Daar is ’n nuwe app wat jou kan help uitken wie nie baie van jou hou op Facebook nie.
HateWithFriends.com is die jongste sosialenetwerk-app wat jou in staat stel om valse vriende uit te wys. Die diens wys ’n lys van jou Facebook-vriende en dan kan jy onder die mense se gesig klik met wie jy nie langs dieselfde vuur sit nie.
Die betrokke partye word per epos in kennis gestel en dan weet julle albei dat julle vriendskap op Facebook gegrond is op leuens.
Chris Baker, wat voorheen die kreatiewe direkteur by BuzzFeed was, het hierdie ongewone sosiale app ontwikkel.
Daar is egter diegene wat reken dat die app onnodig is omdat jy bloot die mense van wie jy nie hou nie, kan verwyder sonder dat jy hulle hoef sleg te sê.
Hoewel kritici die app bevraagteken, meen Baker dit moet met ’n knippie sout geneem word. Hy het aan ABC News gesê dat dit “pret moet wees en sosiale kommentaar op die huidige stand van Facebook moet lewer”.
Bron: MailOnline