Andrew Graaf, hoof van die Hoërskool Alexandra in Pietermaritzburg, was nog altyd lief vir die onderwys. Sy passie is so aansteeklik dat hy sy personeel en leerders elke dag inspireer. Ons het met dié merkwaardige man gesels.
Hoe lank is jy al by die skool en hoe lank is jy al hoof?
Ek was van 1976 tot 1980 ’n leerder hier en het toe in 1998 as adjunkhoof teruggekeer en in 2008 hoof geword.
Waar kom jou liefde en passie vir die onderwys vandaan?
Eintlik wou ek ’n akteur geword het. Ek het besef die onderwys betaal (effens!) beter en dat ek ses periodes per dag voor ’n gehoor kon optree.
Vertel asseblief vir ons van by ’n waterval afspring, in ’n dwelmhuis na ’n kind gaan soek en inhloko eet. Dit is van die goed wat jou personeel genoem het as uitsonderlik van jou. Hoekom doen jy dit? Wat probeer jy aan jou leerders oordra?
Ek het op ’n leierskapskamp by ’n waterval afgespring om te bewys ek kan my vrees vir hoogtes oorwin. Ek het so baie daarvan gehou dat ek teruggegaan het en saam met van die vreesbevange meisies gespring het.
’n Leerder wat ek probeer help het, het van die skool gedros en leerders het vir my gesê waar hulle dink hy is. Ek het na die onderdorp gegaan en hom gekry in wat ek gehoor het ’n dwelmhuis was.
Laastens, oor die inhloko, wat ’n tradisionele Zoeloe-gereg is. Ek het allerhande soorte interessante kosse by verskeie kulturele seremonies beproef. Inhloko (het ek agterna gehoor) behels ’n skaap se kop en brein! Daar is ’n eerste keer vir alles.
Wat inspireer jou elke dag?
Die feit dat ek ’n lewe kan aanraak en dit ’n bietjie beter maak. Ons wêreld is so gebroke.
Onderwysers word dikwels ontmoedig wanneer hulle al die uitdagings sien wat voorlê. Hoe inspireer jy jou personeel wanneer hulle ongemotiveerd is? Watter wenke het jy vir ander hoofde?
Ek herinner onderwysers dit berus by ons om jong mense te koester, op te voed en te vorm om die toekomstige burgers van ons land te wees. Ons bou waarlik ’n nasie. Watter ander werk is wonderliker as dit? Elke dag maak ons ’n verskil. Skoolhoofde moet fokus op die goeie en voorstanders van drome en inspirasie wees. Ons moet skokbrekers wees van die negatiewe en aandrywers van positiewe verandering.
Watter wenke het jy vir onderwysers om hul leerders te inspireer?
Minder skree, meer omhels! Laat elke leerder weet jy gee regtig vir hulle om en hulle is in staat tot deugsame, goeie, wonderlike goed.
Deur Roxanne Eastes