’n Britse ma het haar tot die hof gewend om haar oorlede dogter se bevrore eierselle te kry sodat sy dit kan laat bevrug en die lewe skenk aan haar eie kleinkinders.
Volgens die 58-jarige vrou en haar 59-jarige man was dit hul dogter se laaste wens dat haar ma haar kinders moet baar.
Haar grootste droom was glo om kinders te hê.
Die dogter was ’n enkelkind en is in haar laat 20’s weens maagkanker oorlede. Sy het haar eierselle kort ná haar kankerdiagnose laat vries.
Haar grootste droom was glo om kinders te hê.
’n Kliniek in New York het na berig word, aangebied om die prosedure te doen as die egpaar die hofsaak wen. Dit sal hulle glo meer as R1,1 miljoen kos.
Dit word beskou as die eerste keer ter wêreld dat ’n ma haar oorlede dogter se kinders wil baar.
Die instansie waar die eierselle geberg word, het verlede jaar geweier om die eierselle aan die ouers te oorhandig. Hulle het gesê daar is nie genoeg bewyse dat dit die dogter se wens was nie. Die ouers het nie ’n geskrewe dokument of enige ander bewyse nie.
Dit is moontlik vir vroue wat reeds deur menopouse is om ’n surrogaatmoeder te wees, maar daar is baie risiko’s vir ma en kind.
Bronne: Daily Mirror, dailymail.co.uk