroud wees.
Wat het julle laat besluit om deel te neem aan Deur Dik en Dun?
Estelle: Ek het gevoel ek sou baat vind by die program. Ek het dit baie nodig!
Was julle senuagtig voor julle op die program verskyn het? Het julle enige voorbereiding gedoen?
Estelle & Avril: Ja, beslis! Ons was baie senuagtig. Ons het glad nie enigiets beplan nie, want ons het nie regtig geweet wat om te verwag nie.
Wat doen julle wanneer julle saam wil ontspan?
Estelle & Avril: Ons stap graag deur ons buurt en ons kampeer gereeld.
Oorvleuel enige van jul stokperdjies?
Estelle: Ja, ons het onlangs begin staproetes doen. Ons geniet dit, maar dit is soms baie straf. Dit is hoekom ek hierdie program nodig het: sodat ek aan meer staptoere kan deelneem en meer steiltes kan uitklim.
Het julle al van tevore saam ’n dieet probeer volg, oefen of gewig verloor?
Estelle & Avril: Ja, ons het saam probeer oefen . . . dit het nie gewerk nie.
Hoe lyk ’n gewone aandete vir julle twee?
Estelle & Avril: Rys, vleis en aartappels! Of tradisionele trooskos, soos lasagne.
Hoe oorkom julle uitdagings, en hoe motiveer julle mekaar?
Estelle & Avril: Ons het nou ’n doel waarna ons saam streef. Dit maak die program soveel makliker wanneer jy iemand het wat dieselfde doelwitte as jy het. Die ander voordeel is, ek verloor gewig. Dis wonderlik!
Wat jy wil weet van Genene Marais en Shaun Smit:
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Genene: Ons het gemeenskaplike vriende. Hy het eendag saam met sy vriende kom kuier, toe was die koeël deur die kerk.
Hoe lank is julle al saam?
Shaun & Genene: Amper ses jaar, waarvan ons al drie jaar verloof is.
Wat het julle laat besluit om deel te neem aan Deur Dik en Dun?
Genene: My ma het vir my ’n skakel na Deur Dik en Dun se inskrywingsblad gestuur. Ek wou eers nie deelneem nie, maar hoe meer ek en Shaun daaroor gepraat het, hoe meer het ek besef dis dalk vir ons. Al wat ek kon verloor, was gewig.
Was julle senuagtig voor julle op die programme verskyn het? Het julle enige voorbereiding gedoen?
Shaun & Genene: Beslis, maar ons het nie voorberei nie. Ons het besluit ons gaan net onsself wees en dit vat soos dit kom.
Wat doen julle wanneer julle saam wil ontspan?
Shaun & Genene: Ons hou van familietyd, braai, kuier en buitemuurse aktiwiteite. Ons is ook mal daaroor om ’n bietjie weg te kom, veral wildtuin toe.
Oorvleuel enige van jul stokperdjies?
Genene: Ons oefen saam. Shaun het ’n Yamaha R6, en ons hou daarvan om met sy motorfiets saam na plekke toe te ry. Ons hou ook baie van visvang.
Het julle al van tevore saam ’n dieet probeer volg, oefen, of gewig verloor?
Genene: Ons het in die eerste twee jaar van ons verhouding saam geoefen en reg geëet. Toe het ons daarmee opgehou. Ek het gewig begin aansit, en van daar af is dit maar ’n stryd met my gewig. Shaun het baie gesukkel om alles saam met my te doen, maar ons probeer dinge saam aanpak.
Hoe lyk ’n gewone aandete vir julle twee?
Shaun & Genene: Ons is mal oor proteïen, so aandete sal definitief vleis, vis en hoender insluit, met bygeregte soos slaai en groente.
Hoe oorkom julle uitdagings, en hoe motiveer julle mekaar?
Shaun & Genene: Ons staan van die begin af saam. Ons het al moeilike tye gehad, maar ons was daar vir mekaar, en wanneer die een aansporing nodig het, hou die ander een hom regop.
’n Nuwe episode van Deur Dik en Dun word elke Dinsdag om 16:00 op VIA uitgesaai.