Het die skoolstelsel jou in die steek gelaat? Sien jy nie meer kans vir skool nie? As jy ja hierop antwoord, is daar ’n nuwe werklikheidsreeks wat dalk vir jou die tweede kans kan gee wat jy verdien.
Die vervaardigers van die TV-werklikheidsreeks genaamd Dream Schools SA is op soek na deelnemers tussen 15 en 18 jaar oud wat óf ’n skoolgraad gedruip het óf skool sonder ’n sertifikaat verlaat het.
Die werklikheidsreeds, wat gegrond is op Jamie’s Dream School (’n Britse TV-reeks deur Jamie Oliver), gee ’n tweede kans aan jong leerders wat weer hul passie vir opvoeding aan die brand wil steek.
Die spesiale skool van twee weke sal ’n unieke opvoedingservaring bied met lesse wat aangebied sal word deur omtrent 12 bekende en suksesvolle Suid-Afrikaners.
Party leerders wat Dream School SA suksesvol slaag sal ’n beurs kry wat hulle sal help om terug skool toe te gaan en hul matriek te voltooi, of om in te skryf vir tersiêre opvoeding.
Wat moet jy weet?
- Die deelnemers aan die TV-reeks moet van 17 Junie tot 6 Julie in Kaapstad wees.
- Die program sal op ’n gratis kanaal uitgesaai word en deelnemers moet bereid wees om tuis sowel as in die klaskamer verfilm te word
- Verblyf in Kaapstad en vervoer na en van die plek waar die opnames gemaak word, sal deur die vervaardigers voorsien word.
- Ouers of onderwysers is welkom om leerders te benoem maar moet hul toestemming hê om dit te doen.
Watter inligting het ons van jou nodig?
- Jou volle naam en van
- Geslag
- ID-nommer
- Foto
- Verduidelik kortliks aan ons waarom jy aan Dream School SA wil deelneem.
- Hoekom het dinge nie vir jou uitgewerk op skool nie? Wat is jou akademiese rekord?
- Waarmee het jy gesukkel?
- Waarmee wil jy graag oor 10 jaar besig wees?
Opskud, jy moet voor Vrydag 7 Junie inskryf. Stuur jou inskrywing aan Shiehaam Daniels (shiehaam.daniels@media24.com) en skryf “Dream School” in die onderwerplyn.