Geweld teen vroue en kinders is besig om handuit te ruk, en steeds sit Suid-Afrika handjies gevou – nes voorheen met MIV/vigs, sê ons blogger Zelda la Grange.
VROEG in die 2000’s was Suid-Afrika hard aan die stry teen die MIV/vigs-pandemie. Ons het besef dat ons te min aandag aan die probleem geskenk het en die infeksiekoers was so hoog dat 700 tot 800 mense elke dag aan vigsverwante siektes dood is. Die regering het die erns van die probleem ontken.
Twee dinge is baie duidelik as ek aan daardie tyd terugdink en hoe dit ooreenkomste toon met die huidige situasie van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika. Die eerste is dat ons in ’n “kom ons wag en kyk”-groef verval het en toelaat dat ’n krisis soortgelyk aan die MIV/vigs-pandemie handuit ruk voor ons regtig iets daaraan doen. Ons skrik eers wakker as die statistiek regtig skokkend word.
Hoeveel vroue moet nog deurmaak wat Anene Booysen Ina Bonnette moes deurmaak voor ons iets doen aan die geweld waarmee vroue en kinders te kampe het?
Die tweede ding is dat dit duidelik is dat wanneer ons met geweld teen vroue en kinders te doen het, ons kultureel nie geleer het om respekvol en ernstig oor seks in ons gesin en sosiale omgewing te gesels nie. Dit was ook een van die probleme met MIV/vigs. Dis taboe om oor seks te praat en volwassenes vermy die gesprek as kinders betrokke is. Ons kan nie ’n probleem hanteer as ons nie openlik daaroor praat nie.
Vandag verskaf die regering darem al antiretrovirale middels aan mense, maar daar is geen middel wat help vir die siel van ’n kind of vrou wat vir altyd die letsels van geweld of verkragting sal dra nie.
Hoe lank nog voor ons iets prakties aan die probleem doen?
Zelda la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.