Kaapstad – ’n Ma van drie jong kinders, wat binne net 10 maande sowat R2,2 miljoen van haar werkgewer gesteel het, is Dinsdag agt jaar tronkstraf opgelê.
Landi Theron (26), voorheen ’n assistentrekenmeester by die versekeringsmaatskappy Western Administration Services, het in die hof vir handelsmisdaad in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn.
Sy het skuldig gepleit aan bedrog van R2 231 038 wat tussen Mei 2013 en Maart 2014 gepleeg is.
Die landdros het gesê die bedrog is 58 keer oor ’n tydperk van 10 maande gepleeg en is “fyn beplan”.
Theron se pligte as assistentrekenmeester het behels die betaling van eise aan kliënte, die magtiging van elektroniese oordragte en die betaling van maatskappy- uitgawes.
Die landdros het gesê die bedrog is 58 keer oor ’n tydperk van 10 maande gepleeg en is “fyn beplan”.
In een geval het haar toesighouer agtergekom ’n reuse som is uit die maatskappy se bankrekening na haar rekening oorgeplaas.
Die toesighouer het haar verduideliking aanvaar dat dit ’n fout was en haar gewaarsku.
Daaroor het die landdros gesê: “Jy het lig daarvan afgekom; al wat jy gekry het, was ’n waarskuwing.”
Theron is eindelik uitgevang tydens ’n oudit in 2014.
Die aanklaer Derek Vogel het gesê haar werkwyse was om betalings aan haarself op die internetbankselsel te laai en dan betalings aan haarself goed te keur.
Ná die selfgoedkeurings het sy die betalingsinskrywings aan haarself op die internet uitgevee en dit ook op die maandelikse bankstate uitgewis.
Sabrina het gesê die verduistering het die maatskappy swaar getref en die personeel wat Theron as rekenmeester vertrou het, was verslae toe hulle hoor wat gebeur het.
“Nadat die verduistering oopgevlek is, het die personeel niemand meer vertrou nie, en mekaar met agterdog bejeën,” het sy gesê.
Die landdros het gesê Theron kom in aanmerking vir die minimum vonnis van 15 jaar vir bedrog van meer as R500 000.
Maar sy het beslis daar is beduidende en oortuigende omstandighede wat ’n ligter straf regverdig.
Sy is ’n primêre versorger van drie jong seuns, ’n eerste oortreder en het van die geld terugbetaal.
Die landdros het gesê van die verduisterde geld is aan ’n duur motor vir haar man bestee.
Toe haar familie vra waar sy die geld kry, het sy hulle verseker sy het dit met haar salaris gekoop en alles is eerlik.
Die landdros het bygevoeg: “Hiervoor sou jy ’n salaris van R70 000 nodig gehad het, nie ’n skamele R8 000.”
Sy het bygevoeg: “Theron het agter haar rekenaar by die werk gesit en herhaaldelik groot bedrae uit die maatskappy se bankrekening na haar eie oorgeplaas.
“Jy het dit amper daagliks gedoen, 10 maande lank, want dit was maklik en jy het gedink jy sal daarmee wegkom.”
Sy het gesê Theron se verdedigingsprokureur, Joe Weber, se voorstel van korrektiewe toesig – wat behels dat sy ná net 10 maande vrygelaat en in huisarres geplaas word – is te toegeeflik.
News24