Sir Elton John “voel goed” en kan nie wag om op Maandag 2 September weer op die verhoog te wees nie.
Die sanger moes uit ’n rits somerkonserte onttrek nadat hy blindedermontsteking gekry het, maar hy het goed herstel ná sy operasie en maak gereed vir sy terugkeer.
Hy het aan vriende gesê: “Ek voel goed. Ek kan nie wag om terug te keer na die verhoog nie.”
Elton (66) sal in styl terugkeer: Hy gaan by die Londense Palladium die eerste BRIT Icon-prys ontvang en ook ’n konsert hou.
’n Bron het aan die koerant Daily Mirror gesê: “Hy het ’n moeilike paar weke agter die rug en was baie siek, dus was daar vrese dat hy maande lank nie agter die klavier sal sit nie. Die pyn was erg, maar die ruskans om te herstel het hom die wêreld se goed gedoen. Elton is gebore om op die verhoog te wees. Nadat hy geopereer is, het hy gesê hy kan nie wag om weer te speel nie.”
Elton se blindederm is aan die begin van die maand in die Princess Grace-hospitaal in Monaco verwyder, en hy het daarna by sy huis in Nice, Frankryk, aangesterk. Sy man, David Furnish (50), en hul seuns, Zachary (2) en Elijah (sewe maande) was aan sy sy.
Onder die konserte wat die ster gekanselleer het was vertonings in Duitsland en Engeland, wat ’n versekeringsuitbetaling van tot R160 miljoen vir kaartjieterugbetalings kan lei.