Verloor jy meer as 100 hare per dag? Dit maak nie saak watter kleur jou hare is of in watter styl dit geknip is nie; jy wil nie een van hulle verloor nie.
As jy dus sien daar lê bosse hare op jou kopkussing, hulle vergader in jou stort of val op jou lessenaar, begin jy jou bekommer. Hoekom val my hare uit? Gaan ek bles raak?
Haarverlies kan, by mans sowel as vroue, lei tot angs en depressie – ’n welige haardos is immers blykbaar belangrik vir jou selfbeeld.
Dr. Adolf Klenk, een van die voorste deskundiges op die gebied van haarnavorsing, het aan Health24 die betekenisvolle verskil in haarverlies by mans en vroue verduidelik.
Androgenetiese haarverlies
“By vroue begin haarverlies gewoonlik op die middelste gedeelte van die kopvel en versprei in ’n wye patroon agtertoe. By mans begin die haarlyn terugwyk en naderhand is die boonste gedeelte van die kop heeltemal kaal,” het hy gesê.
Nog ’n verskil is die ouderdom waarop die hare gewoonlik begin minder raak.
Spanning, streng diëte en ongebalanseerde kos kan haargroei uiters nadelige beïnvloed.
“By mans begin puberteit op 16 en by vroue begin die tipiese androgenetiese haarverlies tydens menopouse. Jong vroue kan natuurlik ook haarverlies ervaar.”
Spanning, streng diëte en ongebalanseerde kos kan haargroei immers uiters nadelige beïnvloed.
“By albei geslagte word dit geneties bepaal. Of mense rede het om hulle te bekommer, kan geneties bepaal word deur hul familiegeskiedenis.”
Vroue wat meer as honderd hare per dag verloor, kan aan óf stresverwante óf menopousale haarverlies ly.
“Die haarwortel is ’n orgaan wat baie energie verbruik; daarom kan ’n enkele haarvesel gewoonlik nie lewenslank groei nie,” het Klenk beduie.
Talle uitdagings vir die haarwortel
Hy het gesê ná ’n ononderbroke groeitydperk van vyf tot sewe jaar hou die haarwortel op groei en ondergaan dit ’n herstelproses, wat etlike maande duur.
“In hierdie hersteltydperk sal die haarvesel afgewerp word. Dit is normaal en daar is geen risiko dat die hare yler sal word nie. Weens hierdie sensitiwiteit is daar heelwat faktore wat die haarwortel in ’n voortydige hersteltydperk kan dwing. Die daaglikse telling van haarverlies kan gevolglik drasties toeneem.”
Klenk sê die haarwortel moet talle uitdagings die hoof bied.
“Eerstens is daar die oorgeërfde postmenopousale verdunning van die hare. Van die begin van die menopouse af verminder die natuurlike beskerming wat estrogeen bied, en die uitwerking van testosteroon (ja, vroue het dit ook) neem toe. Vroue word gedurende hul menopouse aan dieselfde soort haarverlies onderwerp as mans van puberteit af.”
’n Man kan baie maklik seker maak of hy deur androgenetiese haarverlies geraak word.
Volgens hom is stres nog ’n ernstige uitdaging. “Haarwortels is baie gevoelig vir spanningsvolle tye. Stres word ook veroorsaak deur ’n streng of ongebalanseerde dieet. Vroue wat streng ’n verslankingsdieet volg, ervaar ’n waarneembare toename in haarverlies. ’n Tekort aan belangrike spoorelemente, soos sink, kan die gevolg wees van ongebalanseerde voedsel of wanabsorpsie van spoorelemente.”
Hy het ook gesê ’n man kan baie maklik seker maak of hy deur androgenetiese haarverlies geraak word.
“Hierdie soort haarverlies word oorgeërf en ’n vinnige kykie na jou familiegeskiedenis kan jou sê of jy geraak word of nie. As daar by ouers, ooms, grootouers, ens. ’n patroon van ylerwordende hare te bespeur is, is dit hoog tyd dat jy die heel eerste simptome van verswakte hare voorkom en omkeer. Hoe gouer jy met behandeling begin, hoe beter is die kans dat jy jou hare kan red.”
Bron: Health24