Volgens ’n biograaf het die hertog en hertogin van Cambridge mekaar geken voor hulle saam op universiteit was.
Daar is aanvanklik geglo prins William en Catherine het mekaar ontmoet terwyl hulle aan die Universiteit van St. Andrews studeer het. Katie Nicholl beweer nou hulle het deur gemeenskaplike vriende ontmoet terwyl hulle in Form 6 – die laaste twee jaar op hoërskool – was.
Katie doen navorsing vir haar boek Kate: The Future Queen. Sy het in ’n onderhoud aan Katie Courie, die aanbieder van US TV, gesê: “Dis werklik fassinerend. Ek was besig om te gesels met van Catherine se vriende by Marlborough College, waar sy studeer het voor sy universiteit toe is. Hulle het gesê: ‘Nee, sy het hom nie by St. Andrews ontmoet nie. Sy het hom ontmoet voor sy daar was . . . deur van haar vriende. Hulle het prins William en prins Harry geken.”
Katie het gesê sy het gedink dis interessant dat Kate Middleton, soos Catherine eers bekendgestaan het, besluit het om aan die Universiteit van St. Andrews te studeer. Sy het glo aanvanklik by die Universiteit van Edinburgh om toelating aansoek gedoen.
Catherine het toelating gekry, maar het dit van die hand gewys en ’n jaar afgeneem. Nadat William aangekondig het hy gaan aan die Universiteit van St. Andrews studeer, het sy daar om toelating aansoek gedoen.
Katie het gesê: “Dit was ’n groot risiko – aansoeke by St. Andrews het met 50 persent opgeskiet nadat die paleis aangekondig het prins William gaan daar studeer.”
Catherine (31) en William (31) het in 2004 bevestig hulle gaan uit, is in 2007 vir ’n kort rukkie uitmekaar en het in 2011 getrou. Hul eersteling, prins George, is vanjaar gebore.