J.K. Rowling skryf ’n reeks rolprente soos Harry Potter.
Die gewilde skrywer maak haar debuut as draaiboekskrywer met ’n reeks rolprente wat losweg gegrond is op haar wêreldbekende reeks oor die tienertowenaar en sy stryd teen die Dark Lord.
Die eerste rolprent, Fantastic Beasts and Where to Find Them, is ’n oorspronklike verhaal wat op die avonture van Newt Scamander gegrond is.
Bewonderaars sal die fiktiewe naam herken uit die Fantastic Beasts-handleiding wat Harry en sy maats by die Hogwarts School of Witchcraft and Wizardry gebruik het.
J.K. vertel: “Die rolprent sal afspeel in die wêreldwye gemeenskap van hekse en towenaars waarin ek 17 jaar so gelukkig was. Tog is Fantastic Beasts and Where to Find Them nie ’n voorspel of opvolg tot die Harry Potter-reeks nie. Dis ’n verlengstuk van die towenaarswêreld.
“Die wette en gewoontes van die verborge towenaarsgemeenskap sal bekend wees aan enigeen wat die Harry Potter-boeke gelees het of die rolprente gesien het. Tog begin Newt se verhaal in New York, 70 jaar voor Harry.”