Deur Mari-Louis Guy
As tiener was ek obsessief oor die doen en late van die Monaco-koninklikes, die Grimaldi’s. Dit blyk toe ons skoolhoof was ewe betotteld want met prinses Grace se afsterwe moes ons ’n minuut van stilte by die skool handhaaf. Verskriklik vreemd as jy dink hoeveel myle ver ons Weskusdorpie van die glans van Monte Carlo af was . . .
Die tema van ons huishoudkunde-taak in standerd 9 (vandag gr. 11) was “high tea”. Daarvoor stel ek myself toe aan as die burgemeester van Vredendal en in my amptelike hoedanigheid nooi ek vir prinses Caroline as my gas.
My ma wou gewoonlik nie met ons take help nie (die werk moes mos ons eie wees), maar kyk, as jou dogter koninklikes onthaal moet jy darem uithaal en wys. So gaan oortuig sy toe die regte egte burgemeester om sy ketting vir my te leen om op my tafel te gebruik. Die res van die tafel is met Royal Blue en ma se fynste teegerei gedek. Die grootste deel van die spyskaart is lankal vergete, maar ek onthou ek was baie trots op my perfekte éclairs waaraan ek weke lank geoefen het.
Só eg Frans, só oe-lala.
En so kom ons dan by vandeesweek se teepartytjie-gebak. Soos Elizabeth Cloete, my mede-beoordelaar, sê, regte pinkie-in-die-lug-tyd.
Die tuisgebak-ronde het heerlike rolkoeke opgelewer van sjokolade, haselneut, suurlemoen en tradisionele vanielje met interessante vulsels soos fyngekapte groenvyekonfyt en moerbeiroom.
Elizabeth het die deelnemers behoorlik getoets met haar moderne weergawe van ’n flan en die pronkgebak was die Franse juweeltjies petits fours.
Dit was ’n absolute hoogtepunt om Martjie Malan dop te hou terwyl sy flink die een ná die ander perfekte happie skep en sy was dan ook die welverdiende wenner van hierdie rondte.
Mari-Louis Guy is ‘n beoordelaar van kykNET se Koekedoor-werklikheidsreeks, professionele kosstilleerder en resepontwikkelaar. Sy gaan gereeld vir Huisgenoot.com blog oor Koekedoor en so ‘n kykie agter die skerms gee.nner