In Donderdagaand se aflewering van Koekedoor is die derde deelnemer deur die beoordelaarspaneel huistoe gestuur: Caroli Erasmus van Sasolburg moes oppak.
Hoekom het jy vir Koekedoor ingeskryf?
Ek het vir Koekedoor ingeskryf omdat ek lief is vir bak. Verder wou ek sien wat so ‘n kompetisie behels en hoe ek daarin sou vaar.
Wat het jy geleer tydens jou deelname?
Sjoe, ek het soveel lewenservaring opgedoen. Ek het geleer om kreatief en onder druk te dink – en om my eie instink te vertrou. Ek het ook geleer dat mens sommige foute net nie kan regtoor nie! Ek het natuurlik ook baie geleer van wat agter die skerms gebeur op só ‘n stel.
Wat gebak betref het ek geleer hoe om Hertzoggies, Jan Smutsies, brioche, Deensege-bak en petit fours te maak – als vir die eerste keer!
Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms vir jou in?
Koekedoor het beslis my lewe aangeraak. Ek is opnuut geïnspireer om te bak en besef daar sal altyd ‘n groot aanvraag daarna wees – hetsy vir die lekkerte, liefde daarvan of om ‘n spesialiteitsbakker te wees. Ek gaan beslis aanhou bak! Op die oomblik bak ek vir my eie koffiewinkel in Sasolburg en dis ‘n heerlike beroep.
Hoe voel jy oor gisteraand se episode waar jy uitgestem is? Wat het skeef geloop?
Ek is teleurgesteld omdat ek nog so graag wou sien wat in die res van die kompetisie gebeur. Ek is vies vir myself vir ‘n paar swak besluite wat ek geneem het. In die fyngebak-uitdaging het daar net te veel dinge skeef geloop om op te noem!
Wie dink jy is die deelnemers om mee rekening te hou?
Ek dink kykers kan beslis vir Martjie, Murray, of Mareli dophou, en moenie Valerie se vaardighede onderskat nie…
Watter kospersoonlikhede inspireer jou?
Ek word geïnspireer deur enigiemand wie se passie en liefde sigbaar is in die kos of gebak wat hulle maak. Mens kan sien wanneer iemand met trots iets maak. Dit is wat my inspireer. Ek kan nie ‘n enkele kospersoonlikheid uitsonder nie.
Gunsteling koek of tert en hoekom?
Gunsteling koek: moeilike vraag! Waarskynlik wortelkoek, want ek is mal oor ‘n growwer tekstuur vir koek.
Wat verkies jy, soet- of soutgebak?
Soetgebak.
Waar kan mense jou kontak? (Facebook, Twitter, webtuiste?)
Kykers kan vir my op facebook ‘n boodskap stuur as hull wil kontak maak. Of besoek my koffiewinkel – Crispi – in Sasolburg langs die R59-pad.