Robert Pattinson is “te sensitief” en wil eintlik net hê mense moet van hom hou.
Hoewel Rob een van die grootste sterre wêreldwyd is, met ’n horde helpers wat regstaan om enigiets vir hom te doen, bly die 27-jarige akteur doelbewus nederig en erken hy hy is soms onseker oor wat ander mense van hom dink.
Hy het aan die tydskrif InStyle gesê: “Jy sien mense dit die hele tyd doen . . . dis maklik om daardie paadjie te stap en ’n totale idioot te word. Ek onthou ek het eenkeer saam met hierdie ou gewerk . . . Dit was sy eerste fliek en ons was al drie weke lank daarmee besig. Hy was besig om met iemand te gesels en het pas sy bottel water leeggedrink. Hy het dit uitgehou en gewag dat iemand dit by hom vat. Ek het gedink: Jy is nog net drie weke hier!
“Ek is dalk te sensitief. Ek wil nie hê dat mense nie van my hou nie. Ek vind dit regtig moeilik om mense te vra om dinge vir my te doen. As jy mense begin rondbeveel, doen hulle dit omdat hulle moet. Dan dink hulle: ‘Goed, jy het my rondbeveel, nou gaan ek lelike goed van jou agter jou rug sê.’ ”
Die Twilight-ster het ook onthul dat hy nie op hoërskool baie gewild was nie. Hy het verduidelik: “Ek was nooit deel van die koel groepie nie. My klein groepie vriende, wat steeds my klein groepie vriende is, was kunstenaars. Ons is nooit na die koel partytjies genooi nie, en as dit gebeur het, het ons net op ons eie in ’n hoekie gestaan.”