Deur Mari-Louis Guy
Ek het ’n spogvriendin, die kosskrywer Sam Woulidge, wat die lewe met albei hande pak en nooit haar emosies wegsteek nie. Ons deel natuurlik ’n groot liefde vir alles wat met koek en kos, kuns en goeie boeke te doen het. Ons albei het ook saam die taai draai na moederskap geloop deur uiteindelik aan te neem. Dus huil ons erg maklik saam oor daai verdriet wat ’n mens nie kan verwoord nie, en dan huil ons weer saam oor die tamaaie dankbaarheid dat ons wel aan die einde met pragtige kinders geseën is.
Ons lag ook diep en borrelend saam, want tussen al die daaglikse terugslae deur kan ’n mens jou net uit ’n hoek giggel. Sam leef soos ander mense net van kan droom, met hope styl en passie. Haar onthale is epies en geen mens wil ’n partytjie by haar huis misloop nie.
Dié naweek het ons weer so gemaak met die tweede verjaardag van haar pragtige seun. Dié keer het sy al die gebak en versnaperinge vir die partytjie uit van my en boet Callie se kookboeke berei. Wat ’n eer en voorreg.
Met al die pret van gisteraand se kinderpartytjie-episode en Sam se superstylvolle onthaal nog vars in my geheue, sit ek nou en dink wat in die wêreld ek vir my prinses Sophia se verjaardagaffêre in Mei gaan prakseer. Ek sal moet uithaal en wys!
Gaan loer gerus hier wat ek verlede jaar met my middelkind se verjaardagpartytjie gedoen het.
Verjaar-basaar
Episode 7 van Koekedoor was so soet en prettig soos ’n kinderpartytjie en dis baie duidelik dat al die deelnemers nou al vergeet het dat ’n kamera elke roering afneem. Die snaakse sêgoed van dié episode sal SA nog lank aan die giggel hou. Ongelukkig het ons die magtige Murray verloor toe koning Rosekrans hom uit Blommeland geskop het weens sy Liewe Heksie-koek.
Gerda was ons waardige wenner en hier is haar terugvoer.

Fyngebak Ystervarkies was een van die snoepsoetgoed wat my ma altyd male sonder tal opgetower het. Ek kan nog die ryk sjokoladesous ruik en die taai vingers en die besmeerde plastieksak waarin dit in klapper gerol is, voel. Ek het al so ’n keer of wat self die resep met sukses getoets.
Hierdie ystervarkies van Mari-Louis was natuurlik ’n ystervarkie van ’n ander kleur . . . Ek het met ’n benoude gevoel die twee ander geure se stroop gemaak. Dit was taamlik maklik om die koek daarin te doop en met klapper te bedek. Ek hou nie daarvan om sommer met die hande in te klim nie – vuil hande staan my glad nie aan nie – en my antwoord was om dit met ’n vurk in die stroop te dompel en in die klapper te rol. Ek het ’n slag of wat om my gekyk en gesien hoe menige vinger vol stroop die klapper aandurf. Ek was tevrede met my poging.
Pronkgebak: Ons moes ’n TV-karakter-verjaardagkoek bak en ek het vir Tjiff en Tjaff getrek. My hart het in my keel gaan sit, want wie of wat is dié karaktertjies? My jongste, Stefan, is 28 en kyk nie meer kinderprogramme nie. . . Die ander bekommernis was die fondantwerk, wat vir my heeltemal onbekend was. Wel, soos die Engelse sê: in vir ’n pennie, in vir ’n pond en ek het die uitdaging na die beste van my vermoë aangepak.
Ek hou daarvan om driedimensionele tonele te bou. Hoe verder ek gegaan het, hoe minder het ek my gekwel. Ek het heerlik met versiersuiker, lekkers en fondant-argitektuur gespeel. Tjiff en Tjaff was nie presiese replikas nie, maar hulle het my soveel pret verskaf. Sommer daar en dan is die verjaardagkoek met sy twee mannetjies aan Villiers en Michael opgedra.
Mari-Louis Guy is ’n kosstilis en skrywer van Koeke ter Viering van Liefde en Lewe, Cakebread Pudding & Pie, Love&Food – The Market Book, Markdag en Onthaal op Groot Skaal.
Volg haar gerus op die volgende media
- Web
- Twitter: @marilouisguy en @cakebreadCT