Paul Walker gaan glo veras word. Die wyle ster van Fast & Furious, wat tragies op 30 November gesterf het toe die motor waarin hy gereis het ’n paal getref en aan die brand geslaan het, sal die naweek ter ruste gelê word by die Forest Lawn-gedenkpark in Hollywood, berig E! News.
Paul se oorskot is Dinsdag aan sy familie oorhandig en hulle is besig om sy begrafnis te beplan wat na verwagting vandeesweek sal wees met net die familie wat dit sal bywoon.
Daar sal egter nog ’n private gedenkdiens vir vriende en familie by ’n onvermelde plek gehou word wat sy medesterre in Fast & Furious na verwagting sal bywoon. Paul en sy vriend Roger Rodas was in ’n motrongeluk in Santa Clarita, Kalifornië betrokke en ’n lykskouer het sedertdien bevind hul dood was ’n ongeluk.
’n Nie-amptelike gedenkdiens is Sondag gehou op die plek waar die twee gesterf het. Die akteur se vriende en familie het ook op 2 Desember by die ongelukstoneel bymekaargekom om hul respek te betoon.
Paul se jiu-jitsu-afrigter Ricardo Miller, wat hom vir nege jaar in die gevegkuns afgerig het terwyl hy aan die Fast & Furious-flieks gewerk het, het sy wyle vriend met ’n ere-swart gordel herdenk.
Hy het op sy amptelike webblad geskryf: “Paul was vasbeslote om ’n swart gordel te behaal. Hy’t gesê: ‘Ek sal my swart gordel kry al moet ek dit ook in my doodskis kry.’ En nou wil ek graag vir Paul Walker beloon met die swart gordel wat hy sou graag wou hê.”