ASHA is ’n ongelooflike geskenk!” So sê Robyn Wolfson-Vorster van die driejarige meisie wat in 2012 op vyf maande in haar en haar man, Neil Vorster, se lewe gekom het. “Sy is ’n groot plesier en het ’n ongelooflike talent om met mense om te gaan en hulle spesiaal en gelief te laat voel.”
Fagin Saunders en sy vrou, Celeste, van Brackenfell, Kaapstad, het hul dogter, Kirsten, in 2011 aangeneem toe sy net ’n bietjie ouer as twee maande was. Wanneer sy hom pappa noem, “vul dit my hart met liefde”, sê Fagin.
“Ek is oorstelp van vreugde wanneer ek dit hoor! My lewensdoel strek nou verder as my verwagtinge vir myself en ek sien uit na elke fase van haar lewe.”
Aanneming het vir mense soos die egpare Saunders en Vorster ’n kans gegee om hul gesinne uit te brei.
Robyn en Neil se verhaal:
Robyn en Neil het reeds ’n vierjarige seun, Luke, gehad wat deur middel van in vitrobevrugting verwek is en het gesukkel om ’n tweede baba te kry.
‘Aanneming is ’n natuurlike deel van ons gesin se gesprekke.’
Hulle het gaan aanklop by die Impilo-aannemingsagentskap en die kinderbeskermingsdienste in Johannesburg. “Wat administrasie betref, was die proses intensief. Vergeleke met vrugbaarheidsbehandeling was dit heel maklik en baie minder emosioneel uitputtend; anders as die gewag, wat ondraaglik was!” sê Robyn.
“Asha het 11 maande ná ons eerste ontmoeting met ons maatskaplike werker by ons uitgekom.” Hulle het dit nie oorweeg om ’n wit kind aan te neem nie. “Dis amper ongehoord dat ’n ouer paartjie (Robyn was toe 40 en Neil 47) wat reeds ’n kind het in aanmerking sal kom vir die aanneming van ’n wit kind. Maar bowenal was dit nie iets wat ons wou hê nie,” sê Robyn.
Die gesin het vir Asha gesê sy is aangeneem en het gevind dis makliker as wat hulle verwag het om ’n kind uit ’n ander ras aan te neem. “Aanneming is ’n natuurlike deel van ons gesin se gesprekke,” sê sy. “Sy is ’n konstante herinnering dat liefde lewens verander.”
Fagin en Celeste se verhaal:
Celeste se kans om swanger te raak was uiters skraal. “Ons het toe met vrugbaarheidsbehandelings begin, maar dit was die een teleurstelling ná die ander.” Hulle het besluit om eerder ’n kind aan te neem en het by Magdalena-huis in Bellville gaan aanklop.
‘Maar belangriker nog, vir ons is sy in elke opsig volmaak,’ sê Celeste.
Dit het ses maande geduur van die begin van die aannemingsproses. Die grootste oponthoud was die polisieklaring, wat vier maande geduur het. “Ons was geseën, want ons was net twee maande ‘swanger’,” sê Celeste oor die wagtydperk voor hulle gehoor het daar is ’n baba vir hulle.
“Ek was op ’n werkreis toe die maatskaplike werker bel en sê hulle het vir ons ’n baba,” sê Fagin. “Ons het Kirsten vyf dae later gaan haal.”
Familie en vriende het ingespring en binne drie dae het die enkele babamat gegroei tot ’n oorvloed babaprodukte. Celeste sê dit het baie vinnig gebeur. “Ons was maar onseker en Kirsten het baie krampe gehad.
Fagin is ’n baie betrokke pa, wat dinge makliker maak. Ek het ook vier maande swangerskapsverlof gehad, wat ons ’n kans gegee het om ’n band te vorm.” Die egpaar sê hul dogter is lewenslustig en intelligent. “Maar belangriker nog, vir ons is sy in elke opsig volmaak,” sê Celeste.
Deur NATALIE CAVERNELIS
Vir meer oor die A tot Z van aanneming, kliek hier.