Michael Douglas en Catherine Zeta-Jones is glo vir ’n ruk uitmekaar om hul huwelik te oordink.
Die egpaar is April laas saam afgeneem, en het blykbaar ná 13 jaar van getroude lewe besluit om uitmekaar te gaan sodat hulle hul probleme kan verwerk en hopelik hul verhouding kan red.
’n Skakelbeampte vir die akteurs het die gerugte bevestig en in ’n verklaring gesê: “Catherine en Michael is vir ’n rukkie uitmekaar om hul verhouding te evalueer en aan hul huwelik te werk. Daar is geen verdere kommentaar nie.”
Nie Michael of Catherine het al reëlings getref vir ’n egskeidingsaak of om wettiglik uitmekaar te gaan nie.
Michael (68) hou tans vakansie op ’n seiljag aan die kus van Sardinië, terwyl Catherine (43) saam met hul kinders, Dylan (13) en Carys (10), by hul huis in New York is.
Hul huwelik was die afgelope drie jaar aan baie stres onderworpe. Keelkanker is in 2010 by Michael gediagnoseer, maar hy kon dit oorkom. Catherine ly aan bipolêre steuring 2 en moes die afgelope tyd ’n paar keer behandeling kry.