Seline en Leandri van der Wat is driedubbel talentvol: pragtig, slim en sprankelend. Boonop kan hulle wonderlik kook.
Vermenigvuldig dit met twee hardwerkende susters van Pretoria, en jou som werk uit op briljantheid en sterk mededinging. Seline (25) is ’n ontwikkelaar van aanlegte vir hernieubare energie en Leandri (23) ’n meesterstudent in chemie, en albei was onder die topvyf in MasterChef South Africa. Aangesien die twee mekaar die beste ken, het ons besluit om sake so ’n bietjie op te kikker . . .
Ons het gevra die susters moet kreatiewe vrae vir mekaar uitdink. Dis die gevolg.
Joernalis Seline vra Leandie ’n paar dinge . . .
1) Jy het verlede jaar ’n alleenreis deur Afrika onderneem. Wat was jou gunsteling-land en die belangrikste ding wat jy geleer het?
Ek het in 2012 alleen deur Afrika gereis, by verskillende sendingstasies tuisgegaan en by baie organisasies vrywillige werk gedoen. Ek dink my gunsteling-land in Afrika is Rwanda. Die mense is inspirerend en het ’n briljante houding.
Die grootste lesse wat ek uit my ervaring geleer het, is dat God so getrou is. Hy het so baie kere in gevaarlike situasies, wanneer ek verdwaal en eensaam was, na my omgesien.
2) Is jy ’n alleenloper?
Ek is, maar ek is ook nie. Ek glo vas in uitgaan met die doelwit om te trou. Totdat God my wys met wie Hy wil hê ek moet trou, is ek dus tegnies nie “in die mark” nie, en dus nie enkellopend nie. Ek wil nie speletjies speel nie.
3) Aan wie was jy die naaste by MasterChef (behalwe aan my )
My kamermaat, Karen Els, het werklik diep in my hart gekruip. Sy is so ’n warm en sorgsame mens. Sy is ook baie gewillig om haar kennis te deel en het my so baie vaardighede geleer. Ek was ook naby aan Sanet en Tiron; ek was baie hartseer toe hulle weg is.
4) Jy het baie gesing terwyl jy in die kombuis gekook het. Was dit altyd dieselfde liedjie?
Ek het gewoonlik op my iPod na musiek geluister wanneer ons in die kombuis was, en dit was altyd na Jesus Culture, Switchfoot of Misty Edwards. Wanneer ek “in die sone is” en dit regtig geniet, is ek geneig om te sing sonder dat ek dit besef, en dit het dikwels in die kombuis gebeur. Eenkeer, terwyl ek gesing het, het Chef Pete verby my geloop en gesê ek moet stilbly. Dit was gemeen!
5) Wat is die laaste ding op aarde wat jy sal eet?
’n Kat. Hulle dra baie parasiete en virusse en ek sal net nie een in my mond kan sit nie. Hulle is ook regtig oulik, en dit sal my pla om iets te eet wat so skattig is. Dit lyk net nie reg nie.
6) Jy is baie dapper in die kombuis en jy leer vinnig. Wat is die beste nuwe plan/kombinasie wat jy geleer het?
Ek het geleer hoe om dinge te rook deur ’n roker met ’n kastrol en foelie aanmekaar te flans. Ek het ook geleer dat jy sorbet uit enigiets kan maak. Ek het byvoorbeeld daardie geroosterde suikermielie-sorbet gemaak. Dit was pret. Dit maak ’n hele nuwe wêreld van kulinêre ontdekking oop.
7) Wat sê mense van jou nadat jy op die program was, wat jy graag sal wil regstel?
Mense verwar dikwels wetenskaplikes en ingenieurs. Dit irriteer my werklik wanneer ek ’n ingenieur genoem word! Wetenskaplikes ontwikkel teorieë en dan neem ingenieurs die teorie en pas dit op ’n sekere manier toe om geld daaruit te maak.
Ek wil dit ook duidelik maak dat ek en Jason nooit ’n paartjie sal wees nie. Dit maak nie saak hoeveel mense vir ons sê dat ons ’n goeie paartjie sal wees nie, geheel en al nie! Ek geniet dit egter om hom as vriend te hê.
Joernalis Leandri se vrae aan Seline:
1) Jy het mak hase. As jy op ’n eiland gestrand is en jy moet hase slag want daar is nie ander kos nie, sal jy dit oor jou hart kan kry om hulle dood te maak en te eet?
Hahaha NEE! Ek sal nooit my hase eet nie. Hulle is soos my kinders!
1) Jy het baie hoogtepunte en een of twee laagtepunte in die kompetisie gehad. Een ding wat jy in jou tyd in MasterChef sou verander?
Ek wens ek het nooit my topvyf gereg aan die beoordelaars voorgesit nie. ’n Leë bord sou beter gewees het! Of eerder, ek wens dat ek nie in daardie uitdaging versteen of opgewonde geraak het nie. Maar ek reken ’n mens leer uit hierdie dinge.
2) Ek weet dat jy snaakse peuselgewoontes het. Jy het op MasterChef genoem dat jy graag rou pasta uit die pakkie eet. Vertel ons van ander snaakse goed wat jy eet terwyl jy TV kyk en hoekom?
Ek is gek na rou pasta. Dis so hard en sleg vir jou tande, maar ek kan dit nie keer nie. Maar die meeste van die tyd eet ek bevrore goed. Ek eet bevrore ertjies, bevrore druiwe, bevrore stukke appel, bevrore frambose! Ek weet dis vreemd, maar ek is verslaaf aan die tekstuur van bevrore kos.
3) Jy en jou kêrel, Jaco, gaan nou byna vyf jaar uit. Watter gereg maak jy vir hom as “afpersingsmateriaal”? Geniet jy dit om vir hom te kook?
Ek geniet dit werklik om vir Jaco te kook, want hy is altyd so opgewonde daaroor en so lief vir die kos wat ek maak. Hy het nie in ’n gesin wat kook grootgeword nie; dus dink ek hy geniet dit om baie te leer. Wanneer ek Jaco wil omkoop, maak ek vir hom ’n nagereg met sjokolade, voorgesit met ’n sitrussous en whiskey. Dit, of ’n goeie filletbiefstuk met ’n beetsous. Hy sal my enigiets gee wat ek wil hê
4) Mense was met tye taamlik ongeskik op die sosiale media. Hoe hanteer jy dit?
Ek hanteer dit deur op die positiewe te fokus. Die persoon wat ek op die program is, is die regte, eerlike, ware ek. As mense my misverstaan of net nie van my hou nie, maak dit seer, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.
5) Ek sal nooit die gekke sjokoladekoek vergeet wat jy op pa se verjaardag gemaak het toe jy 12 jaar oud was nie. Wat het jou besiel om so ’n monumentale skepping te maak?
Haha, dis die koek wat ek met 1,4 kg verskillende sjokolade gemaak het, met twee ganaches en amandelpraline. Terwyl my arm gebreek was! Ek glo as ’n mens nie weet hoe moeilik dit is om iets te doen nie, jy baie meer geneig is om dit reg te kry omdat jy jou nie opwen nie.
6) Hoe het dit gevoel om elke dag by die MasterChef-kombuis op die Nederburg-landgoed in te stap?
Om by daardie kombuis in te stap was altyd 10 persent suiwer vrees, 40 persent opwinding en 50 persent absolute ongeloof en ontsag dat ek sowaar by die MasterChef-kombuis instap! Wat ’n droom.
7) As ek nie deel was van die kompetisie nie, toe ons onder die eerste 16 was, wie het jy gedink sal wen?
Ek het eerlikwaar gedink Sanet sal wen!
8) Met wie uit die eerste 16 dink jy gaan jy kontak behou? Het jy lewenslange vriende gemaak?
Ek het definitief lewenslange vriende met Kamini, Tiron en Ozzy gemaak. Ek mis dit om hulle elke dag te sien.
- Loren Pienaar