As jy dié flieks in 2013 gemis het, moet jy dit beslis nie tydens jou blaaskans misloop nie!
BREAKING BAD
Ná vyf seisoene en talle toekennings het die verhaal van die chemie-onderwyser Walter White (Bryan Cranston), wat tik begin vervaardig het met sy oud-student Jesse Pinkman (Aaron Paul), uiteindelik tot ’n einde gekom. Die toneelspel, kamerawerk en storielyn in dié misdaad-dramareeks is uit die boonste rakke en is ’n moet-sien!
DOWNTON ABBEY
Dié bekroonde Britse periodedrama beeld die lewe van die adellike Crawley-gesin en hul bediendes uit in die post-Edwardiaanse tydperk. Die dramareeks het verlede jaar 13 Emmy-benoemings losgeslaan.
THE FIXER
Kerry Washington vertolk die rol van Olivia Pope wat haar eie krisisbeheerfirma begin. Sy is ’n professionele “fixer” wat jou probleme soos mis voor die son laat verdwyn. En haar verhouding met die Amerikaanse president sal jou op die punt van jou stoel hou.
THE WALKING DEAD
Die reeks draai om ’n groep mense wat probeer oorleef in ’n wêreld wat deur zombies oorgeneem word. Rick (Andrew Lincoln) het die taak om almal in die groep veilig te hou, en dis nie altyd ’n maklike taak nie.
MODERN FAMILY
Dié skreeusnaakse komediereeks draai om die familie-patriarg Jay Pritchett (Ed O’Neill), sy sexy tweede vrou, Gloria (Sofía Vergara), en sy twee kinders, Claire (Julie Bowen) en Mitchell (Jesse Tyler Ferguson) en hul gesinne. Dié epiese komediereeks gaan jou laat lag tot jou maagspiere styf trek.
Lara Atson