DIE vyfmalige Olimpiese kampioen Ian Thorpe is in ’n Australiese rehabilitasiekliniek opgeneem nadat hy glo gedisoriënteer in ’n straat naby sy ouerhuis in Sydney was en polisiebeamptes hom moes beheer.
The Sydney Morning Herald berig die Olimpiese legende, wat die “Thorpedo” gedoop is vanweë sy spoed in die swembad, voer ’n stryd teen depressie en alkoholmisbruik.
Bekommerde bure het Ian glo Maandag in die vroeë oggendure sien ronddwaal en die polisie ontbied. Beamptes het die sportster na ’n hospitaal gebring, waarna hy in ’n rehabilitasie-kliniek opgeneem is.
James Erskine, Ian se bestuurder, het aan Fairfax Media bevestig Ian is van die Bankstown-hospitaal na ’n kliniek gebring.
Poniekoerante het verlede week berig Ian (31) voer ’n stryd teen depressie en alkoholmisbruik en word reeds in ’n kliniek behandel. Sy bestuurder het dié bewerings toe verwerp, en gesê Ian is in die hospitaal vir ’n skoueroperasie. Ian het hom glo vroeër beseer nadat hy geval en in die hospitaal opgeneem is.
“Die koerantberigte het nie gehelp nie,” het James aan koerante gesê. “Ian het antidepressante en pynstillers gebruik vir sy skouer. Hy het nie gedrink nie. Daar was nie alkohol betrokke nie. Hy was gedisoriënteer en het probeer klim in wat hy gedink het ’n vriend se kar is,” het hy oor Maandag se voorval gesê.
“Verlede week se ongegronde berigte het hom beslis ontstel. Ek sê nie dit het hom op ’n afwaartse pad gestuur nie, maar hy was nie in ’n kliniek nie. Dis die waarheid. Mense moet hom nou net ruimte gun.”
Ian het in sy outobiografie erken hy sukkel met depressie. Hy het ook geskryf dat hy soms selfdood oorweeg en baie gedrink het. “Ek is seker hy sal hierdeur kom, maar hy gaan hulp nodig hê. Volgens sy ma was Ian altyd die perfekte skoolseun wat altyd baie hoë eise aan homself gestel het.”