Dit was omtrent ’n uithang-affêre toe die diva Mimi Coertse se seun, Werner, onlangs in Pretoria met Jollie Botha getroud is. En ongewoon was dit beslis, vertel Huisgenoot se joernalis.
KYK, as ’n mens die dag trou, kan jy dit maar net so goed koninklik doen. En dis hoe die troue was waaroor ek verlede naweek vir Huisgenoot verslag gaan doen het. So koninklik en weelderig, jy kan jou verbeel jy kuier in ’n kasteel in Europa.
Vier haarkappers en grimeerkunstenaars het om een bruid gekloek.
Een bruid het twee trourokke en twee paar skoene gedra en twee haarkapsels gehad.
Ek het minstens vier fotosessies getel. Dan was daar nog die Huisgenoot-span en die Bravo! TV-span wat ook die geleentheid vasgevang het.
Ja, dit was omtrent ’n gedoente toe die operalegende Mimi Coertse se seun, Werner Ackermann, getroud is met Jolene Botha, of Jollie soos hulle haar noem. Die bruidspaar het werklik geglo dis ’n koninklike affêre en dat net die beste koninklike behandeling goed genoeg is. Daar is aangetrek by ’n gastehuis met ’n koninklike verwysing in die naam – in die presidensiële suite.
Die seremonie en onthaal was by ’n venue in die vorm van ’n kasteel. Dat van die gaste nie juis die koninklike konneksie verstaan het nie, het min gepla. Die bruidspaar vertel hulle is albei van adellike afkoms – en nou is hulle dubbele koninklikes, het hulle my goed laat verstaan.
Werner se oorlede pa, Werner sr., was ’n Switserse graaf en Werner jr. het sy titel geërf. Jollie sê haar blou bloed kom van haar ouma, wat ’n Von Landsberg van Oostenryk was. Hulle noem hulleself ook lord en lady sedert Werner grond in Skotland gekoop het.
“Jy koop dus die titel ook?” vra ek in ‘n poging om die kloutjie by die oor te kry.
“Moet dit nie so skryf nie!” laat hy ergerlik hoor. “Die titel kom saam met die grond. Ons is lord en lady Blackwood – dis waar die grond is. Dis nog ’n verrassing vir die gaste.”
Vir Gi-Gi, hul driejarige mopshond, was ook net die beste koninklike behandeling goed genoeg. Die hond het ’n ontwerpersrokkie gedra en later die aand aan die hooftafel gesit.
Ek het al oor baie troues vir Huisgenoot geskryf, maar dié een was werklik die ongewoonste nog. Daar was net ’n paar tafels in die saal en nie sitplek vir al die gaste nie. Dis hoe die bruidspaar dit verkies het. Die troue het ’n Marie-Antoinette tema gehad en hulle wou die gevoel skep van ’n klassieke bal met ’n paar gaste wat sit en die res wat in die saal rondstaan, soos in die koninklike balsale van ouds.
Konvensioneel was dit nie. Tradisioneel ook nie. Anders, ja!
- Danél Blaauw
Danél Blaauw is ’n Huisgenoot-joernalis. Lees haar volledige foto-artikel oor die Ackermann-troue in die Huisgenoot wat nou te koop is met prins Harry op die voorblad.
Lees ons ander agter-die-Huisgenoot-skerms-blogs: